Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 6

Hoe om vermaak te kies

Hoe om vermaak te kies

“Doen alles tot eer van God.” – 1 KORINTIËRS 10:31.

1, 2. Hoekom moet ons versigtig wees wanneer ons vermaak kies?

SÊ NOU jy wil ’n vrug eet, maar jy sien dat ’n deel daarvan vrot is. Wat sal jy doen? Sal jy dit in elk geval eet? Sal jy dit weggooi? Of sal jy die vrot deel uitsny en die goeie deel eet?

2 Vermaak kan met daardie vrug vergelyk word. ’n Deel daarvan is miskien goed, maar baie daarvan is “vrot” omdat dit onsedelik, gewelddadig of demonies is. Wat sal jy dus doen wanneer jy vermaak kies? Sal jy sê: “Dis my besluit. Ek kan enige vermaak kies wat ek wil”? Of sal jy sê: “Alle vermaak is sleg”? Of kies jy vermaak versigtig sodat jy slegte vermaak kan vermy en goeie vermaak kan geniet?

3. Waaraan moet ons dink wanneer ons vermaak kies?

3 Ons almal het ontspanning en vermaak nodig, en ons wil ons vermaak wyslik kies. Daarom moet ons dink aan hoe ons keuse van vermaak ons aanbidding van Jehovah kan raak.

“DOEN ALLES TOT EER VAN GOD”

4. Hoe kan die beginsel in 1 Korintiërs 10:31 ons help om goeie vermaak te kies?

4 Wanneer ons ons aan Jehovah toewy, belowe ons om ons lewe te gebruik om hom te dien. (Lees Prediker 5:4.) Ons belowe dat ons “alles tot eer van God” sal doen (1 Korintiërs 10:31). Dit beteken dat ons toegewyde knegte van God is, nie net wanneer ons by die vergaderinge of in velddiens is nie, maar ook wanneer ons ontspan of vermaak geniet.

5. Hoe moet ons Jehovah aanbid?

5 Alles wat ons in die lewe doen, het ’n invloed op ons aanbidding van Jehovah. Daarom het Paulus gesê dat ons ‘ons liggame moet aanbied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanvaarbaar is’ (Romeine 12:1). Jesus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Markus 12:30). Ons wil Jehovah altyd ons beste gee. Wanneer mense in eertydse Israel ’n dier aan Jehovah geoffer het, moes hulle ’n gesonde dier offer. As daar iets fout was daarmee, het God dit nie aanvaar nie (Levitikus 22:18-20). Net so kan ons aanbidding onaanvaarbaar word vir Jehovah. Hoe?

6, 7. Watter invloed kan ons vermaak op ons aanbidding hê?

6 Jehovah sê vir ons: “Julle moet heilig wees, want ek is heilig” (1 Petrus 1:14-16; 2 Petrus 3:11). Jehovah sal ons aanbidding slegs aanvaar as dit heilig, of rein, is (Deuteronomium 15:21). Ons aanbidding kan nie rein wees as ons dinge doen wat Jehovah haat, soos dinge wat onsedelik of gewelddadig is of wat te doen het met demonisme nie (Romeine 6:12-14; 8:13). Maar Jehovah sal ook nie daarvan hou as ons vermaak kies wat sulke dinge bevat nie. Dit kan maak dat ons aanbidding onrein en onaanvaarbaar vir Jehovah is, en dit kan ons verhouding met hom ernstig benadeel.

7 Maar hoe kan ons vermaak wyslik kies? Watter beginsels sal ons help om te weet watter vermaak aanvaarbaar is en watter nie?

HAAT WAT SLEG IS

8, 9. Watter soort vermaak moet ons vermy, en hoekom?

8 Vandag is daar baie verskillende vorme van vermaak. Party daarvan is aanvaarbaar vir Christene, maar baie daarvan is nie. Kom ons bespreek eers watter soort vermaak ons moet vermy.

9 Baie flieks, webwerwe, televisieprogramme, videospeletjies en liedjies is vol onsedelikheid, geweld of demonisme. Slegte dinge word dikwels as onskuldig of selfs as snaaks uitgebeeld. Maar Christene verwerp vermaak wat bots met Jehovah se rein standaarde (Handelinge 15:28, 29; 1 Korintiërs 6:9, 10). Wanneer ons sulke vermaak verwerp, wys ons vir Jehovah dat ons haat wat sleg is. – Psalm 34:14; Romeine 12:9.

10. Wat kan gebeur as ons verkeerde vermaak kies?

10 Maar party dink dat daar niks verkeerd is met gewelddadige, onsedelike of demonistiese vermaak nie. Hulle dink: ‘Dit kan mos nie skade doen nie. Ek sal hierdie dinge nooit self doen nie.’ As ons so redeneer, bedrieg ons onsself. Die Bybel sê: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders en is desperaat” (Jeremia 17:9). As ons vermaak geniet wat vir Jehovah onaanvaarbaar is, kan ons mos nie sê dat ons verkeerde dinge haat nie. Hoe meer ons ons blootstel aan sulke dinge, hoe meer sal ons dit as normaal begin beskou. Ons gewete sal mettertyd swakker word en ons nie meer waarsku wanneer ons ’n verkeerde besluit wil neem nie. – Psalm 119:70; 1 Timoteus 4:1, 2.

11. Hoe kan Galasiërs 6:7 ons help om goeie vermaak te kies?

11 God se Woord sê vir ons: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes” (Galasiërs 6:7). As ons vermaak kies wat slegte dinge bevat, sal ons dalk op die ou end daardie dinge begin doen. Onsedelike vermaak het byvoorbeeld so ’n groot invloed op party gehad dat hulle hulle skuldig gemaak het aan onsedelike gedrag. Maar Jehovah gee ons die hulp wat ons nodig het om ons vermaak wyslik te kies.

GEBRUIK BYBELBEGINSELS OM BESLUITE TE NEEM

12. Wat kan ons help om goeie besluite oor vermaak te neem?

12 Daar is vermaak wat beslis vir Jehovah onaanvaarbaar is, en ons weet dat ons dit moet vermy. Maar sê nou dit is nie so duidelik of die vermaak goed of sleg is nie? Jehovah gee ons nie ’n lys reëls wat sê waarna ons mag kyk, waarna ons mag luister of wat ons mag lees nie. Hy wil eerder hê dat ons ons Bybelopgeleide gewete moet gebruik. (Lees Galasiërs 6:5.) Jehovah gee ons beginsels, dit wil sê basiese waarhede wat ons leer hoe hy dinge beskou. Hierdie beginsels help ons om ons gewete op te lei. Dit help ons om te “verstaan wat die wil van Jehovah is” sodat ons besluite kan neem wat hom bly sal maak. – Efesiërs 5:17.

Bybelbeginsels kan ons help wanneer ons vermaak kies

13. (a) Hoekom sal Christene verskillende besluite oor vermaak neem? (b) Wat is vir alle Christene belangrik?

13 Twee Christene gaan nie altyd dieselfde soort vermaak kies nie. Hoekom nie? Wel, ons almal hou van verskillende dinge. En wat vir die een persoon aanvaarbaar is, is dalk nie vir iemand anders aanvaarbaar nie. Maar alle Christene moet Bybelbeginsels gebruik om goeie besluite te neem (Filippense 1:9). Dit sal ons help om vermaak te kies wat vir God aanvaarbaar is. – Psalm 119:11, 129; 1 Petrus 2:16.

14. (a) Hoekom moet ons nadink oor hoe ons ons tyd gebruik? (b) Watter raad het Paulus aan Christene gegee?

14 Ons moet ook dink aan hoeveel tyd ons vir vermaak gebruik. Dit kan wys hoe belangrik vermaak vir ons is. As Christene is ons diens aan Jehovah die belangrikste ding in ons lewe. (Lees Matteus 6:33.) Maar sonder dat ons dit besef, kan ons al hoe meer tyd aan vermaak begin bestee. Paulus het hierdie raad aan Christene gegee: “Let op hoe julle julle gedra, dat dit nie as onwyse persone is nie, maar as wyse persone, en maak die beste gebruik van julle tyd” (Efesiërs 5:15, 16). Daarom moet ons beperk hoeveel tyd ons aan vermaak bestee en altyd seker maak dat ons ons diens aan God eerste in ons lewe stel. – Filippense 1:10.

15. Hoe kan ons ons beskerm teen vermaak wat ons verhouding met Jehovah kan laat verswak?

15 Dit is duidelik dat ons vermaak moet vermy wat ons weet vir Jehovah onaanvaarbaar is. Maar sê nou ons is nie heeltemal seker of iets as aanvaarbare vermaak beskou kan word nie? Moet ons nog steeds versigtig wees? Dink hieraan: Sê nou jy loop hoog teen ’n berg op ’n paadjie. Sal jy kyk hoe naby jy aan die rand kan loop? Nee. As jou lewe vir jou kosbaar is, sal jy ver van gevaar af weg bly. Dit is dieselfde met ons keuse van vermaak. God se Woord sê vir ons: “Bly weg van wat sleg is” (Spreuke 4:25-27). Daarom vermy ons nie net vermaak wat ons weet sleg is nie, maar ons bly ook weg van enige vermaak wat ons dink sleg sal wees vir ons en ons verhouding met Jehovah.

VERKRY JEHOVAH SE BESKOUING

16. (a) Wat is van die dinge wat Jehovah haat? (b) Hoe wys ons dat ons haat wat Jehovah haat?

16 Die psalmis het geskryf: “O julle wat Jehovah liefhet, haat wat sleg is” (Psalm 97:10). Die Bybel leer ons hoe Jehovah dink en voel. Vra jou af hoe die dinge wat jy leer, jou kan help om dinge te beskou soos Jehovah dit beskou. Byvoorbeeld, ons leer dat Jehovah dinge haat soos “’n tong wat leuens vertel en hande wat onskuldige mense doodmaak, ’n hart wat goddelose dinge beplan en voete wat gou is om na slegtheid te hardloop” (Spreuke 6:16-19). Ons leer ook dat ons dinge moet vermy soos “seksuele onsedelikheid, . . . afgodediens, spiritisme, . . . jaloesie, woede-uitbarstings, . . . afguns, dronkenskap, wilde partytjies en soortgelyke dinge” (Galasiërs 5:19-21). Kan jy sien hoe hierdie Bybelbeginsels jou kan help om vermaak te kies? Ons wil Jehovah se standaarde in alle aspekte van ons lewe volg – wanneer ons by ander is sowel as wanneer ons alleen is (2 Korintiërs 3:18). Om die waarheid te sê, die keuses wat ons maak wanneer ons alleen is, wys dikwels watter soort persoon ons werklik is. – Psalm 11:4; 16:8.

17. Watter vrae moet ons ons afvra wanneer ons vermaak kies?

17 Wanneer jy vermaak kies, moet jy jou afvra: ‘Hoe sal my keuse my verhouding met Jehovah raak? Watter uitwerking sal dit op my gewete hê?’ Kom ons kyk na nog ’n paar beginsels wat ons kan help wanneer ons vermaak kies.

18, 19. (a) Watter raad het Paulus aan Christene gegee? (b) Watter beginsels sal ons help om ons vermaak te kies?

18 Wanneer ons vermaak kies, kies ons die dinge waarmee ons ons verstand wil vul. Paulus het geskryf: “Hou aan om te dink aan alles wat waar is, alles wat werklik belangrik is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, alles wat goed is en alles wat prysenswaardig is” (Filippense 4:8). As ons ons verstand met sulke goeie dinge vul, sal ons kan sê: “Mag die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam wees vir u, o Jehovah.” – Psalm 19:14.

19 Vra jou af: ‘Waarmee vul ek my verstand? Waaraan dink ek nadat ek na ’n fliek of televisieprogram gekyk het? Dink ek aan goeie, opbouende dinge? Het ek innerlike vrede en ’n goeie gewete? (Efesiërs 5:5; 1 Timoteus 1:5, 19). Voel ek dat ek vryelik tot Jehovah kan bid? Of voel ek sleg? Het die vermaak my aan gewelddadige of onsedelike dinge laat dink? (Matteus 12:33; Markus 7:20-23). Is die vermaak wat ek kies, besig om my te vorm om soos hierdie wêreld te wees?’ (Romeine 12:2). As ons hierdie vrae eerlik beantwoord, kan dit ons help om te sien of ons veranderinge moet maak sodat ons ons verhouding met Jehovah sterk kan hou. Ons wil soos die psalmis bid: “Help my om nie na waardelose dinge te kyk nie.” *Psalm 119:37.

ONS BESLUITE RAAK ANDER

20, 21. Hoekom moet ons ander se gevoelens in ag neem wanneer ons vermaak kies?

20 In 1 Korintiërs 10:23, 24 vind ons nog ’n belangrike beginsel wat ons in gedagte moet hou: “Alles is toelaatbaar, maar nie alles bou op nie. Laat elkeen nie sy eie voordeel bly soek nie, maar dié van die ander persoon.” Net omdat ons die reg het om iets te doen, beteken nie dat ons dit moet doen nie. Ons moet mooi nadink oor hoe ons besluite ons broers en susters raak.

21 Elkeen se gewete is anders. Jou gewete laat jou dalk toe om ’n sekere televisieprogram te kyk. Maar wat sal jy doen as jy uitvind dat jou broer of suster se gewete hulle nie toelaat om na daardie program te kyk nie? Al het jy die reg om daarna te kyk, sal jy dalk besluit om dit nie te doen nie. Hoekom nie? Omdat jy nie ‘teen jou broers wil sondig’ nie – en beslis nie ‘teen Christus wil sondig’ nie (1 Korintiërs 8:12). Ons wil niks doen wat ons broers sal laat struikel nie. – Romeine 14:1; 15:1; 1 Korintiërs 10:32.

22. Hoe kan ons wys dat ons ander Christene se keuses respekteer?

22 Sê nou jou gewete laat jou nie toe om na iets te kyk, iets te lees of iets te doen nie, maar iemand anders se gewete laat hom wel toe om dit te doen? Omdat jy jou broer liefhet en respekteer, sal jy nie druk op hom plaas om dieselfde keuses as jy te maak nie. Dink aan iemand wat ’n motor bestuur. Hy weet dat ander vinniger of stadiger as hy kan ry en nog steeds goeie bestuurders kan wees. Net so kan jou beskouing oor watter vermaak aanvaarbaar is, effens anders wees as ’n ander broer se beskouing, al volg julle albei Bybelbeginsels. – Prediker 7:16; Filippense 4:5.

23. Wat sal ons help om ons vermaak wyslik te kies?

23 Wat sal ons dus help om ons vermaak wyslik te kies? As ons ons gewete met behulp van Bybelbeginsels oplei en daarna luister, en as ons werklik omgee vir ons broers en susters, sal ons vermaak wyslik kies. En ons sal gelukkig wees omdat ons “alles tot eer van God” doen.

^ par. 19 In die volgende tekste kan ons nog beginsels vind wat ons kan help om goeie vermaak te kies: Spreuke 3:31; 13:20; Efesiërs 5:3, 4 en Kolossense 3:5, 8, 20.