Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 3

Kies vriende wat vir God lief is

Kies vriende wat vir God lief is

“Die een wat met wyse persone assosieer, sal wys word.” – SPREUKE 13:20.

1-3. (a) Wat leer ons uit Spreuke 13:20? (b) Hoekom moet ons ons vriende versigtig kies?

HET jy al gesien hoe ’n baba sy ouers dophou? Nog voordat hy kan praat, neem hy alles in wat hy sien en hoor. Wanneer hy ouer word, begin hy sy ouers naboots sonder dat hy dit besef. Dit is dus nie verbasend as volwassenes ook begin dink en optree soos die mense met wie hulle baie tyd spandeer nie.

2 Spreuke 13:20 sê vir ons: “Die een wat met wyse persone assosieer, sal wys word.” As jy met iemand assosieer, spandeer jy tyd met hom. In hierdie vers sluit dit die idee in dat jy graag met die persoon wil assosieer omdat jy van hom hou en geheg is aan hom. Die mense met wie ons baie tyd spandeer, het die grootste invloed op ons, veral as ons geheg is aan hulle.

3 Ons vriende kan ’n goeie of ’n slegte invloed op ons hê. Spreuke 13:20 sê verder: “Dit sal sleg gaan met die een wat met dwase te doen het.” Die Hebreeuse woord wat hier vertaal word met “te doen het”, kan op vriendskap dui en kan ook met “assosieer” vertaal word (Spreuke 22:24). Vriende wat vir God lief is, sal ons aanmoedig om getrou aan hom te bly. Om ons te help om goeie vriende te kies, gaan ons eers bespreek watter soort mense Jehovah as sy vriende kies.

WIE IS GOD SE VRIENDE?

4. (a) Hoekom is dit ’n groot voorreg om God se vriend te wees? (b) Hoekom het Jehovah Abraham “my vriend” genoem?

4 Jehovah, die belangrikste Persoon in die heelal, gee ons die geleentheid om sy vriende te wees. Dit is ’n groot voorreg. Jehovah kies sy vriende versigtig. Hy kies mense wat hom liefhet en geloof in hom stel. Dink aan Abraham. Hy was bereid om enigiets te doen vir God. Abraham het oor en oor bewys dat hy getrou en gehoorsaam is. Hy was selfs bereid om sy seun Isak te offer. Abraham het die vertroue gehad “dat God hom selfs uit die dood kon opwek” (Hebreërs 11:17-19; Genesis 22:1, 2, 9-13). Abraham was getrou en gehoorsaam, en Jehovah het hom “my vriend” genoem. – Jesaja 41:8; Jakobus 2:21-23.

5. Hoe voel Jehovah oor dié wat lojaal is aan hom?

5 Jehovah beskou sy vriende as kosbaar. En sy vriende beskou lojaliteit aan hom as die belangrikste ding in hulle lewe. (Lees 2 Samuel 22:26.) Hulle is lojaal en gehoorsaam aan Jehovah omdat hulle vir hom lief is. Die Bybel sê dat God ‘’n goeie vriend is van dié wat reg lewe’ (Spreuke 3:32). Jehovah nooi sy vriende om gaste in sy “tent” te wees. Hy nooi hulle om hom te aanbid en om enige tyd tot hom te bid. – Psalm 15:1-5.

6. Hoe kan ons wys dat ons vir Jesus lief is?

6 Jesus het gesê: “As iemand my liefhet, sal hy my woord gehoorsaam, en my Vader sal lief wees vir hom” (Johannes 14:23). As ons Jehovah se vriende wil wees, moet ons dus ook vir Jesus lief wees en doen wat hy ons geleer het. Ons gehoorsaam byvoorbeeld Jesus se bevel om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak (Matteus 28:19, 20; Johannes 14:15, 21). Omdat ons vir Jesus lief is, ‘volg ons sy voetstappe noukeurig’ (1 Petrus 2:21). Dit maak Jehovah bly wanneer hy sien dat ons ons bes doen om sy Seun na te volg in alles wat ons sê en doen.

7. Hoekom moet ons seker maak dat ons vriende Jehovah se vriende is?

7 Jehovah se vriende is getrou, lojaal en gehoorsaam en is lief vir sy Seun. Kies ons dieselfde soort vriende? As jou vriende Jesus navolg en hulle inspan om ander van God se Koninkryk te leer, kan hulle jou help om ’n beter persoon te wees en om lojaal aan Jehovah te bly.

VOORBEELDE VAN GOEIE VRIENDE

8. Wat is vir jou besonders omtrent die vriendskap tussen Rut en Naomi?

8 In die Bybel lees ons van baie vriendskappe, soos die vriendskap tussen Rut en haar skoonma, Naomi. Hulle het uit verskillende lande gekom en verskillende agtergronde gehad, en Naomi was baie ouer as Rut. Maar hulle het goeie vriende geword omdat hulle albei vir Jehovah lief was. Toe Naomi die land Moab wou verlaat om na Israel terug te keer, het ‘Rut by haar gebly’. Rut het vir Naomi gesê: “Ma se volk sal my volk wees, en Ma se God sal my God wees” (Rut 1:14, 16). Rut was baie goed vir Naomi. Nadat hulle in Israel aangekom het, het Rut hard gewerk om Naomi te help. Naomi was baie lief vir Rut en het vir haar goeie raad gegee. Rut het na haar geluister, en dit het tot baie seëninge vir hulle albei gelei. – Rut 3:6.

9. Wat beïndruk jou omtrent die vriendskap tussen Dawid en Jonatan?

9 Dawid en Jonatan is nog ’n voorbeeld van goeie vriende wat albei lojaal was aan Jehovah. Jonatan was omtrent 30 jaar ouer as Dawid en sou die volgende koning van Israel gewees het (1 Samuel 17:33; 31:2; 2 Samuel 5:4). Maar toe hy uitvind dat Jehovah Dawid gekies het om koning te wees, was hy nie jaloers nie en het hy nie gevoel dat Dawid sy posisie vat nie. Jonatan het eerder alles gedoen wat hy kon om Dawid te ondersteun. Toe Dawid in gevaar was, het Jonatan “hom gehelp om sy vertroue in Jehovah te versterk”. Hy het selfs sy lewe vir Dawid gewaag (1 Samuel 23:16, 17). Dawid was ook ’n lojale vriend. Hy het belowe om vir Jonatan se familie te sorg, en hy het daardie belofte gehou selfs nadat Jonatan gesterf het. – 1 Samuel 18:1; 20:15-17, 30-34; 2 Samuel 9:1-7.

10. Wat leer ons oor vriendskap by die drie jong Hebreërs?

10 Sadrag, Mesag en Abednego was drie jong Hebreeuse vriende wat van hulle ouers weggeneem is toe hulle nog kinders was. In Babilon, ver van hulle families, het hulle mekaar gehelp om aan Jehovah getrou te bly. Later, toe hulle volwassenes was, is hulle geloof getoets toe koning Nebukadnesar hulle beveel het om ’n goue beeld te aanbid. Sadrag, Mesag en Abednego het geweier om die beeld te aanbid en het vir die koning gesê: ‘Ons sal nie u gode dien of die goue beeld aanbid wat u opgerig het nie.’ Toe hulle geloof getoets is, het hierdie drie vriende lojaal gebly aan hulle God. – Daniël 1:1-17; 3:12, 16-28.

11. Hoe weet ons dat Paulus en Timoteus goeie vriende was?

11 Toe die apostel Paulus die jong Timoteus ontmoet het, kon hy sien dat Timoteus lief was vir Jehovah en baie vir die gemeente omgegee het. Daarom het Paulus Timoteus opgelei om die broers en susters op verskillende plekke te help (Handelinge 16:1-8; 17:10-14). Timoteus het so hard gewerk dat Paulus gesê het dat Timoteus saam met hom “soos ’n slaaf gedien het om die goeie nuus te bevorder”. Paulus het geweet dat Timoteus ‘opreg sou omsien’ na die broers en susters. Terwyl Paulus en Timoteus hard saam gewerk het in Jehovah se diens, het hulle goeie vriende geword. – Filippense 2:20-22; 1 Korintiërs 4:17.

HOE OM ONS VRIENDE TE KIES

12, 13. (a) Hoekom moet ons ons vriende selfs in die gemeente versigtig kies? (b) Hoekom het die apostel Paulus die waarskuwing in 1 Korintiërs 15:33 gegee?

12 In die gemeente kan ons by ons broers en susters leer en mekaar help om getrou te bly. (Lees Romeine 1:11, 12.) Maar selfs in die gemeente moet ons versigtig wees wie ons as ons vriende kies. Ons het ’n wonderlike verskeidenheid broers en susters uit baie kulture en agtergronde. Party dien Jehovah al jare lank, terwyl ander nuut is in die waarheid. Tyd is nodig om ’n sterk verhouding met Jehovah op te bou, net soos tyd nodig is vir ’n vrug om ryp te word. Daarom moet ons geduldig wees met mekaar en liefde aan mekaar betoon. En ons moet ons vriende altyd versigtig kies. – Romeine 14:1; 15:1; Hebreërs 5:12–6:3.

13 Ons moet veral versigtig wees as ’n ernstige probleem in die gemeente ontstaan. Miskien doen ’n broer of suster dinge wat die Bybel sê verkeerd is. Of miskien het iemand ’n slegte invloed op die gemeente omdat hy die gewoonte het om te kla. Ons weet dat hierdie dinge kan gebeur, want selfs in die tyd van die apostels was daar af en toe probleme in die gemeente. Die apostel Paulus het die Christene in daardie tyd gewaarsku: “Moenie mislei word nie. Slegte assosiasie bederf goeie gewoontes” (1 Korintiërs 15:12, 33). Paulus het Timoteus ook gewaarsku om versigtig te wees oor wie hy as sy goeie vriende kies. Dit geld vandag ook vir ons. – Lees 2 Timoteus 2:20-22.

14. Hoe kan ons vriende ons verhouding met Jehovah beïnvloed?

14 Ons moet ons verhouding met Jehovah beskerm. Dit is ons kosbaarste besitting. Ons wil dus nie goeie vriende wees met iemand wat ons geloof en ons verhouding met Jehovah kan laat verswak nie. Hoekom nie? Want ons is soos sponse. Wanneer jy ’n spons in asyn sit, kan jy nie verwag dat dit water gaan opsuig nie. Net so kan ons nie verwag dat dit vir ons maklik sal wees om die regte dinge te doen as ons vriende het wat verkeerde dinge doen nie. Ons moet ons vriende versigtig kies. – 1 Korintiërs 5:6; 2 Tessalonisense 3:6, 7, 14.

Jy kan goeie vriende vind wat lief is vir Jehovah

15. Wat kan jy doen om goeie vriende in die gemeente te vind?

15 In die gemeente sal jy mense vind wat werklik lief is vir Jehovah. Hulle kan jou goeie vriende word (Psalm 133:1). Moenie net vriende soek in jou eie ouderdomsgroep of wat dieselfde agtergrond as jy het nie. Onthou dat Jonatan baie ouer as Dawid was en dat Rut baie jonger as Naomi was. Ons wil die Bybel se raad volg: “Maak julle harte wyd oop.” (2 Korintiërs 6:13; lees 1 Petrus 2:17.) En as jy Jehovah navolg, sal ander graag jou vriend wil wees.

WANNEER PROBLEME ONTSTAAN

16, 17. Wat moet ons nie doen as iemand in die gemeente ons ontstel nie?

16 Die gemeente is soos ’n familie. Elke broer en suster het sy eie persoonlikheid, opinie en manier om dinge te doen. Hierdie verskille maak die lewe interessant, en ons kan baie by mekaar leer. Maar soms kan die verskille veroorsaak dat ons mekaar verkeerd verstaan en mekaar irriteer. Partykeer sal ons dalk aanstoot neem of seergemaak voel (Spreuke 12:18). Moet ons toelaat dat sulke dinge ons ontmoedig of ons van die gemeente af laat wegbly?

17 Nee. Selfs wanneer iemand ons seermaak, moet ons nie van die gemeente af wegbly nie. Dit is nie Jehovah wat ons seergemaak het nie. Hy het ons die lewe en alle ander dinge gegee. Hy verdien ons liefde en lojaliteit (Openbaring 4:11). Die gemeente is ’n gawe van Jehovah wat ons help om ons geloof sterk te hou (Hebreërs 13:17). Ons moet nooit sy gawe verwerp net omdat iemand ons teleurgestel het nie. – Lees Psalm 119:165.

18. (a) Wat kan ons help om met ons broers en susters oor die weg te kom? (b) Hoekom moet ons ander vergewe?

18 Ons is lief vir ons broers en susters en wil met hulle oor die weg kom. Jehovah verwag nie dat enige mens volmaak moet wees nie, en ons moet ook nie (Spreuke 17:9; 1 Petrus 4:8). Ons almal maak foute, maar liefde sal ons help om aan te hou om “mekaar vryelik te vergewe” (Kolossense 3:13). Liefde sal keer dat ons ’n klein misverstand in ’n groot probleem verander. Wanneer iemand ons ontstel, is dit wel moeilik om nie heeltyd daaraan te dink nie. Dit is so maklik om kwaad te word en om lank kwaad te bly vir daardie persoon. Maar dit sal ons net ongelukkig en verbitterd maak. As ons iemand vergewe wat ons seergemaak het, sal ons innerlike vrede hê en eenheid in die gemeente bevorder. En die belangrikste is dat ons ’n goeie verhouding met Jehovah sal hê. – Matteus 6:14, 15; Lukas 17:3, 4; Romeine 14:19.

WANNEER IEMAND UITGESIT WORD

19. Wanneer moet ons ophou om met iemand in die gemeente te assosieer?

19 In ’n liefdevolle gesin doen elkeen sy deel om die ander gesinslede gelukkig te maak. Maar sê nou ’n seun in die gesin raak opstandig. Die res van die gesin probeer herhaaldelik om hom te help, maar hy wil nie hulle hulp aanvaar nie. Hy besluit dalk om die huis te verlaat, of miskien vra sy pa hom om te gaan. So iets kan ook in die gemeente gebeur. Iemand besluit dalk om aan te hou om dinge te doen waarvan Jehovah nie hou nie en wat skadelik is vir die gemeente. Hy weier om hulp te aanvaar en wys deur sy dade dat hy nie meer deel van die gemeente wil wees nie. Hy besluit dalk om die gemeente te verlaat, of miskien moet hy uitgesit word. As dit gebeur, sê die Bybel duidelik vir ons ‘om op te hou om met hom te assosieer’. (Lees 1 Korintiërs 5:11-13; 2 Johannes 9-11.) Dit kan baie moeilik wees as hy een van ons vriende of ’n familielid is. Maar in so ’n situasie moet ons lojaliteit aan Jehovah vir ons belangriker wees as ons lojaliteit aan enigiemand anders. – Sien Eindnota 8.

20, 21. (a) Hoekom is die uitsettingsreëling ’n bewys van God se liefde? (b) Hoekom is dit belangrik om ons vriende versigtig te kies?

20 Die uitsettingsreëling is ’n liefdevolle voorsiening van Jehovah. Dit beskerm die gemeente teen mense wat geen respek het vir Jehovah se standaarde nie (1 Korintiërs 5:7; Hebreërs 12:15, 16). Dit gee ons ook die geleentheid om te wys dat ons lief is vir Jehovah, vir sy heilige naam en vir sy hoë standaarde (1 Petrus 1:15, 16). En die uitsettingsreëling is ’n bewys van liefde vir die persoon wat nie meer ’n lid van die gemeente is nie. Hierdie streng dissipline kan hom help besef dat wat hy doen, verkeerd is en kan hom motiveer om te verander. Baie van dié wat uitgesit was, het na Jehovah toe teruggekeer en is hartlik in die gemeente terugverwelkom. – Hebreërs 12:11.

21 Soos ons gesien het, het ons vriende ’n invloed op ons. Daarom is dit belangrik dat ons hulle versigtig kies. As ons lief is vir mense vir wie Jehovah lief is, sal ons vriende hê wat ons kan help om vir ewig aan hom getrou te bly.