Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 11

Ná die troudag

Ná die troudag

“Liefde faal nooit nie.” – 1 KORINTIËRS 13:8.

1, 2. Beteken huweliksprobleme dat ’n huwelik misluk het? Verduidelik.

DIE huwelik is ’n gawe van Jehovah. Dit kan ’n persoon gelukkiger maak. Maar elke huwelik sal probleme ondervind. Dit kan soms lyk of die probleme net nie wil ophou nie, en dit kan vir ’n man en vrou voel asof hulle nie meer so na aan mekaar is soos voorheen nie.

2 Ons moenie verbaas wees as ons nou en dan probleme in die huwelik ondervind nie. Maar probleme beteken nie dat ons huwelik misluk het nie. Selfs paartjies wat al baie ernstige probleme ondervind het, het maniere gevind om hulle verhouding te verbeter en hulle huwelik te versterk. Hoe het hulle dit reggekry?

KOM NADER AAN GOD EN AAN MEKAAR

3, 4. Wat kan soms in ’n huwelik gebeur?

3 Die huwelik bring twee verskillende mense bymekaar – elkeen met sy of haar eie smaak, idees en manier van dinge doen. En hulle kom dalk uit verskillende agtergronde of kulture. Dit neem tyd en verg harde werk om mekaar goed te leer ken en te verstaan.

4 Met verloop van tyd kan ’n man en vrou so betrokke raak by hulle eie dinge dat hulle van mekaar begin wegdryf. Dit kan lyk of hulle aparte lewens lei. Wat kan hulle help om nader aan mekaar te kom?

Die Bybel se raad is noodsaaklik as ’n paartjie ’n sukses wil maak van hulle huwelik

5. (a) Wat kan huweliksmaats help om nader aan mekaar te kom? (b) Hoe moet ons die huwelik volgens Hebreërs 13:4 beskou?

5 Jehovah voorsien uitstekende raad wat jou en jou huweliksmaat kan help om nader aan Hom en aan mekaar te kom (Psalm 25:4; Jesaja 48:17, 18). Hy sê vir ons: “Die huwelik moet vir almal eerbaar wees” (Hebreërs 13:4). Iets wat jy as eerbaar beskou, is vir jou kosbaar en waardevol. Jy beskerm dit en waardeer dit. Dit is hoe Jehovah wil hê ons die huwelik moet beskou.

LIEFDE VIR JEHOVAH KAN JOU HUWELIK VERSTERK

6. Wat leer Matteus 19:4-6 ons oor Jehovah se beskouing van die huwelik?

6 Jehovah het die eerste mensepaar in die huwelik bymekaargebring. Sy Seun, Jesus, het gesê: “Het julle nie gelees dat die Een wat mense geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Hy het gesê: ‘Daarom sal ’n man sy pa en sy ma verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Matteus 19:4-6). Van die begin af wou Jehovah hê dat die huwelik ’n permanente reëling moet wees. Hy wou hê dat gesinne na aan mekaar en gelukkig moet wees en die lewe saam moet geniet.

7. Hoe kan ’n man en vrou hulle huwelik versterk?

7 Vandag ondervind getroude paartjies meer stres en druk as ooit tevore. Partykeer is die druk so groot dat hulle dink dat hulle huwelik nie gered kan word nie, en daarom gee hulle moed op. Maar as ons verstaan hoe Jehovah die huwelik beskou, kan dit ons help. – 1 Johannes 5:3.

8, 9. (a) Wanneer moet ons Jehovah se raad oor die huwelik volg? (b) Hoe kan ons wys dat ons huwelik vir ons kosbaar is?

8 Jehovah se raad is altyd goed vir ons. Soos ons gesien het, sê hy vir ons: “Die huwelik moet vir almal eerbaar wees” (Hebreërs 13:4; Prediker 5:4). As ons Jehovah se raad volg, selfs wanneer dit moeilik is, sal ons beslis daarby baat vind. – 1 Tessalonisense 1:3; Hebreërs 6:10.

9 Omdat ons huwelik vir ons kosbaar is, sal ons niks wil doen of sê wat dit kan benadeel nie. Ons wil eerder ons verhouding met ons maat versterk. Hoe kan ons dit doen?

WYS DEUR JOU WOORDE EN DADE DAT JY JOU HUWELIK WAARDEER

10, 11. (a) Watter ernstige probleem is daar in party huwelike? (b) Hoekom is die manier waarop ons met ons huweliksmaat praat, belangrik?

10 ’n Mens kan jou huweliksmaat op verskillende maniere seermaak. Ons weet dat Christene hulle huweliksmaat nooit moet slaan of enigiets moet doen om hulle fisies seer te maak nie. Maar ons kan mekaar ook met ons woorde seermaak. Woorde kan wapens word. Een vrou het gesê: “My man slaan my met woorde. Hy kraak my heeltyd af met aanmerkings soos: ‘Jy is ’n las!’ en ‘Jy is nutteloos!’ Al kan ’n mens nie die wonde sien nie, het sy aanmerkings letsels op my hart gelaat.” Een man het gesê dat sy vrou hom aanhoudend afkraak en uitskel. Hy het gesê: “Ek kan nie eers die goed herhaal wat sy vir my sê nie. Ek kan nie met haar praat nie, en dis waarom ek so laat by die werk bly. Dis baie veiliger as om huis toe te gaan.” Beledigende taal, wat emosionele pyn veroorsaak, is vandag iets algemeens.

11 Wanneer huweliksmaats mekaar met hulle woorde seermaak, veroorsaak dit emosionele wonde wat lank vat om te genees. Jehovah wil nie hê dat ’n man en vrou so met mekaar moet praat nie. Maar ’n mens kan jou maat seermaak sonder dat jy dit eens besef. Jy dink dalk dat jy jou maat goed behandel, maar hoe voel jou maat? Sal jy bereid wees om te verander as jy besef dat jy jou maat met jou woorde seermaak? – Galasiërs 5:15; lees Efesiërs 4:31.

12. Wat kan ’n getroude persoon se verhouding met Jehovah negatief beïnvloed?

12 Die manier waarop jy met jou maat praat, in die openbaar of privaat, maak vir Jehovah saak. (Lees 1 Petrus 3:7.) Jakobus 1:26 sê vir ons: “As enigiemand dink dat hy ’n aanbidder van God is, maar nie sy tong beheer nie, bedrieg hy sy eie hart en is sy aanbidding verniet.”

13. Wat is nog ’n manier waarop iemand sy huweliksmaat dalk kan seermaak?

13 Huweliksmaats moet mekaar se gevoelens ook in ander opsigte in ag neem. Byvoorbeeld, hoe sal jou huweliksmaat voel as jy te veel tyd met iemand anders begin spandeer? Dit kan wees dat julle velddiens saam doen of dat jy daardie persoon met ’n probleem help. Jy doen dit dalk heel onskuldig, maar hoe voel jou maat daaroor? ’n Christenvrou het gesê: “Dit maak my seer as ek sien dat my man baie tyd en aandag aan ’n ander suster in die gemeente gee. Dit laat my minderwaardig voel.”

14. (a) Wat leer ons in Genesis 2:24 oor die huwelik? (b) Wat moet ons ons afvra?

14 As Christene het ons ’n verantwoordelikheid teenoor ons ouers en die broers en susters in ons gemeente. Maar wanneer ons trou, is ons vernaamste verantwoordelikheid teenoor ons huweliksmaat. Jehovah het gesê: “’n Man . . . sal sy vrou aankleef” (Genesis 2:24). Ons maat se gevoelens moet vir ons baie belangrik wees. Vra jou af: ‘Gee ek my maat die tyd, aandag en liefde wat hy of sy nodig het en verdien?’

15. Hoekom moet getroude Christene nie te geheg raak aan iemand wat nie hulle huweliksmaat is nie?

15 As ’n mens te geheg raak aan iemand wat nie jou huweliksmaat is nie, sal dit spanning in jou huwelik veroorsaak. Jy kan emosioneel geheg raak aan die persoon en romantiese gevoelens vir hom of haar ontwikkel (Matteus 5:28). Hierdie gevoelens kan sterker word en veroorsaak dat jy iets doen wat oneer oor jou huwelik bring.

“DIE HUWELIKSBED MOET REIN BLY”

16. Watter bevel gee die Bybel oor die huwelik?

16 Die Bybel sê: “Die huwelik moet vir almal eerbaar wees”, en daarna sê dit: “Die huweliksbed moet rein bly, want God sal seksueel onsedelike mense en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Hier verwys “die huweliksbed” na die seksuele verhouding tussen ’n getroude man en vrou (Spreuke 5:18). Hoe kan ons wys dat ons respek het vir hierdie verhouding en dit rein hou?

17. (a) Watter beskouing het baie mense vandag van egbreuk? (b) Hoe moet Christene egbreuk beskou?

17 Vandag dink party mense dat daar niks daarmee fout is om ontrou aan hulle maat te wees nie. Ons kan nie toelaat dat hierdie gesindheid ons beïnvloed nie. Jehovah maak dit baie duidelik dat hy seksuele onsedelikheid en egbreuk haat. (Lees Romeine 12:9; Hebreërs 10:31; 12:29.) As ons seks het met iemand met wie ons nie getroud is nie, sal ons huweliksbed onrein wees. Dit sal wys dat ons nie respek het vir Jehovah se standaarde nie, en dit sal ons verhouding met hom benadeel. Daarom moet ons niks doen wat tot egbreuk kan lei nie. Dit sluit in dat ons nie ongepaste gedagtes oor iemand anders moet hê nie. – Job 31:1.

18. (a) In watter sin is egbreuk soos afgodediens? (b) Hoe beskou Jehovah egbreuk?

18 Onder die Wet van Moses was egbreuk ’n baie ernstige sonde – net so ernstig soos afgodediens. Die straf vir al twee sondes was die dood (Levitikus 20:2, 10). In watter sin was egbreuk soos afgodediens? As ’n Israeliet valse gode aanbid het, het hy sy belofte verbreek om getrou aan Jehovah te wees. As hy egbreuk gepleeg het, het hy sy belofte verbreek om getrou aan sy maat te wees. (Eksodus 19:5, 6; Deuteronomium 5:9; lees Maleagi 2:14.) Dit is duidelik dat Jehovah egbreuk as ’n baie ernstige sonde beskou het.

19. Wat kan ons help om vasbeslote te wees om nie egbreuk te pleeg nie?

19 Wat van vandag? Al is ons nie meer onder die Wet van Moses nie, het Jehovah se beskouing van egbreuk nie verander nie. Ons sal nooit ’n valse god aanbid nie. En net so moet ons nooit ontrou aan ons huweliksmaat wees nie (Psalm 51:1, 4; Kolossense 3:5). As ons dit sou doen, sou ons oneer bring oor ons huwelik en ons God, Jehovah. – Sien Eindnota 26.

HOE OM JOU HUWELIK TE VERSTERK

20. Hoe kan wysheid ’n huwelik versterk?

20 Hoe kan jy jou huwelik versterk? God se Woord sê: “Deur wysheid word ’n huis opgebou, en deur insig sal dit vasstaan” (Spreuke 24:3). ’n Huis kan koud en leeg wees, of warm, gemaklik en veilig. Dit is ook die geval met ’n huwelik. ’n Wyse persoon sal seker maak dat sy of haar huweliksmaat veilig en gelukkig voel in die huwelik.

21. Hoe kan kennis ’n huwelik versterk?

21 Die Bybel sê verder: “Deur kennis word die kamers gevul met allerhande mooi en kosbare skatte” (Spreuke 24:4). Die dinge wat jy uit God se Woord leer, kan jou huwelik verbeter (Romeine 12:2; Filippense 1:9). Wanneer huweliksmaats die Bybel en ons publikasies saam lees, moet hulle bespreek hoe hulle kan toepas wat hulle leer. Hulle moet na maniere soek om liefde en respek aan mekaar te betoon en om bedagsaam teenoor mekaar te wees. Vra Jehovah om jou te help om eienskappe te ontwikkel wat jou huwelik sal versterk en wat sal maak dat jou maat liewer sal word vir jou. – Spreuke 15:16, 17; 1 Petrus 1:7.

Laat Jehovah julle lei gedurende julle gesinsaanbidding

22. Hoekom moet ons ons huweliksmaat met liefde en respek behandel?

22 Ons moet alles doen wat ons kan om ons maat met liefde en respek te behandel. Dan sal ons huwelik gelukkiger en sterker word. En die belangrikste is dat ons Jehovah gelukkig sal maak. – Psalm 147:11; Romeine 12:10.