Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 16

Staan die Duiwel teë

Staan die Duiwel teë

“Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.” – JAKOBUS 4:7.

1, 2. Wat moet ons omtrent Satan en die demone weet?

DIE lewe in Jehovah se nuwe wêreld sal wonderlik wees. Ons sal uiteindelik lewe soos God wou hê ons moes lewe. Maar ons lewe nou in ’n wêreld wat deur Satan en sy demone beheer word (2 Korintiërs 4:4). Al kan ons hulle nie sien nie, bestaan hulle werklik en is hulle baie magtig.

2 In hierdie hoofstuk gaan ons bespreek hoe ons na aan Jehovah kan bly en ons teen Satan kan beskerm. Jehovah belowe dat hy ons sal help. Maar ons moet weet watter metodes Satan en die demone gebruik om ons te mislei en aan te val.

“SOOS ’N BRULLENDE LEEU”

3. Wat wil die Duiwel doen?

3 Satan beweer dat mense Jehovah weens selfsugtige redes dien en dat ons sal ophou om Hom te dien as dinge te moeilik raak. (Lees Job 2:4, 5.) Wanneer Satan en die demone sien dat iemand van Jehovah wil leer, probeer hulle hom keer. Hulle is kwaad wanneer ’n persoon hom aan Jehovah toewy en gedoop word. Die Bybel vergelyk die Duiwel met ‘’n brullende leeu wat op soek is na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8). Satan wil ons verhouding met Jehovah vernietig. – Psalm 7:1, 2; 2 Timoteus 3:12.

Satan is kwaad wanneer ons ons aan Jehovah toewy

4, 5. (a) Wat kan Satan nie doen nie? (b) Wat beteken dit om ‘die Duiwel teë te staan’?

4 Maar ons hoef nie vir Satan en sy demone bang te wees nie. Jehovah het beperk wat hulle aan ons kan doen. Jehovah belowe dat “’n groot menigte” ware Christene “die groot verdrukking” sal oorleef (Openbaring 7:9, 14). Daar is niks wat die Duiwel kan doen om dit te keer nie, want Jehovah beskerm Sy volk.

5 As ons na aan Jehovah bly, kan Satan nie ons verhouding met Hom vernietig nie. God se Woord verseker ons: “Jehovah is aan julle kant solank julle aan sy kant bly.” (2 Kronieke 15:2; lees 1 Korintiërs 10:13.) Baie getroue manne en vroue van ouds, soos Abel, Henog, Noag, Sara en Moses, het die Duiwel teëgestaan deur na aan Jehovah te bly (Hebreërs 11:4-40). Ons kan dieselfde doen. God se Woord belowe: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.” – Jakobus 4:7.

‘ONS HET ’N STRYD’

6. Hoe val Satan ons aan?

6 Al weet Satan dat Jehovah beperk het wat hy aan ons kan doen, sal hy nog steeds enigiets probeer om ons verhouding met God te laat verswak. Die Duiwel val ons op baie verskillende maniere aan, en hy gebruik al duisende jare lank dieselfde metodes. Wat is party van hierdie metodes?

7. Hoekom val Satan Jehovah se aanbidders aan?

7 Die apostel Johannes het geskryf: “Die hele wêreld is in die mag van die Duiwel” (1 Johannes 5:19). Hierdie goddelose wêreld is onder Satan se beheer, en hy wil Jehovah se volk graag ook onder sy beheer hê (Miga 4:1; Johannes 15:19; Openbaring 12:12, 17). Die Duiwel weet dat hy nie baie tyd oorhet nie, en daarom plaas hy intense druk op elkeen van ons om dislojaal aan God te wees. Soms maak die Duiwel gebruik van direkte aanvalle, maar ander kere is sy aanvalle meer subtiel.

8. Wat moet elke Christen besef?

8 Efesiërs 6:12 sê: “Ons het nie ’n stryd teen vlees en bloed nie, maar teen . . . die bose geesmagte in die hemelse plekke.” Elke Christen voer ’n stryd teen die Duiwel en die demone. Ons moet besef dat elke persoon wat hom aan Jehovah toewy, in hierdie stryd is. In die apostel Paulus se brief aan die Efesiërs het hy Christene drie keer aangespoor om ‘vas te staan’. – Efesiërs 6:11, 13, 14.

9. Wat probeer Satan en die demone doen?

9 Satan en die demone gebruik verskillende strikke om ons te probeer vang. Net omdat ons nie in een strik getrap het nie, beteken nie dat ons nie in ’n ander strik kan trap nie. Die Duiwel probeer uitvind wat ons swakhede is sodat hy die regte strik kan kies om ons te vang. Maar ons hoef nie gevang te word nie, want die Bybel waarsku ons teen Satan se strikke. (2 Korintiërs 2:11; sien Eindnota 31.) Een van sy strikke is demonisme.

BLY VER WEG VAN DIE DEMONE AF

10. (a) Wat is demonisme? (b) Hoe beskou Jehovah demonisme?

10 Demonisme verwys na kontak met die demone, en dit sluit bonatuurlike dinge in soos fortuinvertellery, towery en pogings om met die dooies te praat. Die Bybel sê vir ons dat demonisme “afskuwelik” is en dat ons nie by demonisme betrokke kan wees en Jehovah terselfdertyd kan aanbid nie (Deuteronomium 18:10-12; Openbaring 21:8). Christene moet alle vorme van demonisme heeltemal vermy. – Romeine 12:9.

11. Hoekom is nuuskierigheid oor bonatuurlike dinge gevaarlik?

11 Satan weet dat hy ons maklik by demonisme betrokke kan kry as ons nuuskierig is oor bonatuurlike dinge. Enige vorm van demonisme kan ons verhouding met Jehovah vernietig.

SATAN PROBEER ONS MISLEI

12. Hoe wil Satan ons denke beïnvloed?

12 Satan probeer om mense te verwar. Hy laat twyfelgedagtes by mense ontstaan sodat hulle uiteindelik dink dat “goed sleg is en sleg goed” is (Jesaja 5:20). Die Duiwel wil hê dat ons moet glo dat die Bybel se raad nie werk nie en dat ons gelukkiger sal wees as ons God se standaarde ignoreer.

13. Hoe het Satan al probeer om twyfelgedagtes by mense te laat ontstaan?

13 Om twyfelgedagtes te laat ontstaan, is een van Satan se suksesvolste metodes. Hy gebruik dit al baie lank. In die tuin van Eden het hy probeer om twyfelgedagtes by Eva te laat ontstaan deur te vra: “Het God werklik gesê dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” (Genesis 3:1). Later, in Job se tyd, het Satan Jehovah voor die engele gevra: “Het Job nie goeie rede om God te vrees nie?” (Job 1:9). En ná Jesus se doop het Satan hom uitgedaag deur te sê: “As jy ’n seun van God is, sê vir hierdie klippe om brode te word.” – Matteus 4:3.

14. Hoe kry Satan mense om te glo dat demonisme onskadelik is?

14 Vandag laat die Duiwel nog steeds twyfelgedagtes by mense ontstaan. Hy wil hê dat mense moet dink dat demonisme nie so sleg is nie. Hy doen dit deur sekere vorme van demonisme onskuldig te laat lyk. Selfs party Christene sien nie meer die gevaar daarvan nie (2 Korintiërs 11:3). Wat kan ons doen om ons te beskerm? Hoe kan ons voorkom dat ons in Satan se strikke trap? Kom ons kyk na twee dinge wat kan veroorsaak dat ons in die strik van demonisme trap: vermaak en mediese behandeling.

SATAN GEBRUIK ONS NATUURLIKE BEGEERTES TEEN ONS

15. Hoe kan vermaak veroorsaak dat ons by die demone betrokke raak?

15 Vandag kom demonisme, towery en bonatuurlike dinge dikwels voor in flieks, video’s, TV-programme, videospeletjies en op die Internet. Baie dink dat dit net onskuldige pret is, en hulle besef nie dat dit gevaarlik is om die demone in hulle lewe toe te laat nie. ’n Persoon kan ook betrokke raak by demonisme deur middel van dinge soos sterrevoorspellings, palmlesery, tarotkaarte en kristalballe. Die Duiwel probeer om die gevare daarvan weg te steek deur sulke dinge geheimsinnig, fassinerend en opwindend te laat lyk. ’n Persoon dink dalk dat dit onskadelik is om iets te kyk wat demonisme of bonatuurlike dinge bevat, so lank hy nie demonisme beoefen nie. Hoekom is dit gevaarlik om so te dink? – 1 Korintiërs 10:12.

16. Hoekom moet ons vermaak vermy wat bonatuurlike dinge bevat?

16 Satan en die demone kan nie ons gedagtes lees nie. Maar hulle kan sien watter keuses ons vir onsself en ons gesin maak, insluitende ons keuse van vermaak, en so kom hulle agter wat ons begeertes is en hoe ons dink. As ons flieks, musiek of boeke kies wat handel oor spiritistiese mediums, towery, demoonbesetenheid, hekse, vampiere of soortgelyke onderwerpe, sal Satan en die demone weet dat ons nuuskierig is oor hulle. Dan kan hulle ons selfs probeer kry om demonisme te beoefen. – Lees Galasiërs 6:7.

17. Hoe kan Satan ons begeerte om gesond te wees, teen ons gebruik?

17 Satan kan ook ons begeerte om gesond te wees, teen ons gebruik. Vandag het baie mense gesondheidsprobleme. Iemand het miskien al verskillende behandelings probeer, maar sonder sukses (Markus 5:25, 26). Hy kan desperaat word en bereid wees om enigiets te probeer. Maar as Christene moet ons versigtig wees om nie mediese behandeling te kies wat die gebruik van “toorkrag” insluit nie. – Jesaja 1:13.

Vertrou op Jehovah wanneer jy siek is

18. Watter soort mediese behandeling moet ’n Christen vermy?

18 In eertydse Israel het party mense “toorkrag” gebruik. Jehovah het vir hulle gesê: “Wanneer julle julle hande na my toe uitsteek, kyk ek weg. Al bid julle hoe baie, luister ek nie” (Jesaja 1:15). Dink net: Jehovah wou nie eers na hulle gebede luister nie! Ons wil niks doen wat ons verhouding met Jehovah kan laat verswak en wat sal veroorsaak dat hy ons nie help nie, veral wanneer ons siek is nie (Psalm 41:3). Daarom moet ons uitvind of enige behandeling wat ons oorweeg, enigsins verband hou met demonisme of bonatuurlike dinge (Matteus 6:13). As daar ’n moontlikheid is dat dit met sulke dinge te doen het, moet ons dit vermy! – Sien Eindnota 32.

STORIES OOR DEMONE

19. Hoekom is baie mense bang vir die Duiwel?

19 Party mense dink dat die Duiwel en die demone nie werklik bestaan nie, maar ander weet uit persoonlike ondervinding dat hulle werklik bestaan. Baie mense is doodbang vir bose geeste en is vasgevang in bygelowige gebruike. Ander maak mense bang vir die demone deur stories te vertel van die verskriklike dinge wat hulle aan mense doen. Hierdie stories fassineer party mense, en hulle hou daarvan om dit oor te vertel. Sulke stories maak mense dikwels bang vir die Duiwel.

20. Watter stories wil ons nie versprei nie?

20 Dink hieraan: Satan wil hê dat mense vir hom bang moet wees (2 Tessalonisense 2:9, 10). Hy is ’n leuenaar en hy weet hoe om mense wat nuuskierig is oor demonisme, te beïnvloed en hulle dinge te laat glo wat nie noodwendig waar is nie. Sulke mense vertel dalk stories van dinge wat hulle glo hulle gesien en gehoor het. Hoe meer sulke stories oorvertel word, hoe meer word die stories oordryf. Ons wil Satan nie help om mense bang te maak deur sulke stories te versprei nie. – Johannes 8:44; 2 Timoteus 2:16.

21. Oor watter goeie dinge kan ons praat, eerder as om stories oor die demone te vertel?

21 As een van Jehovah se knegte al met die demone te doen gehad het, sal hy nie die storie wil oorvertel nie. Jehovah se knegte hoef nie bang te wees vir enigiets wat die Duiwel en sy demone kan doen nie. Ons moet eerder fokus op Jesus en die krag wat Jehovah hom gegee het (Hebreërs 12:2). Jesus het nie vir sy dissipels allerhande stories oor die demone vertel nie. Hy het gekonsentreer op die Koninkryksboodskap en op “die wonderlike dinge van God”. – Handelinge 2:11; Lukas 8:1; Romeine 1:11, 12.

22. Wat is jy vasbeslote om te doen?

22 Ons moenie vergeet dat Satan ons verhouding met Jehovah wil vernietig nie. Hy sal enigiets probeer om dit reg te kry. Maar ons is bewus van die Duiwel se metodes en is vasbeslote om alle vorme van demonisme te vermy. Ons sal nie vir “die Duiwel ’n geleentheid gee” om ons vasbeslotenheid te verswak nie. (Lees Efesiërs 4:27.) Ja, as ons die Duiwel teëstaan, sal ons sy strikke kan vermy en Jehovah se beskerming geniet. – Efesiërs 6:11.