Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 9

“Vlug vir seksuele onsedelikheid!”

“Vlug vir seksuele onsedelikheid!”

“Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van seksuele onsedelikheid, onreinheid, onbeheerste seksuele begeertes, skadelike begeertes en gierigheid, wat afgodediens is.” – KOLOSSENSE 3:5.

1, 2. Hoe het Bileam Jehovah se volk probeer kwaad aandoen?

’N VISSERMAN gaan na ’n plek waar hy die soort vis kan vang wat hy wil hê. Hy kies die aas en gooi sy lyn in die water. Hy wag geduldig totdat die vis byt. Wanneer hy voel dat hy die vis aan die hoek het, katrol hy sy vangs in.

2 Op ’n soortgelyke manier kan mense ook gevang word. Kyk byvoorbeeld na wat met die Israeliete op die vlaktes van Moab gebeur het net voordat hulle die Beloofde Land bereik het. Die koning van Moab het ’n man met die naam Bileam baie geld belowe as hy Israel sou vervloek. Bileam het uiteindelik ’n manier gevind om die Israeliete te kry om ’n vloek oor hulleself te bring. Hy het net die regte aas gekies. Hy het jong Moabitiese vrouens na die kamp van die Israeliete gestuur om die mans te verlei. – Numeri 22:1-7; 31:15, 16; Openbaring 2:14.

3. Hoe het die Israeliete in Bileam se strik getrap?

3 Het Bileam se lokaas gewerk? Ja. Duisende Israelitiese mans het “seksuele onsedelikheid met die dogters van Moab” gepleeg. Hulle het ook valse gode begin aanbid, insluitende ’n walglike seksgod, die Baäl van Peor. As gevolg hiervan het 24 000 Israeliete hulle lewe verloor net voordat hulle die Beloofde Land sou binnegaan. – Numeri 25:1-9.

4. Hoekom het duisende Israeliete seksuele onsedelikheid gepleeg?

4 Hoekom het soveel Israeliete in Bileam se strik getrap? Hulle het net aan hulle eie selfsugtige begeertes gedink en vergeet van alles wat Jehovah vir hulle gedoen het. Die Israeliete het baie redes gehad om lojaal aan God te wees. Hy het hulle uit slawerny in Egipte bevry, hulle van kos voorsien in die wildernis en hulle veilig tot by die grens van die Beloofde Land gebring (Hebreërs 3:12). Nogtans het hulle seksuele onsedelikheid gepleeg. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons ook nie seksuele onsedelikheid beoefen, soos party van hulle seksuele onsedelikheid beoefen het en . . . gesterf het nie.” – 1 Korintiërs 10:8.

5, 6. Wat kan ons leer uit wat op die vlaktes van Moab gebeur het?

5 Die nuwe wêreld is baie naby. In ’n sekere sin is ons dus soos die Israeliete toe hulle op die grens van die Beloofde Land was (1 Korintiërs 10:11). Die wêreld waarin ons vandag lewe, is selfs meer seksmal as wat die Moabiete was. Hierdie gesindheid kan Jehovah se knegte maklik beïnvloed. Om die waarheid te sê, seksuele onsedelikheid is die lokaas waarmee die Duiwel die meeste sukses het. – Numeri 25:6, 14; 2 Korintiërs 2:11; Judas 4.

6 Vra jou af: ‘Wil ek my selfsugtige begeertes vir ’n kort rukkie bevredig of wil ek eerder vir ewig ’n gelukkige lewe in die nuwe wêreld geniet?’ Is dit nie die moeite werd om Jehovah se bevel te gehoorsaam om te “vlug vir seksuele onsedelikheid” nie? – 1 Korintiërs 6:18.

WAT IS SEKSUELE ONSEDELIKHEID?

7, 8. (a) Wat is seksuele onsedelikheid? (b) Hoekom is dit so ernstig?

7 Baie mense het vandag geen skaamte en geen respek vir God se wette oor seks nie. In die Bybel verwys seksuele onsedelikheid na enige seksuele dade tussen mense wat nie volgens die Bybel se standaarde getroud is nie. Dit sluit seksuele dade in tussen mense van dieselfde geslag, sowel as seks tussen mense en diere. Seksuele dade kan verwys na seksuele omgang, orale seks, anale seks of om op ’n seksuele manier aan ’n ander persoon se geslagsdele te vat. – Sien Eindnota 23.

8 Die Bybel toon duidelik dat iemand wat aanhou om seksuele onsedelikheid te beoefen, nie deel van die gemeente kan bly nie (1 Korintiërs 6:9; Openbaring 22:15). ’n Onsedelike persoon verloor ook sy selfrespek en die vertroue van ander. Onsedelikheid veroorsaak altyd probleme. Dit lei gewoonlik tot ’n skuldige gewete en dikwels tot ongewenste swangerskappe, huweliksprobleme, siektes of selfs die dood. (Lees Galasiërs 6:7, 8.) As ’n persoon die tyd neem om na te dink oor die gevolge van onsedelikheid, sal hy waarskynlik nie onsedelik wil wees nie. Maar wanneer iemand die eerste stap neem wat tot onsedelikheid lei, dink hy gewoonlik net aan die bevrediging van sy eie seksuele begeertes. Daardie eerste stap is dikwels pornografie.

WAARTOE PORNOGRAFIE KAN LEI

9. Hoekom is pornografie gevaarlik?

9 Die doel van pornografie is om seksuele begeertes aan te wakker. Vandag kan pornografie oral gevind word – in tydskrifte, boeke, musiek en televisieprogramme, sowel as op die Internet. Baie dink dat pornografie onskadelik is, maar dit is in werklikheid baie gevaarlik. Dit kan veroorsaak dat iemand aan seks verslaaf raak en verdraaide begeertes ontwikkel. Wanneer ’n persoon by pornografie betrokke raak, kan dit lei tot dinge soos die gewoonte om te masturbeer, huweliksprobleme en selfs egskeiding. – Romeine 1:24-27; Efesiërs 4:19; sien Eindnota 24.

Dit is wys om versigtig te wees wanneer ons die Internet gebruik

10. Hoe kan die beginsel in Jakobus 1:14, 15 ons help om onsedelikheid te vermy?

10 Dit is belangrik om te verstaan wat daartoe kan lei dat ’n persoon by seksuele onsedelikheid betrokke raak. Kyk na die waarskuwing in Jakobus 1:14, 15: “Elkeen word getoets wanneer hy deur sy eie begeerte gelok en verlei word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, lei dit tot sonde, en wanneer die sonde gepleeg is, lei dit tot die dood.” Wanneer verkeerde gedagtes by jou opkom, moet jy dit onmiddellik uit jou gedagtes kry. As jy per ongeluk dinge sien wat seksuele begeertes by jou kan aanwakker, moet jy dadelik wegkyk! Skakel die rekenaar af of verander die kanaal. Moenie toelaat dat verkeerde begeertes in jou hart wortelskiet nie. Anders kan jou verkeerde begeertes so sterk word dat dit vir jou baie moeilik sal wees om dit te beheer. – Lees Matteus 5:29, 30.

11. Hoe kan Jehovah ons help wanneer ons verkeerde gedagtes het?

11 Jehovah ken ons beter as wat ons onsself ken. Hy weet hoe onvolmaak ons is. Maar hy weet ook dat ons die stryd teen slegte begeertes kan wen. Jehovah sê vir ons: “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van seksuele onsedelikheid, onreinheid, onbeheerste seksuele begeertes, skadelike begeertes en gierigheid, wat afgodediens is” (Kolossense 3:5). Dit is nie maklik om hierdie raad toe te pas nie, maar Jehovah is geduldig met ons en hy sal ons help (Psalm 68:19). Een jong broer het vasgevang geraak in die gewoonte om na pornografie te kyk en te masturbeer. Sy skoolvriende het gevoel dat dit normaal is vir tieners om hierdie dinge te doen, maar hy het gesê: “Dit het my gewete ongevoelig laat word, en ek het ’n onsedelike lewe begin lei.” Hy het besef dat hy sy begeertes moet beheer, en met Jehovah se hulp kon hy losbreek van sy verkeerde gewoontes. As jy onsedelike gedagtes het, moet jy Jehovah vra vir “krag wat bo die normale is”, sodat jy jou gedagtes rein kan hou. – 2 Korintiërs 4:7; 1 Korintiërs 9:27.

12. Hoekom moet ons ‘ons hart beskerm’?

12 Salomo het geskryf: “Beskerm jou hart meer as enigiets anders wat jy beskerm, want jou lewe hang af van wat in jou hart is” (Spreuke 4:23). Ons “hart” is die persoon wat ons innerlik is, die persoon wat Jehovah sien. Die dinge waarna ons kyk, het ’n kragtige uitwerking op ons. Die getroue man Job het gesê: “Ek het ’n verbond met my oë gemaak dat ek nooit ongepaste aandag aan ’n jong meisie sal gee nie” (Job 31:1). Soos Job moet ons ons oë en ons gedagtes beheer. En soos die psalmis moet ons bid: “Help my om nie na waardelose dinge te kyk nie.” – Psalm 119:37.

LEER UIT DINA SE ONVERSTANDIGE KEUSE

13. Watter soort vriende het Dina gekies?

13 Ons vriende kan ’n groot invloed op ons hê – ’n goeie of ’n slegte invloed. As jy vriende kies wat God se standaarde volg, kan hulle jou help om dit ook te doen. (Spreuke 13:20; lees 1 Korintiërs 15:33.) Dina se voorbeeld leer ons hoe belangrik dit is om die regte vriende te kies. Sy was Jakob se dogter en het in ’n familie grootgeword wat Jehovah aanbid het. Dina was nie ’n onsedelike persoon nie, maar sy het vriende gemaak met Kanaänitiese meisies wat Jehovah nie aanbid het nie. Die Kanaäniete se beskouing van seks was baie anders as dié van Jehovah se aanbidders, en hulle was bekend vir hulle onsedelikheid (Levitikus 18:6-25). Terwyl Dina by haar vriendinne was, het sy ’n jong Kanaänitiese man met die naam Sigem ontmoet, wat haar aantreklik gevind het. Sigem was “die mees geëerde” jong man in sy familie. Maar hy was nie lief vir Jehovah nie. – Genesis 34:18, 19.

14. Wat het met Dina gebeur?

14 Sigem het gedoen wat vir hom normaal en aanvaarbaar was. Omdat hy Dina aantreklik gevind het, het “hy haar gegryp en haar verkrag”. (Lees Genesis 34:1-4.) Hierdie misdaad het gelei tot ’n aantal gebeure wat tragiese gevolge vir Dina en haar hele familie gehad het. – Genesis 34:7, 25-31; Galasiërs 6:7, 8.

15, 16. Hoe kan ons wys word?

15 Ons hoef nie dieselfde foute as Dina te maak om te besef dat Jehovah se sedelike standaarde goed is vir ons nie. “Die een wat met wyse persone assosieer, sal wys word, maar dit sal sleg gaan met die een wat met dwase te doen het” (Spreuke 13:20). Stel vir jou die doelwit om ten volle te verstaan “wat die goeie weg is”, want dan sal jy onnodige pyn en lyding vermy. – Spreuke 2:6-9; Psalm 1:1-3.

16 Ons kan wys word deur God se Woord te studeer, tot hom te bid voordat ons besluite neem en die goeie raad van die getroue en verstandige slaaf te volg (Matteus 24:45; Jakobus 1:5). Dit is natuurlik maklik om te erken dat ons almal swak en onvolmaak is (Jeremia 17:9). Maar hoe sal jy reageer as iemand vir jou sê dat jy iets doen wat tot seksuele onsedelikheid kan lei? Sal jy jou vererg of sal jy die hulp nederig aanvaar? – 2 Konings 22:18, 19.

17. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe die raad van ’n mede-Christen ons kan help.

17 Dink aan die volgende situasie: By die werk gee ’n man spesiale aandag aan ’n suster en nooi hy haar om saam met hom uit te gaan. Hy is nie ’n aanbidder van Jehovah nie, maar hy lyk na ’n baie gawe en vriendelike man. ’n Ander suster sien hulle saam en probeer haar later waarsku dat dit gevaarlik is om met hom uit te gaan. Hoe sal die eerste suster reageer? Sal sy haar optrede verdedig of sal sy besef dat dit wys is om na die raad te luister? Die suster is waarskynlik lief vir Jehovah en wil doen wat reg is. Maar sê nou sy hou aan om met die man uit te gaan. Sou jy sê dat sy ‘vir seksuele onsedelikheid vlug’ of dat ‘sy op haar eie hart vertrou’? – Spreuke 22:3; 28:26; Matteus 6:13; 26:41.

LEER UIT JOSEF SE VOORBEELD

18, 19. Verduidelik hoe Josef vir onsedelikheid gevlug het.

18 Toe Josef ’n jong man was, was hy ’n slaaf in Egipte. Sy meester se vrou het hom dag ná dag gevra om seks met haar te hê, maar Josef het geweet dat dit verkeerd sou wees. Josef was lief vir Jehovah en wou Sy hart bly maak. Daarom het Josef nooit toegelaat dat die vrou hom verlei nie. Omdat hy ’n slaaf was, kon hy nie net weggaan nie. Eendag het sy meester se vrou hom probeer dwing om seks met haar te hê, maar hy het “buitentoe gevlug”. – Lees Genesis 39:7-12.

19 Dit kon baie anders gewees het as Josef homself toegelaat het om aan onsedelike dinge te dink of as hy oor haar gedagdroom het. Maar Josef se verhouding met Jehovah was vir hom belangriker as enigiets anders. Hy het vir die vrou gesê: “My meester . . . het niks van my teruggehou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek dan so ’n slegte ding doen en in werklikheid teen God sondig?” – Genesis 39:8, 9.

20. Hoe weet ons dat Josef Jehovah se hart bly gemaak het?

20 Al was Josef ver van sy familie af, het hy altyd aan God lojaal gebly, en Jehovah het hom geseën (Genesis 41:39-49). Josef se lojaliteit het Jehovah se hart baie bly gemaak (Spreuke 27:11). Dit kan moeilik wees om onsedelikheid te weerstaan. Maar onthou hierdie woorde: “Julle wat Jehovah liefhet, haat wat sleg is. Hy bewaar die lewe van sy lojales. Hy red hulle uit die hand van die goddeloses.” – Psalm 97:10.

21. Hoe het een jong broer Josef se voorbeeld gevolg?

21 Jehovah se knegte bewys elke dag dat hulle moedig is en dat hulle “haat wat sleg is” en “lief [is] vir wat goed is” (Amos 5:15). Maak nie saak hoe oud jy is nie, jy kan aan Jehovah getrou bly. Byvoorbeeld, ’n jong broer se geloof is by die skool getoets toe ’n meisie hom seks belowe het as hy haar help om ’n wiskundetoets te slaag. Wat het die jong broer gedoen? Hy het Josef se voorbeeld gevolg. Hy sê: “Ek het onmiddellik vir haar nee gesê. Omdat ek aan Jehovah lojaal gebly het, het ek my selfrespek behou.” Om seksuele onsedelikheid “’n kort tydjie te geniet”, lei op die ou end tot pyn en hartseer (Hebreërs 11:25). Gehoorsaamheid aan Jehovah lei altyd tot geluk. – Spreuke 10:22.

LAAT JEHOVAH JOU HELP

22, 23. Hoe kan Jehovah ons help as ons ’n ernstige sonde pleeg?

22 Satan sal seksuele onsedelikheid gebruik om ons te probeer vang. En dit kan baie moeilik wees om die versoeking te weerstaan. Ons almal het seker van tyd tot tyd verkeerde gedagtes (Romeine 7:21-25). Jehovah verstaan dit en “hy hou in gedagte dat ons stof is” (Psalm 103:14). Maar sê nou ’n Christen trap in die strik van onsedelikheid? Is die situasie hopeloos? Nee. As so ’n persoon opreg berou toon, sal Jehovah hom help. God “vergewe vryelik”. – Psalm 86:5; Jakobus 5:16; lees Spreuke 28:13.

23 Jehovah gee ons ook “gawes in die vorm van mense” – liefdevolle ouermanne wat vir ons omgee (Efesiërs 4:8, 12; Jakobus 5:14, 15). Hy het die ouermanne voorsien om ons te help om ons verhouding met hom te herstel. – Spreuke 15:32.

WEES WYS

24, 25. Hoe kan “wysheid” ons help om onsedelikheid te vermy?

24 As ons goeie besluite wil neem, moet ons verstaan hoe Jehovah se wette tot ons voordeel is. Ons wil nie soos die jong man wees wat in Spreuke 7:6-23 beskryf word nie. Hy was “onverstandig”, en daarom het hy in die strik van seksuele onsedelikheid getrap. Om verstandig, of wys, te wees, sluit meer in as om net slim te wees. As ons wys is, probeer ons om God se denke te verstaan, en ons pas dit in ons lewe toe. Hou hierdie wyse woorde in gedagte: “Die een wat wysheid verkry, het homself lief. Die een wat insig as ’n skat bewaar, sal suksesvol wees.” – Spreuke 19:8.

25 Is jy heeltemal oortuig daarvan dat God se standaarde reg is? Glo jy werklik dat dit jou gelukkig sal maak as jy dit volg? (Psalm 19:7-10; Jesaja 48:17, 18). As jy nog nie seker is nie, moet jy dink aan al die goeie dinge wat Jehovah al vir jou gedoen het. “Ondervind en sien self dat Jehovah goed is” (Psalm 34:8). Hoe meer jy dit doen, hoe groter sal jou liefde vir God word. Wees lief vir die dinge waarvoor hy lief is, en haat die dinge wat hy haat. Vul jou gedagtes met goeie dinge – dinge wat waar, regverdig, rein, lieflik en prysenswaardig is (Filippense 4:8, 9). Ons kan soos Josef wees, wat by Jehovah se wysheid baat gevind het. – Jesaja 64:8.

26. Wat sal ons in die volgende twee hoofstukke bespreek?

26 Of jy getroud of ongetroud is, Jehovah wil hê dat jy jou lewe moet geniet en gelukkig moet wees. Die volgende twee hoofstukke bevat inligting wat ons kan help om ’n sukses van die huwelik te maak.