DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK
Aardbewing in Haïti
Groei in die Chinese veld
In 2005 het die takkantoor ’n Chineessprekende Betheliet, Tin Wa Ng, as ’n spesiale pionier aangestel om vir die groot Chinese bevolking in die land te preek. Hy is in die Dominikaanse Republiek gebore en grootgemaak. Sy ouers het van China na Santo Domingo getrek.
Op 1 Januarie 2008 is ’n Mandarynse gemeente in Santo Domingo gestig, en in 2011 is ’n groep in Santiago gevorm. Die 70 verkondigers, insluitende 36 gewone pioniers en etlike hulppioniers, hou elke maand gemiddeld 76 Bybelstudies.
Op soek na Engelssprekende dissipels
Teen 2007 het 27 466 verkondigers in 376 gemeentes aan die bediening deelgeneem, en hulle het 49 795 Bybelstudies gehou. Maar daar was geen gemeente vir die groot Engelssprekende bevolking nie. Daarom het die takkantoor in April 2008 die sendelinge Donald en Jayne Elwell na Santo Domingo gestuur om ’n Engelse groep te vorm. ’n Klein maar geesdriftige groep verkondigers het eers ’n sensus opgeneem om vas te stel waar Engelssprekende mense bly. Toe het hulle die gebied op so ’n manier georganiseer dat hulle ’n deeglike getuienis kon gee.
As gevolg van hierdie pogings het die Engelse groep in Santo Domingo aanhou groei, en in Julie 2009 is ’n gemeente van 39 verkondigers gestig. Soortgelyke stappe is ook in ander dele van die land geneem. Teen November 2011 was daar sewe Engelse gemeentes en een groep in die land.
’n Doofblinde vrou neem haar standpunt vir Jehovah in
Lorys, wat Usher-sindroom het, het as ’n weeskind grootgeword. Sy is doof gebore en het haar sig begin verloor toe sy 16 was. Gedurende die dag kan sy ’n bietjie sien, maar in die nag is sy heeltemal blind. Die enigste manier waarop sy ná sononder kan kommunikeer, is deur middel van tasbare gebaretaal.
’n Spesialepionier-egpaar het Lorys ontmoet toe sy 23 jaar oud was. Sy het destyds saam met ’n dowe man en hulle eenjarige horende dogtertjie gewoon. Lorys het ’n uitnodiging aanvaar om ’n gemeentelike vergadering by te woon en is diep getref deur wat sy geleer het.
Lorys het gou veranderinge in haar lewe aangebring. Toe sy byvoorbeeld uitvind dat dit verkeerd is om saam
met haar metgesel te bly sonder om getroud te wees, het sy met hom gepraat oor die belangrikheid daarvan om hulle verhouding te wettig en verduidelik dat sy vasbeslote is om by die Bybel se sedelike standaarde te bly. Haar uitgesprokenheid het hom verbaas, en hy het ingestem om met haar te trou.Nadat hulle getroud is, het Lorys ’n verkondiger geword, en kort daarna is sy gedoop. Intussen het sy
Amerikaanse Gebaretaal (ASL) geleer danksy haar studie met die Getuies. Sedertdien leer sy haar dogter ASL. En sy leer haar ook die waarheid.’n Verwoestende aardbewing tref Haïti
Dinsdag 12 Januarie 2010 sal nog lank deur die Dominikaners en Haïtiane onthou word. Op daardie dag het ’n katastrofiese aardbewing Haïti getref. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het die takkantoor in die Dominikaanse Republiek onmiddellik gemagtig om geld aan die takkantoor in Haïti te stuur om noodleniging te voorsien. Aangesien dit ’n aansienlike bedrag was, is die Betheldokter, Evan Batista, wat 1,90 meter lank is en 127 kilogram weeg, gekies om die koerier te wees.
Dit was ’n goeie ding dat hulle broer Batista gestuur
het, want toe hy by die grens aankom, is daar vir hom gesê dat daar ’n dringende behoefte aan professionele mediese hulp is. Talle ernstig beseerde aardbewingslagoffers is na die Byeenkomssaal langs die Haïtiaanse takkantoor geneem vir mediese behandeling. Toe die Haïtiaanse broers besef dat die koerier die Betheldokter is, het hulle die takkantoor in die Dominikaanse Republiek gebel en gevra of broer Batista in Haïti kan bly. Natuurlik was die antwoord ja, en so het ’n grootskaalse noodlenigingspoging ten behoewe van ons geestelike broers in Haïti begin—slegs ure ná die aardbewing.Die Aankope-afdeling by die Dominikaanse takkantoor het onmiddellik met hulle gereelde voedselverskaffers in verbinding getree. Gevolglik is meer as 6 800 kilogram rys en bone en ander basiese voedselitems gekoop en op Donderdag 14 Januarie om halfdrie die middag na Haïti gestuur—klaarblyklik die eerste besending van noodlenigingsvoorraad wat die land se grens bereik het. Later daardie selfde dag het nog drie dokters van die Dominikaanse Republiek die sewe uur lange reis na die takkantoor in Haïti aangepak. Hulle het laat die aand daar aangekom, maar in plaas daarvan om na hulle verblyf te gaan, het hulle onmiddellik die beseerdes gaan help en tot middernag gewerk. Teen die volgende dag het nog vier dokters en vier verpleegsters van die Dominikaanse Republiek daar aangekom. Operasies is onder uiters moeilike omstandighede gedoen, in ’n tydelike operasiekamer wat by die Byeenkomssaal ingerig is. In die daaropvolgende week het hierdie 12 meer as 300 beseerde mense behandel.
Elke dag is die ernstigste gevalle na die Dominikaanse Republiek gestuur vir behandeling. Soms het die einste voertuie wat noodlenigingsvoorraad na Haïti gebring
het, die beseerdes inderhaas na verskeie mediese sentrums regoor die Dominikaanse Republiek geneem. Die takkantoor het Pasiëntbesoekgroepe georganiseer om die beseerdes aan te moedig en seker te maak dat hulle die nodige medisyne en voorrade ontvang. Plaaslike gemeentes het kos en verblyf voorsien vir gesinslede wat saam met hulle beseerde geliefdes gekom het.Jehovah se Getuies het meer as 450 000 kilogram geskenkte items versprei, wat 400 000 maaltye ingesluit het
Die onvermoeide en onselfsugtige werk van Jehovah se volk ná hierdie ramp lig die vertroostende woorde in Spreuke 17:17 goed toe: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” Een ondervinding ná die ander toon hoe Jehovah sy lojales deur middel van sy gees en die Christenbroederskap ondersteun, selfs wanneer hulle die dood in die gesig staar. Intensiewe noodlenigingswerk het maande lank voortgeduur. Jehovah se Getuies het meer as 450 000 kilogram geskenkte items versprei, wat 400 000 maaltye ingesluit het. Altesaam 78 broers en susters wat mediese deskundiges is, het uit verskillende wêrelddele gekom en tesame met tallose ander vrywilligers vryelik van hulle tyd en vaardighede gegee. *
^ par. 19 Vir ’n breedvoeriger berig, sien bladsy 14-19 van die Ontwaak! van Desember 2010.