DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK
Hier om te bly
Hulle het die waarheid gevind
Juana Ventura het gedurende die verbod op die predikingswerk begin studeer, en sy is in 1960 in die Ozamarivier gedoop. Eenkeer wou ’n evangeliese prediker in Santo Domingo haar laat opsluit, want hy het gesê dat sy “sy gemeentelede wegneem”. In ’n poging om te bewys dat Jehovah se Getuies leuenaars is en om Juana se geloofwaardigheid af te breek, het die prediker haar genooi om voor sy gemeentelede te verskyn om vrae oor haar nuwe geloof te beantwoord.
“Hy het my drie vrae gevra”, vertel Juana, “‘Waarom stem julle nie? Waarom neem julle nie deel aan oorlog nie? Waarom noem julle julle Jehovah se Getuies?’ Terwyl ek elke vraag uit die Bybel beantwoord het, het al sy gemeentelede die Bybeltekste nageslaan en was hulle verbaas oor wat hulle gelees het. Baie van hulle het besef dat hulle die waarheid gevind het. Die hele groep het begin studeer, en uiteindelik het 25 van hulle hulle aan Jehovah toegewy.” Hierdie dramatiese gebeurtenis het die werk in Santo Domingo ’n groot hupstoot gegee.
Jehovah se Getuies is hier om te bly
Die sluipmoord op Trujillo het ernstige politieke gevolge gehad. Die 1963 Yearbook het gesê: ‘Die strate was vol soldate, en elke dag was daar stakings en baie geweld.’ Ten spyte van die politieke onrus is die predikings- en dissipelmaakwerk voortgesit, en teen die einde van die 1963-diensjaar is ’n hoogtepunt van 1 155 verkondigers bereik.
Toe Nathan Knorr van die wêreldhoofkwartier die Dominikaanse Republiek in 1962 besoek het, het hy gereël dat ’n perseel gekoop word om groter fasiliteite te bou sodat daar na die vinnig toenemende predikingswerk omgesien kan word. ’n Tweeverdiepinggebou en ’n Koninkryksaal is daar opgerig. Op Saterdag 12 Oktober 1963 het Frederick Franz, nog ’n besoeker van die wêreldhoofkwartier, die toewydingstoespraak vir die nuwe takfasiliteite gelewer. Dit was duidelik dat Jehovah se Getuies van plan was om in die Dominikaanse Republiek te bly. Kort ná die toewyding het Harry en Paquita Duffield in die land aangekom, die laaste Getuiesendelinge wat uit Kuba verban is.
Toename ten spyte van ’n revolusie
Op 24 April 1965 is die land deur ’n revolusie ontwrig. In die moeilike dae wat daarop gevolg het, het Jehovah se volk geestelik gefloreer. Teen 1970 was daar 3 378 verkondigers in 63 gemeentes. Meer as die helfte het gedurende die vorige vyf jaar in die organisasie
ingekom. Die 1972 Yearbook het gesê: “Hulle het uit alle agtergronde gekom: Motorwerktuigkundiges, boere, taxibestuurders, rekenmeesters, bouers, timmermanne, regsgeleerdes, tandartse en selfs voormalige politici—almal verenig deur liefde vir die waarheid en liefde vir Jehovah.”