Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Twee-en-twintig mense het die kerk verlaat

Twee-en-twintig mense het die kerk verlaat

GERMAN GOMERA was die tweede jongste van 11 kinders. Ná die dood van sy pa en twee van sy susters het sy ma, Luisa, besluit dat die gesin dorp toe moet trek. Daar het hulle aangesluit by die Mennonitiese Kerk, waaraan Luisa se broers en hulle gesinne behoort het.

“In 1962 het ’n spesialepionier-egpaar in ons dorp aangekom”, vertel German. “Daar is gesê dat hulle die dorpsbewoners se geloof met ‘sataniese leringe’ ondermyn. Maar toe die egpaar by die huis van die Piña-gesin kom, is hulle nogtans ingenooi. Die Piñas was ’n groot gesin. Die pioniers se vriendelikheid het hulle beïndruk, en daarom het hulle aandagtig na hulle aanbieding geluister. As gevolg van hierdie besoek het die Piña-gesin en my drie ouer susters begin studeer.

“Eendag, toe die pioniers die Piña-gesin besoek het, is my ma oorgenooi”, sê German verder. “Hulle het die aandag gevestig op Bybelverse oor die hoop op ewige lewe op die aarde. My ma het gevra: ‘Waarom sê hulle dan in my kerk dat ons hemel toe gaan?’ Nadat die broer haar uit die Bybel geantwoord het en verduidelik het wat dit oor die aardse opstanding sê, het my ma gunstig gereageer en ander begin vertel wat sy geleer het.

“Toe die geestelikes van die Mennonitiese Kerk uitvind dat hulle lidmate saam met Jehovah se Getuies studeer, het hulle hulle probeer oorreed om op te hou. Maar hulle het dit op ’n aggressiewe en dreigende manier gedoen. Maximina, die ma van die Piña-gesin, het vir hulle gesê: ‘Kyk! Ek is ’n volwassene, en ek neem my eie besluite.’

“Op die ou end”, sê German, “het 22 mense die Mennonitiese Kerk verlaat en gemeentelike vergaderinge in ’n gehuurde huis begin bywoon. My ma is in 1965 gedoop, en ek is vier jaar later, in 1969, op die ouderdom van 13 gedoop.”

German nou saam met sy susters. Almal dien Jehovah getrou