DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK
Volharding bring verligting
Die predikingswerk word versigtig voortgesit
Rafael Pared, wat saam met sy vrou, Francia, by Bethel dien, het in 1957 ’n verkondiger geword toe hy 18 jaar oud was. Hy onthou nog hoe hy in die predikingswerk uitgegaan het met geheime polisiemanne kort op sy
hakke, op soek na ’n geleentheid om hom en dié saam met hom in hegtenis te neem. Rafael sê: “Soms moes ons agterstrate en stegies gebruik en oor heinings spring om weg te kom.” Andrea Almánzar verduidelik wat sy en ander gedoen het om inhegtenisneming te vermy: “Ons moes versigtig wees. In die bediening het ons gewoonlik by een huis gepreek en dan tien huise oorgeslaan voordat ons by nog ’n huis gepreek het.”Uiteindelik verligting!
Teen 1959 het Trujillo se bewind al byna 30 jaar geduur, maar die politieke klimaat was aan die verander. Op 14 Junie 1959 het Dominikaanse ballinge die Dominikaanse Republiek ingeval in nog ’n poging om Trujillo se regering omver te werp. Hoewel die inval verydel en die samesweerders doodgemaak of opgesluit is, het al hoe meer van Trujillo se vyande oortuig geword dat sy regering nie onoorwinlik is nie, en gevolglik het hulle hulle teenstand verskerp.
Op 25 Januarie 1960, ná jare se samewerking met Trujillo se regering, het die aartsbiskoppe van die Katolieke Kerk ’n pastorale brief uitgevaardig waarin hulle protes aangeteken het teen die skending van menseregte. Die Dominikaanse geskiedskrywer Bernardo Vega verduidelik: “Die invalle van Junie 1959 en die onderdrukking van diegene wat by die ekspedisie betrokke was en later van die interne geheime weerstandsbeweging, het druk op die Kerk geplaas om, vir die eerste keer, ’n vyandelike standpunt teenoor Trujillo in te neem.”
Interessant genoeg, in Mei 1960 het die regering die verbod op Jehovah se Getuies opgehef. Ná ’n jare lange verbod het verligting uit ’n onverwagte bron gekom—Trujillo self—nadat hy die ondersteuning van die Katolieke Kerk verloor het.