Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Europa

Europa
  • LANDE 47

  • BEVOLKING 741 311 996

  • VERKONDIGERS 1 611 036

  • BYBELSTUDIES 847 343

Die klas het die Koninkryksaal besoek

Finland: Graadvierleerders besoek die Koninkryksaal

Ines, ’n graadvierleerder in Finland, het gehoor dat haar klas as deel van hulle godsdiensonderrig ’n bespreking oor Jehovah se Getuies sou hê, en daarom het sy besluit om die klas na die Koninkryksaal te nooi. Die leerders sowel as die onderwyser het gedink dat dit ’n goeie idee is.

Die volgende week het 38 leerders sowat vyf kilometer met hulle fietse na die Koninkryksaal gery. Twee onderwysers en die skoolhoof het saamgegaan. Twee broers en drie susters het hulle by die Koninkryksaal verwelkom. Terwyl hulle verversings geniet het, het die leerders vrae oor die saal en die Getuies gevra: “Wat gebeur by die vergaderinge?” “Waarvoor word daardie vertrek gebruik?” Hulle het van die biblioteek gepraat. “Waarom staan ‘ses gedeel deur tien’ op die muur?” Die jaarteks was Matteus 6:10.

Omdat die skool deelneem aan ’n projek om afknouery by die skool te voorkom, het die broers vir die klas die witbord-tekenprent Sit ’n afknouer op sy plek sonder om jou vuiste te gebruik op jw.org gewys. Hulle het ook ander dele van ons webwerf vir die leerders gewys en ’n Koninkrykslied gespeel. Hulle was ongeveer ’n uur lank daar.

Die skoolhoof, die onderwysers en die kinders was opgewonde oor die besoek. Die skoolhoof het belanggestel in die materiaal op ons webwerf omdat hy gemeen het dat dit tydens godsdiensonderrig by die skool gebruik kan word. Hy was baie bly om te hoor dat ander klasse ook die Koninkryksaal kan besoek. Gevolglik het ’n onderwyser van ’n ander klas die Getuies die volgende dag gevra of hulle ook die saal kan besoek.

Sy het ’n skat op ’n vullishoop gevind

Cristina, wat in Roemenië woon, het glad nie skoolgegaan nie en kon nie lees of skryf nie. Sy was brandarm en het ’n bestaan gemaak deur blikkies en plastiekbottels op die stad se vullishoop te soek. Eendag het iets op die vullishoop haar oog gevang—dit was Bybellektuur met pragtige prente van gelukkige mense. Sy het vir haarself gesê: ‘Sulke mense moet iewers in die wêreld bestaan.’ Cristina was nuuskierig oor wat in die publikasies staan, en daarom het sy iemand gevra om dit vir haar te lees. Toe sy hoor dat die publikasies oor godsdiensonderwerpe handel, was sy hartseer omdat mense inligting oor God se Woord weggegooi het. Cristina het aangehou om na die vullishoop te gaan om brosjures, traktate en tydskrifte op te tel. Party was heel, en ander was geskeur. Sy het leer lees sodat sy meer omtrent die publikasies kon uitvind.

Later het die Getuies met Cristina in aanraking gekom en met haar ’n Bybelstudie begin hou. Sy was baie bly om te leer dat Jehovah haar na hom toe getrek het deur middel van publikasies wat ander mense nie waardeer het nie. Sy woon die gemeentelike vergaderinge by en is verwonderd oor wat sy leer. Sy is baie bly dat sy nou nuwe tydskrifte, boeke en brosjures het. Sy hoef nie meer op die vullishoop daarna te soek nie. Ja, Cristina het ’n skat op die vullishoop gevind!

’n Bybelstudie in die woud

Duitsland: Margret hou ’n Bybelstudie in die woud

Margret gaan stap elke oggend met haar hond in ’n woud in Duitsland. “Ek probeer met verbygangers gesels”, sê sy. “As hulle ontspanne is, begin ek oor die Bybel gesels.”

Eendag het sy ’n vrou ontmoet wat in haar sewentigs is en wat ook met haar hond gaan stap het. Margret het met die vrou begin gesels. Die vrou het die gesprek geniet en vir Margret gesê dat sy elke dag tot God bid en die Bybel lees. Van toe af het hulle elke dag ontmoet en oor geestelike dinge gesels. Eendag het die vrou vir Margret gevra: “Hoe is dit dat jy soveel van die Bybel weet?” Margret het verduidelik dat sy een van Jehovah se Getuies is.

Margret het ’n hele paar keer vir die vrou ’n tuisbybelstudie aangebied, maar sy het die aanbod van die hand gewys. Maar hulle het nog steeds gereeld gesels. ’n Paar maande later het Margret weer vir haar ’n tuisbybelstudie aangebied. Hierdie keer het die vrou erken dat sy bang is om te studeer omdat die man met wie sy saambly, nie van Jehovah se Getuies hou nie.

Toe Margret weer in die woud gaan stap het, het sy ’n Bybel en die Leer Bybel-boek saamgeneem. Toe sy die vrou sien, het sy moedig gesê: “Hierdie keer wil ek nie vir jou ’n tuisbybelstudie aanbied nie, maar ’n Bybelstudie in die woud.” Met trane in haar oë het die vrou die aanbod aanvaar. Sy kom ses dae per week vir haar Bybelstudie in die woud. Afhangende van die seisoen en die weer moet Margret soms ’n sambreel en ’n flits gebruik wanneer sy die studie hou.

’n Verwarrende kopskud

In Bulgarye het ’n suster met die naam Delphine die Bybel met Irina gestudeer. Irina het gehou van wat sy leer en het die vergaderinge gereeld bygewoon. Maar Irina se man wou nie hê dat sy enigiets met die Getuies te doen moet hê nie. Hy het sy gesin na ’n klein dorpie in Swede laat trek, en Irina het kontak met Delphine verloor. Maar twee pioniers, Alexandra en Rebecca, het Irina ontmoet, wat nie Sweeds kon praat nie. Die susters het die boekie Good News for People of All Nations gebruik en Irina die boodskap in Bulgaars laat lees. Daarna het hulle met behulp van die boekie vir haar gevra of sy lektuur in haar taal wil hê. Irina het haar kop vinnig van links na regs geskud. Die susters het gedink dat sy nie belangstel nie en is toe daar weg.

Alexandra het later onthou dat Linda, ’n Sweedse suster wat in Bulgarye dien, oor ’n paar weke kom kuier. Sy het gedink dat dit dalk ’n verskil sal maak as Irina die waarheid in haar eie taal hoor. Toe Linda daar aangekom het, het sy en Alexandra Irina gaan besoek. Irina het vir Linda gesê dat sy elke aand tot Jehovah gebid het om haar te help om haar Bybelstudie voort te sit. Sy het dikwels haar Bulgaarse Leer Bybel-boek saam met haar gedra. Sy wou dit by haar hê sodat sy dit vir die Getuies kon wys as sy hulle op straat teëkom, maar sy het nooit enige Getuies gesien nie. Hoe bly was Irina tog om nog lektuur in Bulgaars te ontvang!

Linda het vir Alexandra gevra waarom sy ná die eerste besoek tot die slotsom gekom het dat Irina nie belangstel nie. Alexandra het verduidelik dat Irina haar kop geskud het om aan te dui dat sy nie belangstel nie. Linda het met ’n glimlag verduidelik dat Bulgare hulle koppe op en af skud as hulle nie saamstem nie en van kant tot kant as hulle saamstem. Intussen hou Irina aan om die Bybel in Bulgaars te studeer terwyl sy Sweeds leer. Hoe? Sy het weer met Delphine in aanraking gekom en studeer deur middel van videoverbinding.

’n Pa se goeie voorbeeld

Jemima, wat in Spanje woon, het die waarheid as kind geleer. Maar toe sy sewe was, is haar lewe heeltemal ontwrig. Haar ma het besluit dat sy nie meer een van Jehovah se Getuies wil wees nie en het van haar pa geskei. Toe Jemima 13 was, het sy opgehou om met die Getuies te assosieer en wou sy geen geestelike hulp van haar pa hê nie.

Met verloop van tyd het Jemima betrokke geraak by maatskaplike en politieke bewegings om “geregtigheid” vir die gewone mense te bevorder. Later, toe sy werkloos was, het haar pa, Domingo, vir haar gesê dat sy saam met hom as ’n verwer kan kom werk.

Eendag, terwyl hulle saam gewerk het, het Domingo vir Jemima ’n Bybelstudie aangebied. Sy het gesê dat sy nie belangstel nie, maar bygevoeg dat sy hom sal laat weet as sy ooit sou belangstel. Domingo het na opnames van die Bybel en tydskrifte geluister terwyl hy geverf het, maar sy dogter het verkies om haar oorfone op te sit en na popmusiek te luister.

In November 2012 het Domingo, wat weer getrou het, ’n uitnodiging na die Bybelskool vir Christenegpare ontvang. Dit het Jemima beïndruk dat haar pa ’n twee maande lange Bybelskool wou bywoon en daarna alles sou agterlaat om te gaan waar hy ook al gestuur word. Jemima het vir die eerste keer besef hoe diepgewortel die waarheid in haar pa se hart is, en sy wou weet waarom.

Jemima het opgehou om na haar musiek te luister en het na haar pa se opnames begin luister. Sy het ook vrae begin vra. Eendag, terwyl Domingo op ’n leer gestaan en verf het, het Jemima gesê: “Onthou Pa toe ek gesê het dat ek vir Pa sal sê wanneer ek gereed is om die Bybel te studeer? Wel, ek is nou gereed.”

Domingo was baie bly om dit te hoor. Hulle het die studie in Januarie 2013 begin, en dit twee keer per week gehou. Toe die skool in April begin het, het hulle die studie deur middel van videoverbinding voortgesit. Jemima het sy graduering bygewoon en het die program baie geniet. Sy is op 14 Desember 2013 gedoop.

“Jehovah was baie geduldig met my, en ek weet dat hy nooit moed verloor het met my nie”, sê Jemima. “Hy het vir my iets gegee wat ek nooit in die wêreld gevind het nie—ware vriende. Die wêreldwye broederskap help my om Jehovah se groot liefde selfs meer te waardeer.”

Die krag van respek

Terwyl Vasilii, wat al jare lank ’n lid van die Bethelgesin in Rusland is, op 30 Maart 2014 met ’n lektuurtrollie naby die takkantoor velddiens gedoen het, het ’n polisiemotor by hom stilgehou. ’n Polisieman het uitgeklim en Vasilii beleefd gevra om op te hou met sy bedrywighede omdat hulle klagtes van ’n paar mense in die buurt ontvang het. ’n Ander polisieman het ’n video-opname van die bespreking gemaak. Vasilii het besluit dat dit beter sou wees om aan die polisie gehoorsaam te wees en om nie oor sy regte te stry nie. Teen hierdie tyd het ’n hele paar verbygangers daar gestop om te sien wat aan die gang is. Vasilii is toe daar weg, maar twee dae later het hy gevra of hy ’n afspraak met die polisiehoof kan maak. Sy versoek is toegestaan. Toe Vasilii die polisiehoof besoek het, het hy hom bedank vir die belangrike diens wat die polisie in die gemeenskap verrig en vir die beleefde manier waarop hulle twee dae tevore met hom gepraat het. Die polisiehoof het vir sy assistent gesê: “Gedurende my 32 jaar in die polisiediens het ek nog nooit gehoor dat iemand ons vir ons werk bedank nie!” Tydens die gesprek het Vasilii aan die polisiehoof verduidelik dat ons openbare predikingswerk heeltemal wettig is. Die polisiehoof het Vasilii gevra waarom hy nie kapsie gemaak het toe die polisieman vir hom gesê het om op te hou met sy bedrywighede nie, hoewel Vasilii geweet het dat hy die reg het om dit te doen. Vasilii het geantwoord: “Ek respekteer die polisie. Dink net hoe dit sou gelyk het as ek die polisie voor al daardie bystanders daarvan beskuldig het dat hulle nie die wet ken nie.” Die polisiehoof en sy assistent was baie beïndruk, en hulle het Vasilii daarvan verseker dat hy nooit weer probleme sou ondervind wanneer hy sy lektuurtrollie gebruik nie.