Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Troues is gebruik om byeenkomste te hou

INDONESIË

Hulle het nie hulle vergaderinge nagelaat nie

Hulle het nie hulle vergaderinge nagelaat nie

Gedurende die verbod het die meeste gemeentes voortgegaan om vir aanbidding in huise bymekaar te kom. Maar baie gemeentes het nie Koninkryksliedere gesing nie sodat hulle nie onnodig aandag sou trek nie. Die owerheid het klopjagte op party vergaderplekke uitgevoer, maar die broers het nie moed verloor nie.

Die broers het dikwels familiereünies of troues gebruik as ’n geleentheid om groter byeenkomste te hou. “Egpare het gewoonlik hulle huwelik geregistreer en ’n permit van die polisie verkry om ’n groot onthaal te hê”, het Tagor Hutasoit verduidelik. “Gedurende die onthaal het die bruidsgevolg op die verhoog gesit terwyl broers Bybeltoesprake gelewer het.”

By een byeenkoms het ’n polisieman in die privaat met Tagor kom praat.

“Die meeste troues duur net twee of drie uur. Waarom duur julle troues van die oggend tot die aand?” het die polisieman gevra.

“Party paartjies het baie probleme, en daarom het hulle baie raad uit God se Woord nodig om hulle te help”, het Tagor geantwoord.

“Dit maak sin”, het die polisieman gesê.

Die broers het ’n groot gesamentlike troue as ’n voorwendsel gebruik om ’n deel van die “Koninkrykseenheid”-streekbyeenkoms van 1983 in ’n groot sportstadion in Djakarta te hou. Die opkomshoogtepunt by die streekbyeenkoms was byna 4 000, en 125 mense is voor die program in die geheim gedoop. Later, toe die verbod nie meer so streng toegepas is nie, het die broers selfs groter byeenkomste gehou, insluitende een wat deur meer as 15 000 mense bygewoon is.

’n Takkantoor word gedurende die verbod gebou

Gedurende die 1980’s en 1990’s het die takkantoor die regering herhaaldelik versoek om die verbod op die bedrywighede van Jehovah se Getuies op te hef. Broers in ander lande het ook aan die Indonesiese regering en sy ambassadeurs geskryf om die verbod in Indonesië te bevraagteken. Baie amptenare was ten gunste van die opheffing van die verbod, maar die magtige Algemene Direktoraat van Leiding vir die Christelike Gemeenskap het elke keer hulle pogings in die wiele gery.

In 1990 het die broers besluit dat dit dalk moontlik sou wees om ’n nuwe takkantoor op ’n onopsigtelike plek te bou. Daardie selfde jaar het die Bestuursliggaam die broers toestemming gegee om ’n eiendom te koop naby Bogor, ’n klein stad omtrent 40 kilometer suid van Djakarta. Daar was egter min plaaslike broers met bouvaardighede. Hoe sou die nuwe fasiliteit dus gebou word?

Die antwoord het gelê by die internasionale broederskap. Die Konstruksiekantoor in Brooklyn en die Streekingenieurskantoor in Australië het die bouplanne saamgestel. Sowat 100 vrywilligers uit ander lande het gedurende die twee jaar lange projek die nodige vaardighede voorsien.

Hosea Mansur, ’n Indonesiese broer wat die broers voor verskeie plaaslike amptenare verteenwoordig het, het vertel: “Wanneer Moslem-amptenare my voorletters, H.M., op my harde hoed gesien het, het hulle aangeneem dat die letter H staan vir ‘Hājjī’, die gerespekteerde titel van diegene wat pelgrimsreise na Mekka onderneem. Hulle het my dus met groot eerbied behandel. Hierdie eenvoudige misverstand het dit makliker gemaak om die werk te organiseer.”

Hierdie takkantoor is gedurende die verbod gebou

Die nuwe takfasiliteite is op 19 Julie 1996 toegewy. John Barr, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die toewydingstoespraak gelewer. Die 285 mense in die gehoor het 118 takverteenwoordigers en voormalige sendelinge uit baie ander lande ingesluit, asook die 59 lede van die Indonesiese Bethelgesin. In die twee dae ná die toewydingsprogram het 8 793 die “Boodskappers van Goddelike Vrede”-streekbyeenkoms in Djakarta bygewoon.

Jehovah verlos sy volk

In 1998 het president Soeharto (Suharto) afgetree, ná jare in sy amp, en sodoende die weg gebaan vir ’n nuwe regering in Indonesië. Gevolglik het die broers harder probeer om die verbod op die werk te laat ophef.

Terwyl die Indonesiese Minister van Buitelandse Sake, mnr. Djohan Effendi, in 2001 in New York was, het hy deur die Brooklynse Bethel getoer en met drie lede van die Bestuursliggaam vergader. Hy is beïndruk deur wat hy gesien het en het erken dat Jehovah se Getuies regoor die wêreld ’n goeie reputasie het. Mnr. Effendi was ten gunste van die opheffing van die verbod, maar hy het gesê dat die prokureur-generaal van Indonesië, mnr. Marzuki Darusman, die finale sê het.

Die prokureur-generaal was ook ten gunste daarvan om die verbod op te hef, maar vyandiggesinde amptenare in sy departement het die proses bly vertraag in die hoop dat hy vervang sou word. Uiteindelik, op 1 Junie 2001, is Tagor Hutasoit na die prokureur-generaal se kantoor ontbied. “Sowat 25 jaar gelede is ek in daardie selfde kantoor ’n dokument gegee wat gesê het dat die werk van Jehovah se Getuies verbied is”, vertel Tagor. “Maar op daardie dag, die prokureur-generaal se laaste dag in sy amp, het hy my ’n dokument gegee wat die verbod opgehef het.”

Op 22 Maart 2002 is die organisasie van Jehovah se Getuies in Indonesië amptelik deur die Departement van Godsdienssake geregistreer. Die direkteur-generaal van die departement het vir takverteenwoordigers gesê: “Hierdie registrasiedokument gee julle nie godsdiensvryheid nie. Daardie vryheid kom van God. Hierdie dokument sê net dat julle godsdiens amptelik deur die regering erken word. Julle het nou dieselfde regte as ander godsdienste, en die regering is tot julle diens.”