Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Brasilië: Valdira studeer by kerslig oor ’n selfoon

AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Die Amerikas

Die Amerikas
  • LANDE 57

  • BEVOLKING 982 501 976

  • VERKONDIGERS 4 102 272

  • BYBELSTUDIES 4 345 532

’n Studie by kerslig in die veld

’n Spesiale pionieregpaar wat in ’n afgesonderde gebied in Brasilië werk, het gehoor van Valdira, ’n vrou wat die Bybel 13 jaar gelede gestudeer het. Nadat hulle op ’n stowwerige grondpad gereis het en gevaarlike riviere moes oorsteek, het die pioniers Valdira gevind. Sy was baie gretig om haar studie voort te sit. Omdat sy in ’n afgeleë deel van die land woon, moes hulle spesiale reëlings tref. Hoewel Valdira ’n selfoon gehad het, kon sy net in die veld ver van haar huis af ’n goeie selfoon-opvangs kry. Wat meer is, Valdira kon slegs ná nege-uur in die aand studeer. Stel jou die toneel voor: ’n Jong vrou wat alleen in die donker veld sit en die Bybel by kerslig oor ’n selfoon studeer.

Valdira gaan sit ook in die veld om na die Sondagvergaderinge op haar selfoon te luister. Sy neem haar Bybel, Wagtoring en liedereboek saam. En wanneer dit reën, neem sy ook haar sambreel saam.

In Maart het Valdira sowat 90 kilometer na die plaaslike Koninkryksaal gereis om die spesiale vergadering by te woon toe die hersiene Portugese Nuwe Wêreld-vertaling vrygestel is. Sy was so bly toe sy een van die nuwe Bybels kry. Toe sy geprys word vir haar moeite om die Bybel te studeer, het Valdira gesê: “Nee, dis glad nie moeite nie!”

“Ek het geweet dat julle eendag sou kom”

Die Yukpa is Amerindiane wat in Colombia woon. Voordat Frank, ’n spesiale pionier, een van hulle gemeenskappe besoek het, is hy gewaarsku teen die plaaslike stamhoof, John Jairo, wat al etlike evangeliese groepe weggejaag het wat daar wou preek. Toe John eenkeer uitvind dat een van hulle predikante daar is om tiendes te kom haal, het hy die predikant weggejaag deur met sy geweer skote in die lug te skiet.

Colombia: Frank, ’n spesiale pionier, hou ’n Bybelstudie met ’n groep Yukpa-mense

Frank vertel: “Toe ons daar aankom, was die eerste persoon wat na ons geluister het, niemand anders as een van John Jairo se dogters nie! Nadat ons die boek Wat leer die Bybel werklik? vir haar gewys het, het sy dadelik gesê: ‘Dis die godsdiens waaraan ek wil behoort!’ Toe is sy daar weg om haar pa te vertel dat ons daar is. Hy het ons onmiddellik ontbied. Ons was baie senuweeagtig toe ons hom ontmoet. Voordat ons enigiets kon sê, het hy gesê: ‘Ek weet dat julle die ware godsdiens het. Ek het agt jaar gelede in Becerril ’n boek op ’n ashoop opgetel soos die een wat julle my dogter gegee het. Ek het dit gelees, en van toe af wag ek dat julle hierheen moet kom. Ek het geweet dat julle eendag sou kom. Ek wil hê dat julle die Bybel met my, my gesin en al die mense hier moet studeer. Julle is altyd welkom.’

“Hierdie woorde het trane in ons oë laat opwel. Al die mense daar het bymekaargekom om na ons te luister, en John Jairo het in hulle taal getolk wat ons gesê het. Toe ons op pad was om te vertrek, het hy vir ons ’n klein donkie geleen om ons bagasie te dra. Ons hou nou 47 Bybelstudies met 120 Yukpa-mense uit verskillende dele van die gebied, en dit sluit John Jairo en sy dogter in.”

’n Vervolger verander ten goede

José, ’n voormalige vroom Katoliek, woon in Ecuador. Hy skryf: “Ek het Jehovah se Getuies intens gehaat. Ek het hulle tien jaar lank vervolg. Ek het mense teen die Getuies opgestook, hulle fisies mishandel en hulle daarvan beskuldig dat hulle diewe is. En by die polisiestasie het ek daarop aangedring om self die deur van hulle tronksel te sluit. Eenkeer het ons ’n motor wat aan ’n Getuie behoort het, heeltemal verwoes. ’n Ander keer het ons een van hulle motorfietse in ’n kloof afgegooi.

“In 2010 het ek varkgriep gekry. My dokter het my aangeraai om my huis hoog in die Andes te verlaat en by die kus te gaan aansterk waar dit warmer is. Ek het na ’n familielid se klein plasie naby die see gegaan, en op die ou end moes ek alleen na die plaas omsien. Ek was baie eensaam en het daarna gesmag om met iemand te gesels. En wie het na die plaas toe gekom? Jehovah se Getuies! Uit pure eensaamheid het ek met hulle gesels, en ek was verbaas oor hoe goed hulle die Bybel ken. Dit het my nuuskierig gemaak, en ek het ’n Bybelstudie aanvaar. Nadat ek ses maande lank gestudeer het, het ek my eerste vergadering bygewoon. Die vriendelikheid en liefdevolle belangstelling van die broers het my so beïndruk dat ek gewonder het: ‘Is hulle dalk God se ware knegte?’ Ek het vordering gemaak en is uiteindelik in April 2014 gedoop.

“Ek was spyt dat ek die Getuies so vervolg het. Maar Jehovah het my ’n geleentheid gegee om in ’n mate daarvoor te vergoed. By ’n kringbyeenkoms op 4 Oktober 2014 is daar met my ’n onderhoud gevoer oor my verlede as ’n teenstander. Die broer het my gevra: ‘Vir wie sou jy, as jy die geleentheid gegee is, om verskoning vra omdat jy hulle vervolg het?’ Ek het onmiddellik gesê dat dit ’n broer sou wees met die naam Edmundo, maar dat ek geen idee gehad het waar om hom te vind nie. Die kringopsiener het egter nie vir my gesê dat Edmundo agter die verhoog was nie. Die gehoor het trane in hulle oë gekry toe ek en Edmundo mekaar omhels en saam op die verhoog gehuil het.”

“Jehovah, laat u Getuies my asseblief vind”

Paraguay: ’n Vrou het die susters gevra of hulle Jehovah se Getuies is

Op ’n snikhete middag in Asunción, Paraguay, het ’n groep susters die gebied klaargemaak wat aan hulle toegewys was. Maar toe besluit hulle om ’n bietjie langer te werk en ’n paar nabygeleë huise te besoek. Een van die Getuies het gesê: “Miskien bid iemand.” By ’n huis op die hoek het ’n jong vrou die susters by haar deur met ’n glimlag gegroet en gevra of hulle Jehovah se Getuies is. Sy het verduidelik dat sy ’n maand gelede weens haar werk van Bolivia na Paraguay getrek het. Sy het die Bybel in Bolivia gestudeer voordat sy getrek het. Nie een van haar nuwe bure kon vir haar sê waar sy die Getuies kan vind nie, en daarom het sy gebid: “Jehovah, laat u Getuies my asseblief vind.” Die susters het haar op hierdie einste dag besoek en ’n Bybelstudie is weer begin.