Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 59

Wie is die Seun van die mens?

Wie is die Seun van die mens?

MATTEUS 16:13-27 MARKUS 8:22-38 LUKAS 9:18-26

  • JESUS GENEES ’N BLINDE MAN

  • PETRUS SAL SLEUTELS VAN DIE KONINKRYK ONTVANG

  • JESUS VOORSPEL SY DOOD EN OPSTANDING

Jesus en sy dissipels kom in Betsaida aan. Dan bring die mense ’n blinde man na Jesus toe en smeek hom om aan die man te raak om hom te genees.

Jesus neem die man by die hand en lei hom tot buite die dorpie. Nadat Jesus op die man se oë gespoeg het, vra hy hom: “Sien jy iets?” Die man antwoord: “Ek sien mense, maar hulle lyk soos bome wat rondloop” (Markus 8:23, 24). Jesus sit sy hande op die man se oë en laat hom weer sien. Dan stuur hy die man wat nou kan sien huis toe en sê vir hom om nie in die dorpie in te gaan nie.

Daarna reis Jesus en sy dissipels noord na die gebied van Sesarea-Filippi. Dit is ’n lang opdraand van sowat 40 kilometer. Die dorpie is 350 meter bo seevlak, met die sneeubedekte berg Hermon na die noordooste. Dit neem hulle moontlik ’n paar dae om by die dorpie uit te kom.

Op een stadium langs die pad gaan Jesus eenkant om alleen te bid. Daar is nog net sowat nege of tien maande oor voor sy dood, en Jesus is bekommerd oor sy dissipels. Baie het onlangs opgehou om hom te volg, en ander is waarskynlik verward of teleurgesteld. Hulle wonder dalk hoekom hy nie wou hê dat die mense hom koning maak nie of hoekom hy nie ’n teken wou voorsien om sonder twyfel te bewys wie hy werklik is nie.

Wanneer die dissipels na die plek toe kom waar Jesus bid, vra hy: “Wie sê die mense is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, ander sê Elia, en nog ander sê Jeremia of een van die profete.” Ja, mense dink dat Jesus dalk een van daardie manne is wat uit die dood opgewek is. Om uit te vind wat sy dissipels dink, vra hy: “Maar julle, wie sê julle is ek?” Petrus antwoord dadelik: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” – Matteus 16:13-16.

Jesus sê dat Petrus gelukkig kan voel omdat God dit aan hom geopenbaar het, en hy voeg by: “Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal ek my gemeente bou, en die poorte van die Graf sal dit nie oorweldig nie.” Jesus bedoel dat hyself ’n gemeente sal bou en dat selfs die Graf nie die lede daarvan sal gevange hou as hulle op aarde tot die einde toe getrou bly nie. Hy belowe Petrus: “Ek sal vir jou die sleutels van die Koninkryk van die hemel gee.” – Matteus 16:18, 19.

Jesus gee Petrus nie die eerste plek onder die apostels nie, en Jesus maak hom ook nie die fondament van die gemeente nie. Jesus is self die Rots waarop sy gemeente gebou sal word (1 Korintiërs 3:11; Efesiërs 2:20). Petrus sal egter drie sleutels ontvang. Hy sal die voorreg hê om die geleentheid te open vir verskillende groepe mense om die Koninkryk van die hemel binne te gaan.

Petrus sal later die eerste sleutel tydens Pinkster 33 HJ gebruik wanneer hy vir berouvolle Jode en proseliete wys wat hulle moet doen om gered te word. Hy sal die tweede sleutel gebruik om die geleentheid te open vir gelowige Samaritane om God se Koninkryk binne te gaan. Dan, in 36 HJ, sal Petrus die derde sleutel gebruik om dieselfde geleentheid te bied aan nie-Jode wat nie besny is nie, soos Kornelius en ander. – Handelinge 2:37, 38; 8:14-17; 10:44-48.

Gedurende hierdie bespreking word Jesus se apostels ontsteld wanneer hy voorspel dat hy binnekort in Jerusalem sal ly en sterf. Maar Petrus verstaan nie dat Jesus tot lewe in die hemel opgewek sal word nie, en daarom neem hy hom eenkant en sê hy vir Jesus: “Wees goed vir uself, Here. Dit sal glad nie met u gebeur nie.” Maar Jesus draai sy rug op Petrus en antwoord: “Gaan agter my, Satan! Jy is vir my ’n struikelblok, want jou gedagtes is nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.” – Matteus 16:22, 23.

Jesus roep nou ander buiten die apostels en verduidelik dat dit nie maklik sal wees om sy volgeling te wees nie. Hy sê: “As iemand my volgeling wil word, moet hy ophou om vir homself te lewe en sy folterpaal optel en aanhou om my te volg. Want enigiemand wat sy lewe wil red, sal dit verloor, maar enigiemand wat sy lewe ter wille van my en die goeie nuus verloor, sal dit red.” – Markus 8:34, 35.

Ja, Jesus se volgelinge moet moedig en selfopofferend wees om te bewys dat hulle waardig is om sy goedkeuring te geniet. Jesus sê: “As iemand hom in hierdie ontroue en sondige geslag vir my en my woorde skaam, sal die Seun van die mens hom ook vir hierdie persoon skaam wanneer hy en die heilige engele met die mag van sy Vader kom” (Markus 8:38). Ja, wanneer Jesus op hierdie manier kom, “sal hy elkeen volgens sy gedrag terugbetaal”. – Matteus 16:27.