Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 51

Moord gedurende ’n verjaarsdagpartytjie

Moord gedurende ’n verjaarsdagpartytjie

MATTEUS 14:1-12 MARKUS 6:14-29 LUKAS 9:7-9

  • HERODES LAAT JOHANNES DIE DOPER SE KOP AFKAP

Jesus se apostels is besig met die predikingswerk in Galilea. Johannes die Doper, wat bekend gemaak het dat Jesus sou kom, het egter nie hierdie vryheid nie. Hy is nou al amper twee jaar lank in die tronk.

Johannes het openlik gesê dat dit verkeerd was van koning Herodes Antipas om sy halfbroer Filippus se vrou, Herodias, as sy vrou te neem. Herodes het van sy eerste vrou geskei om met Herodias te trou. Volgens die Wet van Moses, wat Herodes sê hy volg, het hy egbreuk gepleeg en is hierdie huwelik onwettig. Johannes het Herodes hieroor tereggewys, en daarom het Herodes hom in die tronk laat gooi, dalk omdat Herodias hom aangespoor het om dit te doen.

Herodes weet nie wat om met Johannes te doen nie omdat die mense ‘glo dat hy ’n profeet is’ (Matteus 14:5). Maar Herodias weet presies wat sy wil doen. Sy ‘koester ’n wrok teen hom’ en is heeltyd op soek na ’n geleentheid om hom te laat doodmaak (Markus 6:19). Uiteindelik breek die regte geleentheid aan.

Kort voor die Pasga van 32 HJ reël Herodes ’n groot fees om sy verjaarsdag te vier. Al Herodes se hooggeplaaste amptenare en militêre offisiere, sowel as die belangrikste inwoners van Galilea, is genooi. Gedurende die fees word Salome, die jong dogter van Herodias wat sy by haar vorige man Filippus gehad het, ingestuur om vir die gaste te dans. Die mans is betower deur haar vertoning.

Herodes is baie beïndruk met sy stiefdogter en sê vir haar: “Vra my enigiets wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.” Hy sweer selfs: “Wat jy my ook al vra, sal ek vir jou gee, tot die helfte van my koninkryk.” Voordat Salome antwoord, gaan sy na haar ma en vra sy: “Waarvoor moet ek vra?” – Markus 6:22-24.

Dit is die geleentheid waarna Herodias op soek was! “Die kop van Johannes die Doper,” antwoord sy sonder om te huiwer. Salome gaan onmiddellik terug na Herodes en sê: “Ek wil hê dat u dadelik vir my die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord moet gee.” – Markus 6:24, 25.

Dit ontstel Herodes baie, maar sy gaste het gehoor wat hy aan Salome gesweer het. Hy voel dat hy by sy belofte moet bly, selfs al beteken dit die dood van ’n onskuldige man. Daarom stuur Herodes ’n lyfwag na die tronk met ’n verskriklike opdrag. ’n Rukkie later kom hy terug met die Johannes se kop op ’n skinkbord. Hy gee dit vir Salome, wat dit na haar ma toe neem.

Wanneer Johannes se dissipels hoor wat gebeur het, kom haal hulle sy liggaam en begrawe hulle dit. Dan vertel hulle Jesus wat gebeur het.

Later, wanneer Herodes hoor dat Jesus mense genees en demone uitdryf, word hy bang. Hy wonder of die man wat hierdie dinge doen – Jesus – eintlik Johannes die Doper is wat “uit die dood opgewek is” (Lukas 9:7). Daarom wil Herodes Antipas Jesus baie graag sien. Dit is beslis nie om Jesus te hoor preek nie. Herodes wil Jesus eerder sien om uit te vind of sy bekommernisse geldig is of nie.