Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 63

Jesus gee raad oor struikeling en sonde

Jesus gee raad oor struikeling en sonde

MATTEUS 18:6-20 MARKUS 9:38-50 LUKAS 9:49, 50

  • RAAD OOR STRUIKELING

  • AS ’N BROER ’N SONDE PLEEG

Jesus het so pas gesê watter gesindheid sy volgelinge moet hê. Hulle moet hulleself beskou soos kinders, nederig en sonder status. Hy sê: “Elkeen wat ’n jong kind soos hierdie op grond van my naam ontvang, ontvang my ook.” – Matteus 18:5.

Die apostels het onlangs gestry oor wie die belangrikste is, en daarom beskou hulle Jesus se woorde dalk as ’n teregwysing. Die apostel Johannes noem nog iets wat so pas gebeur het: “Ons het iemand gesien wat demone uitdryf deur u naam te gebruik, en ons het hom probeer keer omdat hy nie een van ons is nie.” – Lukas 9:49.

Beskou Johannes die apostels as die enigstes wat die gesag het om ander te genees of demone uit te dryf? Indien wel, hoe is dit moontlik dat hierdie Joodse man bose geeste kan uitdryf? Johannes voel blykbaar dat die man nie wonderwerke behoort te doen nie omdat hy nie saam met Jesus en die apostels reis nie.

Tot Johannes se verbasing sê Jesus: “Moet hom nie probeer keer nie, want daar is niemand wat ’n kragtige werk in my naam sal doen wat gou iets slegs oor my sal kan sê nie. Want wie nie teen ons is nie, is vir ons. Ek verseker julle dat elkeen wat vir julle ’n beker water gee om te drink omdat julle aan Christus behoort, beslis nie sy beloning sal verloor nie.” – Markus 9:39-41.

Ja, op hierdie stadium hoef die man nie saam met Christus te reis om te bewys dat hy aan Jesus se kant is nie. Die Christengemeente moet nog gevorm word, en daarom beteken die feit dat die man nog nie saam met Jesus reis nie, nie dat hy ’n teenstander is of ’n valse godsdiens bevorder nie. Dit is duidelik dat die man geloof in Jesus se naam het, en wat Jesus sê, dui aan dat die man nie sy beloning sal verloor nie.

Aan die ander kant sou dit ernstig wees as die apostels se woorde en dade die man laat struikel het. Jesus sê: “As enigiemand een van hierdie kleintjies wat geloof het, laat struikel, sal dit vir hom beter wees as ’n meulsteen om sy nek gehang word en hy in die see gegooi word” (Markus 9:42). Dan sê Jesus dat sy volgelinge selfs iets so kosbaar soos ’n hand, ’n voet of ’n oog moet verwyder as dit hulle laat struikel. Dit is beter om sonder so ’n kosbare liggaamsdeel te wees en in God se Koninkryk in te gaan as om daaraan vas te hou en in Gehenna (die Hinnom-vallei) te beland. Hierdie vallei is naby Jerusalem, en vullis is daar verbrand. Die apostels het dit waarskynlik al gesien, en daarom verstaan hulle dat dit permanente vernietiging voorstel.

Jesus gee ook die volgende waarskuwing: “Sorg dat julle nie op een van hierdie kleintjies neersien nie, want ek sê vir julle dat hulle engele in die hemel altyd in die teenwoordigheid van my hemelse Vader is.” Hoe kosbaar is sulke “kleintjies” vir sy Vader? Jesus vertel ’n illustrasie van ’n man wat 100 skape het maar een verloor. Die man los die 99 om na die verlore skaap te gaan soek, en wanneer hy hom vind, is hy blyer oor die een skaap as oor die 99. Jesus voeg by: “Net so wil my Vader wat in die hemel is, nie hê dat selfs een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” – Matteus 18:10, 14.

Jesus dink dalk aan sy dissipels wat gestry het oor wie die belangrikste sal wees en sê vir hulle: “Julle moet sout in julle hê en vrede onder mekaar bewaar” (Markus 9:50). Sout maak kos smaakliker. Figuurlike sout maak iemand se woorde makliker om te aanvaar. Dit kan dus help om stryery te voorkom en die vrede te bewaar. – Kolossense 4:6.

Soms sal ernstige kwessies ontstaan, en Jesus sê hoe ’n mens dit moet hanteer. “As jou broer ’n sonde pleeg,” sê Jesus, “gaan praat alleen met hom en sê vir hom wat hy verkeerd gedoen het. As hy na jou luister, het jy jou broer gewen.” Maar sê nou hy luister nie? “Neem nog een of twee saam met jou,” sê Jesus, “sodat elke saak deur twee of drie getuies bevestig kan word.” As dit nie die saak oplos nie, moet hulle met “die gemeente” gaan praat, dit wil sê met verantwoordelike ouermanne wat ’n besluit kan neem. En as die sondaar nog steeds nie luister nie? “Laat hom vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees”, mense met wie Jode nie sou assosieer nie. – Matteus 18:15-17.

Gemeentelike opsieners moet bly by wat God se Woord sê. As hulle vind dat ’n sondaar skuldig is en dissipline nodig het, sal hulle oordeel “reeds in die hemel gebind wees”. Maar wanneer hulle iemand onskuldig bevind, sal dit reeds “in die hemel losgemaak wees”. Hierdie riglyne sal nuttig wees nadat die Christengemeente gevorm is. Jesus sê die volgende oor sulke ernstige besprekings: “Waar twee of drie in my naam bymekaarkom, daar sal ek by hulle wees.” – Matteus 18:18-20.