Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 20

’n Tweede wonderwerk in Kana

’n Tweede wonderwerk in Kana

MARKUS 1:14, 15 LUKAS 4:14, 15 JOHANNES 4:43-54

  • JESUS PREEK DAT ‘DIE KONINKRYK VAN GOD NABY GEKOM HET’

  • HY GENEES ’N SEUN OP ’N AFSTAND

Ná Jesus se groot predikingskampanje in Judea was hy sowat twee dae in Samaria. Nou gaan hy terug na sy tuisgebied, Galilea. Maar dit is nie om te rus nie. Hy begin eerder ’n selfs groter bediening in die gebied waar hy grootgeword het. Jesus verwag dalk nie dat die mense hom goed sal ontvang nie, want hy het self gesê dat “’n profeet nie in sy eie land geëer word nie” (Johannes 4:44). Sy dissipels bly nie by hom nie, maar hulle gaan eerder terug na hulle families en begin weer hulle vorige werk doen.

Watter boodskap begin Jesus verkondig? Hy sê: “Die Koninkryk van God het naby gekom. Toon berou en stel geloof in die goeie nuus” (Markus 1:15). En hoe reageer mense? Om die waarheid te sê, baie Galileërs ontvang hom goed en toon respek vir hom. Dit is nie net as gevolg van sy boodskap nie. Party Galileërs was maande tevore by die Pasga in Jerusalem en het Jesus se merkwaardige wonderwerke gesien. – Johannes 2:23.

Waar in Galilea begin Jesus met sy groot bediening? Blykbaar in Kana, waar hy eenkeer by ’n troue water in wyn verander het. Terwyl Jesus nou vir die tweede keer daar is, hoor hy van ’n jong seun wat baie siek is en op sterwe lê. Hy is die seun van ’n regeringsamptenaar van Herodes Antipas, die koning wat later Johannes die Doper se kop laat afkap. Hierdie amptenaar hoor dat Jesus van Judea af na Kana gekom het. Daarom reis die man van sy tuisdorp, Kapernaum, na Kana om Jesus te vind. Die amptenaar is baie hartseer en smeek Jesus: “Here, kom voordat my jong kind sterf.” – Johannes 4:49.   

Jesus sê iets wat die man sekerlik verstom: “Gaan. Jou seun lewe” (Johannes 4:50). Herodes se amptenaar glo Jesus, en hy vertrek huis toe. Op pad terug ontmoet hy sy slawe, wat haastig na hom toe kom met goeie nuus. Ja, sy seun lewe en is gesond! Hy probeer verstaan wat gebeur het en vra: ‘Wanneer het hy beter geword?’

“Die koors het gister teen die sewende uur verdwyn,” sê hulle. – Johannes 4:52.

Die amptenaar besef dat dit presies op dieselfde tyd was toe Jesus gesê het: “Jou seun lewe.” Daarna word hierdie man, wat ryk genoeg is om slawe te hê, en almal in sy huis dissipels van Christus.

Kana is dus ’n plek waar Jesus twee wonderwerke doen. Eers het hy water in wyn verander, en later het hy die jong seun genees op ’n afstand van sowat 26 kilometer. Dit is natuurlik nie sy enigste wonderwerke nie. Maar hierdie genesing is betekenisvol omdat dit ’n teken is van ’n nuwe hoofstuk in sy bediening. Dit is duidelik dat hy ’n goedgekeurde profeet van God is. Maar tot watter mate sal hierdie ‘profeet in sy eie land geëer word’?

Dit sal duidelik word wanneer Jesus terugkeer na sy tuisdorp, Nasaret. Wat wag daar op hom?