Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 33

Jesaja se profesie word vervul

Jesaja se profesie word vervul

MATTEUS 12:15-21 MARKUS 3:7-12

  • SKARES DRUK VAN ALLE KANTE TEEN JESUS

  • HY VERVUL JESAJA SE PROFESIE

Wanneer Jesus en sy dissipels hoor dat die Fariseërs en Herodes se ondersteuners hom wil doodmaak, vertrek hulle na die See van Galilea. Groot skares kom van oral na hom toe – van Galilea, die kusstede Tirus en Sidon, die gebied oos van die Jordaanrivier, Jerusalem en Idumea verder in die suide. Jesus genees baie mense. As gevolg daarvan beur mense met ernstige siektes vorentoe om by hom uit te kom. Hulle wag nie dat hy aan hulle raak nie, maar hulle probeer hard om aan hom te raak. – Markus 3:9, 10.

Die skare is so groot dat Jesus vir sy dissipels sê om ’n bootjie vir hom gereed te kry sodat hy van die strand af kan wegvaar. Dit sal keer dat die skare teen hom druk, en dan kan hy hulle ook van die bootjie af leer of na ’n ander gebied langs die strand gaan om meer mense te help.

Die dissipel Matteus merk op dat Jesus se bedrywighede vervul “wat deur middel van die profeet Jesaja gesê is” (Matteus 12:17). Watter profesie vervul Jesus hier?

“Kyk! My kneg wat ek uitgekies het, my geliefde, wat ek goedgekeur het! Ek sal my gees op hom plaas, en hy sal aan die nasies duidelik maak wat geregtigheid is. Hy sal nie met mense stry of hard uitroep nie, en niemand sal sy stem in die hoofstrate hoor nie. Hy sal nie ’n beskadigde riet afbreek of ’n lamppit wat dof brand, uitdoof nie, totdat hy geregtigheid bring. Ja, nasies sal op sy naam hoop.” – Matteus 12:18-21; Jesaja 42:1-4.

Jesus is natuurlik die geliefde kneg wat deur God goedgekeur is. Jesus maak dit duidelik wat ware geregtigheid is, iets wat onduidelik gemaak is as gevolg van valse godsdienstradisies. Die Fariseërs, wat God se Wet volgens hulle eie onregverdige standaarde toepas, wil nie eers ’n siek persoon op die Sabbat help nie! Jesus maak God se standaard van geregtigheid duidelik en toon dat God se gees op hom is deur mense te bevry van die swaar las van onregverdige tradisies. Maar as gevolg hiervan wil die godsdiensleiers hom doodmaak. Hoe verskriklik tog!

Wat beteken die profesie wanneer dit sê: “Hy sal nie met mense stry of hard uitroep nie, en niemand sal sy stem in die hoofstrate hoor nie”? Wanneer Jesus mense genees, laat hy nie toe dat hulle – of die demone – bekend maak wie hy is nie (Markus 3:12). Hy wil nie hê dat mense van hom moet hoor deur sensasionele stories wat in die strate vertel word of deur verdraaide berigte wat mense opgewonde oorvertel nie.

Jesus neem ook sy vertroostende boodskap na dié wat in figuurlike sin soos ’n beskadigde riet is, geknak en verniel. Hulle is soos ’n lamppit wat dof brand, wie se vlammetjie amper dood is. Jesus vertrap nie die beskadigde riet nie en doof nie die flikkerende, rokende lamppit uit nie. Hy weet eerder presies hoe om die sagmoediges met teerheid en liefde te help. Jesus is waarlik die een op wie die nasies kan hoop!