Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 41

Wonderwerke – Deur wie se krag?

Wonderwerke – Deur wie se krag?

MATTEUS 12:22-32 MARKUS 3:19-30 LUKAS 8:1-3

  • JESUS SE TWEEDE PREDIKINGSREIS BEGIN

  • HY DRYF DEMONE UIT EN WAARSKU TEEN ONVERGEEFLIKE SONDE

Kort nadat Jesus by die Fariseër Simon se huis oor vergifnis gepraat het, begin hy nog ’n predikingsreis deur Galilea. Dit is die tweede jaar van sy bediening, en hy reis nie alleen nie. Die 12 apostels is saam met hom, sowel as sekere vrouens wat hy “van bose geeste en siektes genees” het (Lukas 8:2). Onder hulle is Maria Magdalena, Susanna en Johanna, wie se man ’n amptenaar van koning Herodes Antipas is.

Al hoe meer mense hoor van Jesus, en as gevolg daarvan is daar al hoe meer verskillende opinies oor sy bedrywighede. Dit kan duidelik gesien word wanneer ’n man wat ’n demoon in hom het, na Jesus toe gebring word. Die man is ook blind en stom, maar Jesus genees hom. Nou is die man van die demoon bevry, en hy kan weer sien en praat. Die mense is baie verbaas en vra: “Is hy nie miskien die Seun van Dawid nie?” – Matteus 12:23.

Die skares wat bymekaargekom het by die huis waar Jesus bly, is so groot dat hy en sy dissipels nie eers kans kry om iets te eet nie. Maar nie almal dink dat Jesus die beloofde “Seun van Dawid” is nie. Party skrifgeleerdes en Fariseërs het al die pad van Jerusalem af gekom – maar nie om by Jesus te leer of om hom te ondersteun nie. Hulle sê vir die mense: “Hy het Beëlsebub in hom” en hy werk dus saam met “die heerser van die demone” (Markus 3:22). Wanneer Jesus se familielede hoor wat aangaan, kom hulle daarheen omdat hulle hom wil kom haal. Hoekom?

Op hierdie stadium glo Jesus se eie broers nie dat hy God se Seun is nie (Johannes 7:5). Die Jesus wat blykbaar al hierdie oproer veroorsaak, is nie die Jesus saam met wie hulle in Nasaret grootgeword het nie. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat daar iets fout moet wees met hom en sê: “Hy het van sy kop af geraak.” – Markus 3:21.

Maar wat toon die bewyse? Jesus het so pas ’n man genees wat ’n demoon in hom gehad het, en die man kan nou sien en praat. Niemand kan dit ontken nie. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs probeer dus om mense te laat twyfel deur Jesus valslik te beskuldig. Hulle sê: “Hierdie man dryf die demone uit slegs deur Beëlsebub, die heerser van die demone.” – Matteus 12:24.

Jesus weet wat die skrifgeleerdes en Fariseërs dink, en daarom sê hy: “Elke koninkryk wat verdeeld is, word verwoes, en elke stad of huis wat verdeeld is, sal nie bly staan nie. Net so, as Satan Satan uitdryf, het hy teen homself gedraai. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?” – Matteus 12:25, 26.

Wat ’n uitstekende redenasie! Die Fariseërs weet dat sommige Jode demone uitdryf (Handelinge 19:13). Daarom vra Jesus: “As ek die demone deur Beëlsebub uitdryf, deur wie dryf julle volgelinge hulle uit?” Met ander woorde, hulle kan net sowel van dieselfde ding beskuldig word. Dan redeneer Jesus verder: “Maar as dit deur God se gees is dat ek die demone uitdryf, het die Koninkryk van God julle werklik ingehaal.” – Matteus 12:27, 28.

Die feit dat Jesus demone uitdryf, bewys dat hy magtiger as Satan is, en Jesus illustreer dit deur te sê: “Hoe kan iemand in die huis van ’n sterk man inkom en sy besittings vat as hy nie die sterk man eers vooraf vasbind nie? Slegs dan kan hy alles in sy huis vat. Enigiemand wat nie aan my kant is nie, is teen my, en enigiemand wat nie mense saam met my bymekaarmaak nie, dryf hulle uitmekaar” (Matteus 12:29, 30). Die skrifgeleerdes en die Fariseërs is beslis teen Jesus, wat bewys dat hulle hulle deur Satan laat gebruik. Hulle dryf mense weg van die Seun van God, wat Jehovah se ondersteuning het.

Jesus waarsku hierdie sataniese teenstanders: “Mense sal alles vergewe word, ongeag watter sondes hulle pleeg en watter lasterlike dinge hulle sê. Maar enigiemand wat teen die heilige gees laster, het tot in ewigheid geen vergifnis nie, maar is skuldig aan ewige sonde” (Markus 3:28, 29). Dink aan wat dit beteken vir dié wat sê dat dit Satan is wat iets doen, terwyl dit duidelik deur God se gees gedoen word!