Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 48

Selfs in Nasaret verwerp, ondanks wonderwerke

Selfs in Nasaret verwerp, ondanks wonderwerke

MATTEUS 9:27-34; 13:54-58 MARKUS 6:1-6

  • JESUS GENEES DIE BLINDES EN DIE STOMMES

  • MENSE IN NASARET VERWERP HOM

Dit was ’n lang dag vir Jesus. Nadat hy van die Dekapolis teruggekeer het, het hy die vrou met die bloedvloeiing genees en Jaïrus se dogter opgewek. Maar die dag is nog nie verby nie. Wanneer Jesus Jaïrus se huis verlaat, volg twee blinde mans hom, wat uitroep: “Betoon genade aan ons, Seun van Dawid.” – Matteus 9:27.

Deur Jesus “Seun van Dawid” te noem, wys hierdie mans dat hulle glo dat Jesus die erfgenaam van die troon van Dawid en dus die Messias is. Dit lyk asof Jesus hulle uitroepe ignoreer, dalk omdat hy wil sien hoe vasbeslote hulle is. En hulle is wel, want wanneer Jesus in ’n huis ingaan, volg die twee mans hom. Jesus vra hulle: “Glo julle dat ek dit kan doen?” Hulle antwoord vol vertroue: “Ja, Here.” Dan raak Jesus aan hulle oë en sê: “Laat dit gebeur volgens julle geloof.” – Matteus 9:28, 29.

Skielik kan hulle sien! Net soos voorheen, sê Jesus dat hulle ook nie bekend moet maak wat hy gedoen het nie. Maar hulle is so bly dat hulle later wyd en syd oor hom praat.

Terwyl die twee mans weggaan, bring mense ’n man in wat nie kan praat nie omdat hy ’n demoon in hom het. Jesus dryf die demoon uit, en die man begin onmiddellik praat. Die skare is verbaas hieroor en sê: “So iets is nog nooit in Israel gesien nie.” Daar is ook Fariseërs teenwoordig. Hulle kan nie sê dat die wonderwerke nie plaasgevind het nie, en daarom maak hulle weer dieselfde beskuldiging teen Jesus: “Dit is deur die heerser van die demone dat hy die demone uitdryf.” – Matteus 9:33, 34.

Kort daarna gaan Jesus terug na sy tuisdorp, Nasaret, en hierdie keer is sy dissipels saam met hom. Omtrent ’n jaar tevore het hy in die sinagoge daar onderrig. Aan die begin was die mense verstom oor wat hy gesê het, maar later het hulle aanstoot geneem oor wat hy geleer het en het hulle hom probeer doodmaak. Nou probeer Jesus weer om sy voormalige bure te help.

Op die Sabbat gaan hy terug na die sinagoge om daar te onderrig. Baie is verstom en vra selfs: “Waar het hierdie man hierdie wysheid gekry, en hoe doen hy hierdie kragtige werke?” Hulle sê: “Is hy nie die timmerman se seun nie? Is sy ma se naam nie Maria en sy broers se name Jakobus en Josef en Simon en Judas nie? En is sy susters nie almal by ons nie? Waar het hy sy wysheid gekry, en hoe doen hy al hierdie dinge?” – Matteus 13:54-56.

Die mense voel dat Jesus net ’n plaaslike inwoner is. ‘Hy het voor ons grootgeword,’ dink hulle, ‘hoe kan hy dan die Messias wees?’ Daarom, ondanks al die bewyse – insluitende Jesus se groot wysheid en wonderwerke – verwerp hulle hom. Omdat hulle Jesus ken, word selfs sy familielede as gevolg van hom gestruikel, en dit laat hom sê: “’n Profeet word oral geëer, behalwe in sy tuisgebied en in sy eie huis.” – Matteus 13:57.

Ja, Jesus is verbaas oor hulle gebrek aan geloof. Hy doen dus geen wonderwerke daar nie “behalwe om sy hande op ’n paar siek mense te lê en hulle te genees”. – Markus 6:5, 6.