Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 78

Bly gereed, getroue bestuurder!

Bly gereed, getroue bestuurder!

LUKAS 12:35-59

  • DIE GETROUE BESTUURDER MOET GEREED BLY

  • JESUS KOM OM VERDEELDHEID TE VEROORSAAK

Jesus het verduidelik dat slegs ’n “klein kuddetjie” ’n plek in die hemelse Koninkryk sal ontvang (Lukas 12:32). Maar hierdie wonderlike beloning is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie. Om die waarheid te sê, hy beklemtoon hoe belangrik dit sal wees om die regte gesindheid te hê om deel van die Koninkryk te wees.

Jesus spoor dus sy dissipels aan om gereed te bly vir wanneer hy terugkom. Hy sê: “Sorg dat julle aangetrek en gereed is, en laat julle lampe brand, en julle moet soos mense wees wat vir hulle meester wag om van die huweliksfees af terug te kom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak wanneer hy kom klop. Gelukkig is daardie slawe wanneer die meester kom en sien dat hulle wakker is!” – Lukas 12:35-37.

Dit is maklik vir die dissipels om te verstaan watter gesindheid Jesus in gedagte het. Die knegte waarvan hy praat, is gereed en wag vir hulle meester om terug te keer. Jesus verduidelik: “Gelukkig is hulle as hy [die meester] in die tweede waak [van omtrent negeuur die aand tot middernag] of selfs in die derde waak [van middernag tot omtrent drieuur die oggend] kom en sien dat hulle gereed is!” – Lukas 12:38.

Dit is veel meer as net ’n aansporing om pligsgetroue huisknegte, of werkers, te wees. Dit kan duidelik gesien word uit die manier waarop Jesus, die Seun van die mens, homself in die illustrasie inbring. Hy sê vir sy dissipels: “Julle moet julle ook gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle nie verwag nie” (Lukas 12:40). Jesus sal dus êrens in die toekoms kom. Hy wil hê dat sy volgelinge – veral lede van die “klein kuddetjie” – gereed moet wees.

Petrus wil Jesus se illustrasie duidelik verstaan, en daarom vra hy: “Here, vertel u hierdie illustrasie net vir ons of ook vir almal?” Jesus vertel nog ’n illustrasie wat verband hou met die eerste een eerder as om Petrus ’n direkte antwoord te gee: “Wie is werklik die getroue bestuurder, die verstandige, wat sy meester oor sy huisknegte sal aanstel om altyd vir hulle hulle deel van die voedsel op die regte tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy meester hom daarmee besig vind wanneer hy kom! Ek vertel julle die waarheid: Sy meester sal hom oor al sy besittings aanstel.” – Lukas 12:41-44.

In die vorige illustrasie is dit duidelik dat “die meester” na Jesus, die Seun van die mens, verwys. Dit is dus logies dat “die getroue bestuurder” mense insluit wat deel is van die “klein kuddetjie” en wat die Koninkryk sal ontvang (Lukas 12:32). Jesus sê hier dat sekere lede van hierdie groep “sy huisknegte . . . hulle deel van die voedsel op die regte tyd [sal] gee”. Petrus en die ander dissipels wat deur Jesus geleer en geestelik gevoed word, kan dus aflei dat daar ’n tyd in die toekoms sal wees wanneer die Seun van die mens sal kom. En in daardie tyd sal daar ’n reëling wees om Jesus se volgelinge, die Meester se “huisknegte”, geestelik te voed.

Jesus beklemtoon op nog ’n manier hoekom sy dissipels waaksaam moet wees en op hulle gesindheid moet let. Dit is omdat dit vir iemand moontlik is om nie meer om te gee nie en om selfs die punt te bereik waar hy sy medeknegte teëstaan: “Maar as daardie slaaf ooit in sy hart sou sê: ‘My meester vat lank om te kom,’ en hy die diensknegte en die diensmeisies begin slaan en begin eet en drink en dronk word, sal die meester van daardie slaaf op ’n dag en ’n uur kom wanneer hy hom nie verwag nie, en hy sal hom baie swaar straf en hom ’n plek gee by die mense wat nie getrou was nie.” – Lukas 12:45, 46.

Jesus sê dat hy gekom het “om ’n vuur op die aarde te maak”. En hy het dit gedoen deur oor dinge te praat wat hewige besprekings veroorsaak het en verkeerde leringe en tradisies as ’t ware in rook laat opgaan het. Dit veroorsaak verdeeldheid, selfs tussen persone wat normaalweg verenig sou wees – “pa teen seun en seun teen pa, ma teen dogter en dogter teen ma, skoonma teen skoondogter en skoondogter teen skoonma”. – Lukas 12:49, 53.

Hierdie kommentare is veral vir sy dissipels bedoel. Dan praat Jesus met die skare. Die meeste mense weier hardkoppig om die bewyse te aanvaar dat hy die Messias is, en daarom sê hy vir hulle: “Wanneer julle ’n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Daar kom ’n storm,’ en dan gebeur dit. En wanneer julle sien dat ’n suidewind waai, sê julle: ‘Daar sal ’n hittegolf wees,’ en dan gebeur dit. Skynheiliges, julle kan sien hoe die weer gaan wees deur na die aarde en die lug te kyk, maar hoekom kan julle nie sien wat in hierdie tyd plaasvind nie?” (Lukas 12:54-56). Dit is duidelik dat hulle nie gereed is nie.