Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 66

In Jerusalem vir die Loofhuttefees

In Jerusalem vir die Loofhuttefees

JOHANNES 7:11-32

  • JESUS ONDERRIG IN DIE TEMPEL

Jesus het welbekend geword in die jare sedert hy gedoop is. Duisende Jode het sy wonderwerke gesien, en berigte oor sy werke het regdeur die land versprei. Nou, by die Loofhuttefees in Jerusalem, is baie mense op soek na hom.

Mense het verskillende opinies oor Jesus. “Hy is ’n goeie man,” sê party. Ander sê weer: “Hy is nie. Hy mislei die mense” (Johannes 7:12). Baie mense fluister hierdie dinge onder mekaar gedurende die eerste paar dae van die fees. Maar niemand het die moed om Jesus in die openbaar te verdedig nie, want baie mense is bang oor hoe die Joodse leiers sal reageer.

In die loop van die fees daag Jesus by die tempel op. Baie mense is verbaas oor sy uitsonderlike onderrigvermoë. Hy het nooit die rabbynse skole bygewoon nie, en daarom wonder die Jode: “Hoe is dit dat hierdie man soveel kennis van die Skrif het as hy nie aan die skole gestudeer het nie?” – Johannes 7:15.

“Wat ek leer, is nie myne nie,” verduidelik Jesus, “maar behoort aan hom wat my gestuur het. As iemand ’n begeerte het om Sy wil te doen, sal hy weet of die dinge wat ek aan mense leer, van God af kom en of ek uit my eie praat” (Johannes 7:16, 17). Jesus se onderrigting is in ooreenstemming met God se Wet, en daarom behoort enigiemand duidelik te kan sien dat hy God se heerlikheid soek, nie sy eie nie.

Dan sê Jesus: “Moses het vir julle die Wet gegee, nie waar nie? Maar nie een van julle gehoorsaam die Wet nie. Hoekom probeer julle my doodmaak?” Party in die skare, wat waarskynlik besoekers van buite die stad is, weet nie dat daar mense is wat Jesus wil doodmaak nie. Dit is vir hulle ondenkbaar dat enigiemand ’n leermeester soos hy sal wil doodmaak. Daarom neem hulle aan dat daar iets fout moet wees met Jesus omdat hy so iets sê. “Jy het ’n demoon,” sê hulle. “Wie probeer jou doodmaak?” – Johannes 7:19, 20.

Wel, ’n jaar en ’n half tevore wou die Joodse leiers Jesus doodmaak nadat hy ’n man op die Sabbat genees het. Jesus gebruik nou ’n gedagteprikkelende redenasie om te wys hoe onredelik hulle was. Hy herinner hulle daaraan dat ’n babaseuntjie volgens die Wet op die agtste dag besny moet word, selfs al is dit die Sabbat. Dan vra hy: “As ’n man op ’n sabbat besny word sodat die Wet van Moses nie verbreek word nie, is julle dan woedend vir my omdat ek ’n mens op ’n sabbat heeltemal gesond gemaak het? Hou op om te oordeel volgens wat julle sien, maar oordeel met ’n regverdige oordeel.” – Johannes 7:23, 24.

Inwoners van Jerusalem wat bewus is van die situasie sê: “Is dit nie die man wat hulle [die leiers] probeer doodmaak nie? En tog praat hy in die openbaar, en hulle sê niks vir hom nie. Weet ons leiers nou vir seker dat hy die Christus is?” Hoekom glo die mense dan nie dat Jesus die Christus is nie? “Ons weet dan waar hierdie man vandaan kom. Maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar hy vandaan kom nie,” sê hulle. – Johannes 7:25-27.

Daar in die tempel antwoord Jesus hulle: “Julle ken my en weet waar ek vandaan kom. Ek het nie uit my eie gekom nie, maar die Een wat my gestuur het, bestaan werklik, en julle ken hom nie. Ek ken hom, want ek is ’n verteenwoordiger wat van hom af kom, en hy het my gestuur” (Johannes 7:28, 29). In reaksie hierop probeer die mense Jesus in die hande kry. Hulle wil hom of in die tronk gooi of hom doodmaak. Maar hulle kry dit nie reg nie, want dit is nog nie tyd vir Jesus om te sterf nie.

Maar baie stel geloof in Jesus, en met goeie rede. Hy het op water geloop, die winde laat bedaar, duisende wonderdadig gevoed met ’n paar brode en visse, siekes genees, kreupeles laat loop, die oë van blindes geopen, melaatses gesond gemaak en selfs dooies opgewek. Ja, hulle het goeie rede om te vra: “Wanneer die Christus kom, sal hy tog nie meer wonderwerke doen as wat hierdie man gedoen het nie, of hoe?” – Johannes 7:31.

Wanneer die Fariseërs hoor dat die skare hierdie dinge sê, stuur hulle en die hoofpriesters beamptes uit om Jesus te arresteer.