Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 74

Lesse oor gasvryheid en gebed

Lesse oor gasvryheid en gebed

LUKAS 10:38–11:13

  • JESUS BESOEK MARTA EN MARIA

  • VOLHARDING IN GEBED IS NOODSAAKLIK

Aan die oostelike hang van die Olyfberg, sowat drie kilometer van Jerusalem, lê die dorpie Betanië (Johannes 11:18). Daar gaan Jesus na die huis van twee susters, Marta en Maria. Hulle en hulle broer, Lasarus, is Jesus se vriende, en hulle verwelkom hom met ope arms.

Dit is ’n voorreg om die Messias as ’n besoeker te hê. Marta is gretig om goed na Jesus te kyk, en daarom begin sy ’n groot maaltyd voorberei. Terwyl Marta besig is, sit haar suster, Maria, by Jesus se voete en luister na hom. Ná ’n rukkie sê Marta vir Jesus: “Here, gee u nie om dat my suster my los om alles alleen te doen nie? Sê vir haar om my te kom help.” – Lukas 10:40.

Eerder as om Maria te kritiseer, gee Jesus Marta raad omdat sy oorbesorg is oor materiële dinge: “Marta, Marta, jy is angstig en bekommerd oor baie dinge, maar net ’n paar dinge is nodig, of selfs net een. Maria het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar af weggeneem word nie” (Lukas 10:41, 42). Ja, Jesus beklemtoon dat dit nie nodig is om baie tyd te gebruik om baie disse voor te berei nie. ’n Eenvoudige maaltyd is genoeg.

Marta het goeie bedoelings. Sy wil gasvry wees. Maar omdat sy soveel aandag skenk aan die maaltyd, mis sy uit op die kans om waardevolle onderrigting te ontvang van God se eie Seun! Jesus beklemtoon dat Maria ’n wyse besluit gemaak het, een wat blywende voordele vir haar sal hê. En ons kan ook ’n les hieruit leer.

By ’n ander geleentheid leer Jesus sy dissipels nog so ’n belangrike les. ’n Dissipel vra hom: “Here, leer ons hoe om te bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het” (Lukas 11:1). Jesus het dit alreeds ’n jaar en ’n half gelede in sy Bergpredikasie gedoen (Matteus 6:9-13). Maar omdat hierdie dissipel dalk nie daar was nie, herhaal Jesus die hoofpunte. Dan vertel hy ’n illustrasie om te beklemtoon dat dit belangrik is om in gebed te volhard.

“Sê nou een van julle het ’n vriend en jy gaan middernag na hom toe en sê vir hom: ‘Vriend, leen vir my drie brode, want een van my vriende het nou net by my aangekom, en ek het niks om vir hom aan te bied nie.’ Maar die man antwoord van binne af: ‘Hou op om my te pla. Die deur is al gesluit, en my jong kinders is saam met my in die bed. Ek kan nie opstaan en vir jou iets gee nie.’ Ek sê vir julle: Al staan die man nie op om vir jou iets te gee omdat jy sy vriend is nie, sal die man beslis opstaan omdat jy aanhoudend vra, en die man sal vir jou gee wat jy ook al nodig het.” – Lukas 11:5-8.

Jesus bedoel nie dat Jehovah onwillig is om te reageer as iemand hulp vra nie. Hy wys eerder dat as ’n onwillige vriend op aanhoudende versoeke sal reageer, ons liefdevolle hemelse Vader beslis op die opregte versoeke van sy getroue knegte sal reageer! Jesus sê verder: “Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop, sal daar oopgemaak word.” – Lukas 11:9, 10.

Jesus beklemtoon dan sy punt deur te vra: “Watter pa onder julle sal, as sy seun ’n vis vra, vir hom ’n slang in plaas van ’n vis gee? Of sal hy vir hom ’n skerpioen gee as hy ’n eier vra? As julle wat goddeloos is, dan weet hoe om goeie dinge vir julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee vir dié wat hom vra!” (Lukas 11:11-13). Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat ons Vader bereid is om na ons te luister en ons te gee wat ons nodig het!