Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 68

“Die lig van die wêreld” – Die seun van God

“Die lig van die wêreld” – Die seun van God

JOHANNES 8:12-36

  • JESUS VERDUIDELIK WIE DIE SEUN IS

  • IN WATTER OPSIG IS DIE JODE SLAWE?

Op die laaste dag van die Loofhuttefees, die sewende dag, is Jesus besig om mense te leer in die deel van die tempel wat die “skatkisgedeelte” genoem word (Johannes 8:20; Lukas 21:1). Dit is blykbaar in die Voorhof van die Vroue, waar mense hulle bydraes kom neersit.

Tydens die fees word hierdie deel van die tempel in die aand verlig. Daar is vier reuselampstaanders, elkeen met vier groot komme vol olie. Die lig van hierdie lampe is helder genoeg om ’n groot deel van die omgewing te verlig. Dit is dalk waaraan Jesus se luisteraars dink wanneer Jesus nou sê: “Ek is die lig van die wêreld. Enigiemand wat my volg, sal nie in die duisternis loop nie, maar sal die lig van die lewe besit.” – Johannes 8:12.

Die Fariseërs bevraagteken Jesus en sê: “Jy getuig oor jouself. Jou getuienis is nie waar nie.” Jesus sê: “Selfs al getuig ek oor myself, is my getuienis waar, omdat ek weet waar ek vandaan kom en waarheen ek gaan. Maar julle weet nie waar ek vandaan kom en waarheen ek gaan nie.” Hy voeg by: “Daar is ook in julle eie Wet geskryf: ‘Die getuienis van twee mense is waar.’ Ek is een wat oor myself getuig, en die Vader wat my gestuur het, getuig oor my.” – Johannes 8:13-18.

Die Fariseërs stem nie saam nie en vra: “Waar is jou Vader?” Jesus antwoord reguit: “Julle ken my nie, en ook nie my Vader nie. As julle my geken het, sou julle my Vader ook geken het” (Johannes 8:19). Al wil die Fariseërs nog steeds hê dat Jesus gearresteer moet word, doen niemand dit nie.

Jesus herhaal iets wat hy reeds gesê het: “Ek gaan weg, en julle sal my soek, en tog sal julle in julle sonde sterf. Waarheen ek gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode, wat Jesus se woorde heeltemal verkeerd verstaan, begin wonder: “Hy sal homself tog nie doodmaak nie, of hoe? Want hy sê: ‘Waarheen ek gaan, kan julle nie kom nie.’” Hulle verstaan nie wat Jesus bedoel nie, want hulle weet nie waar hy vandaan kom nie. Hy verduidelik: “Julle is van hier onder. Ek is van daar bo. Julle is van hierdie wêreld. Ek is nie van hierdie wêreld nie.” – Johannes 8:21-23.

Jesus praat van sy voormenslike bestaan in die hemel en van die feit dat hy die beloofde Messias, of Christus, is – die een wat hierdie godsdiensleiers behoort te verwag. Nogtans vra hulle sarkasties: “Wie is jy?” – Johannes 8:25.

Omdat Jesus weet dat hulle hom verwerp en teëstaan, sê hy: “Hoekom praat ek nog met julle?” Tog vestig hy die aandag op sy Vader en verduidelik hy hoekom die Jode na die Seun moet luister: “Die Een wat my gestuur het, is betroubaar, en ek maak die dinge wat ek by hom gehoor het, in die wêreld bekend.” – Johannes 8:25, 26.

Anders as die Jode het Jesus vertroue in sy Vader. Hy sê: “Nadat julle die Seun van die mens opgelig het, dan sal julle weet dat dit ek is, en dat ek niks uit my eie doen nie, maar ek sê hierdie dinge net soos die Vader my geleer het. En die Een wat my gestuur het, is met my. Hy het my nie aan myself oorgelaat nie, want ek doen altyd die dinge wat sy hart bly maak.” – Johannes 8:28, 29.

Maar party Jode stel wel geloof in Jesus, en hy sê vir hulle: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” – Johannes 8:31, 32.

Vir sommige klink dit vreemd dat Jesus sê dat ’n mens vrygemaak kan word. Hulle maak beswaar: “Ons is Abraham se nageslag en ons was nog nooit enigiemand se slawe nie. Hoe is dit dat jy sê: ‘Julle sal vry word’?” Die Jode weet dat hulle al deur ander nasies oorheers is, maar hulle weier om slawe genoem te word. Maar Jesus sê dat hulle nog steeds slawe is: “Ek verseker julle: Elkeen wat sondig, is ’n slaaf van die sonde.” – Johannes 8:33, 34.

Omdat die Jode weier om te erken dat hulle slawe van sonde is, is hulle in ’n gevaarlike posisie. “Die slaaf bly nie vir ewig in die huis nie,” verduidelik Jesus. “Die seun bly vir ewig” (Johannes 8:35). ’n Slaaf het geen reg op ’n erfporsie nie, en hy kan enige tyd weggestuur word. Slegs die seun wat in die huisgesin gebore is of wat aangeneem is, bly “vir ewig”, dit wil sê solank as wat hy lewe.

Die waarheid oor die Seun is dus die waarheid wat mense vir ewig vrymaak van sonde wat tot die dood lei. “As die Seun julle dan vrymaak, sal julle werklik vry wees,” sê Jesus. – Johannes 8:36.