Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 67

“Nog nooit het enige mens so gepraat nie”

“Nog nooit het enige mens so gepraat nie”

JOHANNES 7:32-52

  • BEAMPTES WORD GESTUUR OM JESUS TE ARRESTEER

  • NIKODEMUS VERDEDIG JESUS

Jesus is nog steeds in Jerusalem vir die Loofhuttefees. Hy is bly dat ‘baie van die skare geloof in hom stel’. Maar die godsdiensleiers is nie bly hieroor nie. Hulle stuur beamptes, wat as ’n soort godsdienspolisie dien, om hom te arresteer (Johannes 7:31, 32). En tog probeer Jesus nie wegkruip nie.

Jesus hou eerder aan om in Jerusalem in die openbaar te onderrig, en hy sê: “Ek sal nog ’n klein rukkie by julle wees voordat ek na die Een toe gaan wat my gestuur het. Julle sal my soek, maar julle sal my nie vind nie, en waar ek is, kan julle nie kom nie” (Johannes 7:33, 34). Die Jode verstaan nie wat hy bedoel nie, en daarom sê hulle onder mekaar: “Waarheen is hierdie man van plan om te gaan, sodat ons hom nie sal vind nie? Hy is tog nie van plan om na die Jode te gaan wat onder die Grieke verstrooi is en om die Grieke te leer nie, of hoe? Wat bedoel hy wanneer hy sê: ‘Julle sal my soek, maar julle sal my nie vind nie, en waar ek is, kan julle nie kom nie’?” (Johannes 7:35, 36). Jesus praat egter van sy dood en opstanding tot lewe in die hemel, en sy vyande kan hom nie daarheen volg nie.

Die sewende dag van die fees breek aan. Tydens die fees het ’n priester elke oggend water wat uit die poel van Siloam geneem is, uitgegooi sodat dit na die voet van die altaar in die tempel gevloei het. Jesus herinner die mense waarskynlik aan hierdie gebruik en roep uit: “As iemand dors is, laat hom na my toe kom en drink. Die Skrifgedeelte sê die volgende oor enigiemand wat geloof in my stel: ‘Uit sy binneste sal strome van lewende water vloei.’” – Johannes 7:37, 38.

Jesus praat van wat sal gebeur wanneer sy dissipels met heilige gees gesalf is en geroep word tot lewe in die hemel. Hierdie salwing sal gebeur ná Jesus se dood, op die dag van Pinkster die volgende jaar. Op daardie dag sal lewegewende water begin vloei wanneer geesgesalfde dissipels die waarheid met mense deel.

In reaksie op Jesus se lering sê party: “Hy is regtig die Profeet,” wat blykbaar verwys na die voorspelde profeet wat groter is as Moses. Ander sê: “Hy is die Christus.” Maar party sê: “Die Christus kom nie uit Galilea nie, of hoe? Sê die Skrif nie dat die Christus uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorpie waar Dawid was, kom nie?” – Johannes 7:40-42.

Die skare is dus verdeeld. Al wil party hê dat Jesus gearresteer moet word, gebeur dit nie. Wanneer die beamptes sonder Jesus teruggaan na die godsdiensleiers, vra die hoofpriesters en die Fariseërs: “Hoekom het julle hom nie gebring nie?” Die beamptes antwoord: “Nog nooit het enige mens so gepraat nie.” Die godsdiensleiers word kwaad en begin hulle spot en beledig en sê: “Is julle dan nou ook mislei? Nie een van ons leiers of van die Fariseërs het geloof in hom gestel nie. Maar hierdie skare wat die Wet nie ken nie, is vervloekte mense.” – Johannes 7:45-49.

Dan besluit Nikodemus, ’n Fariseër en ’n lid van die Sanhedrin, om Jesus te verdedig. Nikodemus het sowat twee en ’n half jaar gelede in die nag na Jesus toe gegaan en gesê dat hy geloof in hom stel. Nou sê Nikodemus: “Ons Wet oordeel nie ’n mens sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie.” Wat sê hulle om hulleself te verdedig? “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Stel ondersoek in, en dan sal jy sien dat geen profeet uit Galilea sal kom nie.” – Johannes 7:51, 52.

Die Skrif sê nie reguit dat ’n profeet uit Galilea sou kom nie. Tog het God se Woord gewys dat die Christus daarvandaan kom; dit het voorspel dat “’n groot lig” gesien sou word in “Galilea van die nasies” (Jesaja 9:1, 2; Matteus 4:13-17). Wat meer is, Jesus is in Betlehem gebore, soos voorspel, en hy is ’n nakomeling van Dawid. Al is die Fariseërs dalk hiervan bewus, het hulle waarskynlik baie van die verkeerde idees versprei wat mense oor Jesus het.