Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 86

Die verlore seun keer terug

Die verlore seun keer terug

LUKAS 15:11-32

  • ILLUSTRASIE VAN DIE VERLORE SEUN

Jesus het die illustrasie van die verlore skape en die verlore dragma vertel terwyl hy waarskynlik nog in Perea, oos van die Jordaanrivier, was. Ons leer uit albei illustrasies dat ons bly moet wees wanneer ’n sondaar berou toon en na God terugkeer. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het Jesus gekritiseer omdat hy vriendelik is met sulke mense en met hulle assosieer. Maar leer hierdie kritiese mense iets uit Jesus se twee illustrasies? Verstaan hulle hoe ons hemelse Vader voel oor berouvolle sondaars? Nou vertel Jesus ’n treffende illustrasie wat hierdie selfde belangrike les beklemtoon.

Die illustrasie gaan oor ’n pa met twee seuns, en die jongste seun is die hoofkarakter in hierdie illustrasie. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes sowel as ander wat na Jesus luister, sal iets kan leer uit wat oor hierdie jongste seun gesê word. Maar wat Jesus sê oor die pa en die oudste seun, is net so belangrik, en ons kan ook baie leer uit hulle gesindhede. Dink dus na oor hierdie drie mans terwyl Jesus die illustrasie vertel:

“’n Man het twee seuns gehad,” begin Jesus. “Die jongste seun het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die eiendom wat ek gaan erf.’ Toe het hy sy besittings tussen hulle verdeel” (Lukas 15:11, 12). Let op dat hierdie jongste seun nie sy erfporsie vra omdat sy pa gesterf het nie. Die pa lewe nog. Tog wil die seun sy deel nou hê sodat hy onafhanklik kan wees en daarmee kan doen wat hy wil. Wat wil hy daarmee doen?

“’n Paar dae later,” verduidelik Jesus, “het die jongste seun al sy besittings bymekaargemaak en na ’n ver land gereis, en daar het hy alles uitgemors deur ’n wilde lewe te lei” (Lukas 15:13). Eerder as om by die huis te bly waar hy veilig is en ’n pa het wat vir sy kinders omgee en vir hulle sorg, gaan die seun na ’n ander land toe. Daar mors hy al sy besittings deur uitspattig te lewe en sy seksuele begeertes te bevredig. Maar dan kom moeilike tye, soos Jesus verder vertel:

“Nadat hy al sy geld uitgegee het, was daar ’n groot hongersnood in daardie hele land, en hy het begin swaarkry. Hy het selfs vir een van die inwoners van daardie land begin werk, wat hom na sy veld gestuur het om varke op te pas. En hy het gewens dat hy van die peule kon eet wat die varke geëet het, maar niemand het vir hom enigiets gegee nie.” – Lukas 15:14-16.

Volgens God se Wet is varke onrein, maar nou moet hierdie seun as ’n varke-oppasser werk. Omdat hy so uitgehonger is, wil hy selfs kos eet wat gewoonlik bedoel is vir diere, die varke wat hy oppas. In hierdie hopelose situasie kom “hy tot sy sinne”. Wat doen hy? Hy sê vir homself: “Hoeveel van my pa se gehuurde werkers het meer as genoeg brood, terwyl ek hier van die honger doodgaan! Ek sal opstaan en na my pa toe reis en vir hom sê: ‘Pa, ek het teen die hemel en teen Pa gesondig. Ek verdien nie meer om Pa se seun genoem te word nie. Maak my soos een van Pa se gehuurde werkers.’” Toe staan hy op en gaan na sy pa toe. – Lukas 15:17-20.

Hoe sal sy pa reageer? Sal hy kwaad word vir sy seun en hom uitskel en sê hoe dom dit was om die huis in die eerste plek te verlaat? Sal die pa hom koud behandel en hom onwelkom laat voel? Hoe sou jy gereageer het as dit jy was? Sê nou dit was jou seun of dogter?

DIE VERLORE SEUN WORD GEVIND

Jesus beskryf hoe die pa voel en optree: “Terwyl [die seun] nog ’n hele ent weg was, het sy pa hom gesien en baie jammer vir hom gevoel, en hy het gehardloop en hom omhels en hom gesoen” (Lukas 15:20). Selfs al het die pa gehoor van die seun se wilde lewe, verwelkom hy sy seun terug. Sal die Joodse leiers, wat sê dat hulle Jehovah ken en aanbid, hieruit leer hoe ons hemelse Vader oor sondaars voel wat berou toon? Sal hulle ook besef dat Jesus dieselfde verwelkomende gesindheid toon?

Die pa kan heel moontlik uit die hartseer uitdrukking op sy seun se gesig sien dat hy berouvol is. Maar die pa se liefdevolle verwelkoming maak dit vir die seun makliker om sy sondes te bely. Jesus sê: “Toe het die seun vir hom gesê: ‘Pa, ek het teen die hemel en teen Pa gesondig. Ek verdien nie meer om Pa se seun genoem te word nie.’” – Lukas 15:21.

Die pa beveel sy slawe: “Maak gou! Bring ’n kleed, die beste kleed, en trek dit vir hom aan, en sit ’n ring aan sy hand en sandale aan sy voete. En bring die vetgemaakte kalf, slag dit en laat ons eet en feesvier, want my seun was dood en het weer lewend geword. Hy was verlore en is gevind.” Dan begin hulle ‘vrolik feesvier’. – Lukas 15:22-24.

Intussen is die pa se oudste seun op die landery. Jesus sê: “Toe hy daarvandaan terugkeer en naby die huis kom, het hy gehoor hoe daar musiek gespeel en gedans word. Toe het hy een van die knegte geroep en gevra wat aan die gang is. Die kneg het vir hom gesê: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom gesond teruggekry het.’ Maar hy het kwaad geword en geweier om in te gaan. Toe het sy pa uitgekom en hom begin smeek om in te kom. Hy het sy pa geantwoord: ‘Kyk! Al hierdie jare het ek Pa soos ’n slaaf gedien, en ek was nog nooit ongehoorsaam aan Pa nie, en tog het Pa nog nooit vir my ’n boklam gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar die oomblik toe hierdie seun wat Pa se geld saam met prostitute gemors het, hier aankom, het Pa die vetgemaakte kalf vir hom geslag.’” – Lukas 15:25-30.

Wie was, soos die oudste seun, krities oor Jesus se genade en die aandag wat hy aan die gewone mense en sondaars gegee het? Die skrifgeleerdes en Fariseërs. Jesus het hierdie illustrasie juis vertel omdat hulle hom gekritiseer het nadat hy sondaars verwelkom het. Enigiemand wat natuurlik krities is teenoor God se genade, moet hierdie les ernstig opneem.

Jesus sluit sy illustrasie af met die woorde van die pa aan sy oudste seun: “My seun, jy was nog altyd by my, en alles wat myne is, is joune. Maar ons moes eenvoudig feesvier en bly wees, want hierdie broer van jou was dood maar het lewend geword, en hy was verlore en is gevind.” – Lukas 15:31, 32.

Jesus sê nie wat die oudste seun op die ou end doen nie. Maar ná Jesus se dood en opstanding het ‘’n groot groep priesters gelowiges geword’ (Handelinge 6:7). Onder hierdie groep was daar dalk party wat gehoor het hoe Jesus hierdie kragtige illustrasie vertel oor die seun wat verlore was. Ja, dit was selfs vir hulle moontlik om tot hulle sinne te kom, berou te toon en na God terug te keer.

Van daardie dag af kan en moet Jesus se dissipels die belangrike lesse wat hy in hierdie uitstekende illustrasie gegee het, ernstig opneem. Eerstens kan ons leer hoe wys dit is om by God se volk te bly, onder die sorg van ons Vader wat lief is vir ons, in plaas daarvan om agter plesier in “’n ver land” aan te loop.

Dan is daar nog ’n les: As enigeen van ons van God se weg afdwaal, moet ons nederig na ons Vader terugkeer om weer sy goedkeuring te geniet.

En dan is daar nog die verskil tussen die pa se gesindheid en dié van die oudste broer. Die een verwelkom die jonger broer en wil hom graag vergewe, maar die ander een is kwaad, wil hom nie vergewe nie en verwelkom hom nie. Wat is die les? Dit is duidelik dat God se knegte iemand moet vergewe en verwelkom as hy afgedwaal het, maar werklik berou toon en na ‘die huis van die Vader’ terugkeer. Ons moet bly wees dat ons broer wat ‘dood was, lewend geword het’ en dat hy ‘wat verlore was, gevind is’.