Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 100

Sy illustrasie van tien minas

Sy illustrasie van tien minas

LUKAS 19:11-28

  • JESUS SE ILLUSTRASIE VAN DIE TIEN MINAS

Al is Jesus op pad na Jerusalem, is hy dalk nog steeds by Saggeus se huis saam met sy dissipels. Hulle glo dat “die Koninkryk van God” binnekort opgerig gaan word met Jesus as Koning (Lukas 19:11). Maar hulle verstaan hierdie saak nie heeltemal reg nie, net soos hulle nie verstaan dat Jesus moet sterf nie. Hy vertel hulle dus ’n illustrasie wat hulle help om te sien dat die Koninkryk eers ver in die toekoms opgerig sal word.

Hy sê: “’n Sekere man uit ’n koninklike gesin het na ’n ver land gereis om koning te word, en daarna sou hy terugkeer” (Lukas 19:12). So ’n reis sou lank neem. Dit is duidelik dat Jesus die man is wat “uit ’n koninklike gesin” kom en wat reis na ’n “ver land”, na die hemel, waar sy Vader hom koninklike mag sal gee.

Voordat die man wat “uit ’n koninklike gesin” kom, vertrek, roep hy tien slawe en gee hy aan elkeen ’n silwer mina en sê hy vir hulle: “Dryf handel hiermee totdat ek kom” (Lukas 19:13). ’n Mina is baie waardevol. Dit is min of meer gelyk aan die loon wat ’n werker in drie maande verdien.

Die dissipels besef dalk dat hulle soos die tien slawe in die illustrasie is, want Jesus het hulle reeds met oeswerkers vergelyk (Matteus 9:35-38). Hy het hulle natuurlik nie gevra om letterlike graan te oes nie. Die oes bestaan eerder uit ander dissipels wat in God se Koninkryk sal regeer. Die dissipels moet alles in hulle vermoë doen om meer erfgename van die Koninkryk in te samel.

Wat anders maak Jesus in sy illustrasie bekend? Hy sê: “Inwoners het [die man uit ’n koninklike gesin] gehaat en ’n groep ambassadeurs agter hom aan gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet word nie’” (Lukas 19:14). Die dissipels weet dat die Jode Jesus nie aanvaar nie – party wil hom selfs doodmaak. Die meeste Jode wys hoe hulle oor Jesus voel deur sy dissipels te vervolg nadat Jesus gesterf en teruggekeer het hemel toe. Hierdie vervolgers maak dit duidelik dat hulle nie Jesus as Koning wil hê nie. – Johannes 19:15, 16; Handelinge 4:13-18; 5:40.

En wat doen die tien slawe? Hoe gebruik hulle hulle minas totdat die man wat “uit ’n koninklike gesin” kom, ‘koning word’ en terugkeer? Jesus vertel: “Toe hy uiteindelik terugkom nadat hy koning geword het, het hy die slawe vir wie hy die geld gegee het, geroep om uit te vind hoeveel hulle gemaak het deur met sy geld handel te dryf. Die eerste een het vorentoe gekom en gesê: ‘Heer, met u een mina het ek nog tien minas gekry.’ Hy het vir hom gesê: ‘Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy in ’n baie klein saak getrou was, sal jy beheer hê oor tien stede.’ En die tweede een het gekom en gesê: ‘Heer, met u een mina het ek nog vyf minas gekry.’ Hy het ook vir hierdie een gesê: ‘En jy sal beheer hê oor vyf stede.’” – Lukas 19:15-19.

As die dissipels begryp dat hulle soos die slawe is wat hulle tyd, energie en besittings gebruik om meer dissipels te maak, kan hulle daarvan seker wees dat Jesus trots op hulle sal wees. En hulle kan die vertroue hê dat hy hulle vir hulle harde werk sal beloon. Natuurlik het nie al Jesus se dissipels dieselfde omstandighede, geleenthede of vermoëns nie. Maar Jesus, die een wat ‘koning word,’ sal hulle lojale pogings om dissipels te maak waardeer en hulle daarvoor seën. – Matteus 28:19, 20.

Maar let op die teenstelling wat Jesus maak wanneer hy sy illustrasie afsluit: “Maar ’n ander [slaaf] het gekom en gesê: ‘Heer, hier is u mina, wat ek in ’n doek weggesteek het. U sien, ek was bang vir u, want u is ’n streng man. U neem wat u nie gedeponeer het nie en oes wat u nie gesaai het nie.’ Hy het vir hom gesê: ‘Uit jou eie mond oordeel ek jou, jou goddelose slaaf. Jy het mos geweet dat ek ’n streng man is wat neem wat ek nie gedeponeer het nie en oes wat ek nie gesaai het nie. Hoekom het jy dan nie my geld in ’n bank gesit nie? Dan sou ek dit met rente teruggekry het toe ek gekom het.’ Toe het hy vir die mense wat daar gestaan het, gesê: ‘Vat die mina by hom en gee dit vir die een wat die tien minas het.’” – Lukas 19:20-24.

Omdat die slaaf nie gewerk het om die rykdom van sy heer se koninkryk te vermeerder nie, verloor die slaaf die geld wat hy gekry het. Die apostels weet dat Jesus in die Koninkryk van God sal regeer. En as gevolg van wat Jesus oor hierdie slaaf sê, lei hulle waarskynlik af dat hulle nie ’n plek in daardie Koninkryk sal kry as hulle nie ywerig is nie.

Jesus se woorde moet die lojale dissipels motiveer om meer te doen. Hy sluit af met die volgende woorde: “Ek sê vir julle: As iemand het, sal meer aan hom gegee word, maar as iemand nie het nie, sal selfs wat hy het, van hom af weggeneem word.” Hy sê verder dat sy vyande, wat nie wil hê dat hy “koning oor hulle moet word nie,” tereggestel sal word. Dan reis Jesus verder na Jerusalem. – Lukas 19:26-28.