Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 91

Lasarus word opgewek

Lasarus word opgewek

JOHANNES 11:38-54

  • DIE OPSTANDING VAN LASARUS

  • DIE SANHEDRIN BEPLAN OM JESUS DOOD TE MAAK

Nadat Jesus vir Marta en toe vir Maria naby Betanië ontmoet het, gaan hulle na Lasarus se graf. Dit is ’n grot met ’n klip wat die ingang toemaak. “Neem die klip weg,” sê Jesus. Marta weet nie wat Jesus van plan is om te doen nie en sê bekommerd: “Here, hy moet nou al ruik, want dit is al vier dae.” Maar Jesus sê vir haar: “Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie?” – Johannes 11:39, 40.

Die klip word dus weggeneem. Jesus kyk dan op na die hemel en bid: “Vader, ek dank u dat u na my geluister het. Ek het geweet dat u altyd na my luister, maar ek het gepraat weens die skare wat rondom my staan, sodat hulle kan glo dat u my gestuur het.” Jesus se openbare gebed wys vir dié wat rondom hom staan, dat hy nou iets deur middel van God se krag gaan doen. Dan roep Jesus met ’n harde stem uit: “Lasarus, kom uit!” Dan kom Lasarus uit. Sy hande en voete is nog met grafdoeke gebind, en sy gesig is met ’n doek toegedraai. “Maak hom los en laat hom gaan,” sê Jesus. – Johannes 11:41-44.

Baie Jode wat gekom het om Maria en Marta te vertroos, sien hierdie wonderwerk en stel geloof in Jesus. Maar ander gaan vertel vir die Fariseërs wat Jesus gedoen het. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes roep die Joodse Hoë Raad, die Sanhedrin, bymekaar. Dit sluit die hoëpriester, Kajafas, in. Party van hulle kla: “Wat moet ons doen, want hierdie man doen baie wonderwerke? As ons hom so laat aangaan, sal hulle almal geloof in hom stel, en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem” (Johannes 11:47, 48). Al het hierdie mans by ooggetuies gehoor dat Jesus ‘baie wonderwerke doen’, is hulle nie bly oor dit wat God deur middel van hom doen nie. Hulle belangrikste bekommernis is hulle eie posisie en gesag.

Die feit dat Lasarus uit die dood opgewek is, is ’n groot oorwinning oor die Sadduseërs, wat nie in die opstanding glo nie. Kajafas, ’n Sadduseër, sê: “Julle verstaan geheel en al niks nie. Julle het nie daaraan gedink dat dit tot julle voordeel is dat een mens eerder vir die volk sterf as dat die hele nasie vernietig word nie.” – Johannes 11:49, 50; Handelinge 5:17; 23:8.

God het Kajafas hierdie woorde laat sê – hy het dit “nie uit sy eie gesê nie”. God het dit gedoen omdat Kajafas die belangrike posisie as hoëpriester gehad het. Kajafas bedoel dat Jesus doodgemaak moet word om te keer dat hy die gesag en invloed van die Joodse godsdiensleiers nog verder ondermyn. Maar in werklikheid profeteer Kajafas dat Jesus met sy dood ’n losprys sal voorsien, nie net vir die Jode nie, maar vir al “die kinders van God wat oral versprei is”. – Johannes 11:51, 52.

Kajafas kry dit reg om die Sanhedrin te beïnvloed om planne te maak om Jesus dood te maak. Sal Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin wat vriendelik teenoor Jesus is, Jesus van hierdie planne vertel? Wat ook al die geval is, Jesus verlaat die direkte omgewing van Jerusalem en vermy so dat hy doodgemaak word voor God se vasgestelde tyd.