Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 14

Jesus begin dissipels maak

Jesus begin dissipels maak

JOHANNES 1:29-51

  • JESUS SE EERSTE DISSIPELS VOLG HOM

Ná 40 dae in die wildernis en voordat Jesus terugkeer na Galilea, gaan hy weer na Johannes, wat hom gedoop het. Terwyl Jesus nader kom, wys Johannes na hom en sê hy vir die mense by hom: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hy is die een van wie ek gesê het: Ná my kom ’n man wat voor my uit gegaan het, want hy het voor my bestaan” (Johannes 1:29, 30). Al is Johannes ’n bietjie ouer as Jesus, weet hy dat Jesus voor hom as ’n geespersoon in die hemel gelewe het.

’n Paar weke vroeër, toe Jesus gekom het om gedoop te word, was Johannes nie seker of Jesus die Messias sou wees nie. Johannes erken: “Selfs ek het hom nie geken nie, maar ek doop in water sodat hy aan Israel bekend gemaak kan word.” – Johannes 1:31.

Johannes verduidelik verder wat gebeur het toe hy Jesus gedoop het: “Ek het die gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en dit het op hom gebly. Selfs ek het hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om in water te doop, het vir my gesê: ‘Die een op wie jy die gees sien neerdaal en op wie dit bly, dit is hy wat in heilige gees doop.’ Ek het dit gesien, en ek het getuig dat hy die Seun van God is.” – Johannes 1:32-34.

Die volgende dag staan Johannes by twee van sy dissipels wanneer hy Jesus weer sien verbyloop. Johannes sê: “Kyk, die Lam van God!” (Johannes 1:36). Hierna begin hierdie twee dissipels van Johannes die Doper Jesus volg. Een van hulle is Andreas. Die ander dissipel is blykbaar die persoon wat hierdie dinge neergeskryf het, en sy naam is ook Johannes. Dit lyk asof hierdie Johannes ’n neef van Jesus is omdat hy Salome se seun is. Salome is heel moontlik Maria se suster, en haar man is Sebedeus.

Wanneer Jesus omkyk en sien dat Andreas en Johannes hom volg, vra hy: “Wat soek julle?”

Hulle vra hom: “Rabbi, waar bly u?”

“Kom, en julle sal sien,” antwoord Jesus. – Johannes 1:37-39.

Dit is omtrent vieruur die middag, en Andreas en Johannes bly die res van die dag by Jesus. Andreas is so opgewonde dat hy sy broer Simon, wat ook Petrus genoem word, gaan soek en vir hom sê: “Ons het die Messias gevind” (Johannes 1:41). Andreas neem Petrus na Jesus toe. Uit wat later gebeur, lyk dit asof Johannes ook sy broer Jakobus gaan soek en hom na Jesus toe bring. Maar Johannes sluit nie hierdie persoonlike inligting by sy verslag in nie.

Die volgende dag kry Jesus vir Filippus, wat van Betsaida is. Dit is naby die noordelike oewer van die See van Galilea, waar Andreas en Petrus oorspronklik vandaan kom. Jesus nooi Filippus: “Word my volgeling.” – Johannes 1:43.

Filippus kry dan vir Natanael, wat ook Bartolomeus genoem word, en sê: “Ons het die een gevind van wie daar in die Wet van Moses en die boeke van die Profete geskryf is. Hy is Jesus, die seun van Josef, van Nasaret.” Natanael twyfel hieroor en vra vir Filippus: “Kan enigiets goeds uit Nasaret kom?”

“Kom kyk,” sê Filippus. Jesus sien Natanael aankom en sê: “Kyk, hier is beslis ’n Israeliet wat eerlik en opreg is.”

“Hoe is dit dat u my ken?” vra Natanael.

Jesus antwoord: “Ek het jou gesien nog voordat Filippus jou geroep het, terwyl jy onder die vyeboom was.”

Natanael sê verbaas: “Rabbi, u is die Seun van God, u is Koning van Israel.”

Jesus vra hom: “Glo jy omdat ek vir jou gesê het dat ek jou onder die vyeboom gesien het?” Hy sê verder: “Jy sal groter dinge as dit sien.” Dan belowe Jesus: “Ek verseker julle: Julle sal die hemel oop sien en die engele van God sien opstyg en neerdaal na die Seun van die mens.” – Johannes 1:45-51.

Nie lank hierna nie verlaat Jesus en sy nuwe dissipels die Jordaanvallei en gaan hulle na Galilea.