Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 132

“Hierdie man was beslis God se Seun”

“Hierdie man was beslis God se Seun”

MATTEUS 27:45-56 MARKUS 15:33-41 LUKAS 23:44-49 JOHANNES 19:25-30

  • JESUS STERF AAN DIE PAAL

  • ONGEWONE GEBEURE BY JESUS SE DOOD

Dit is nou “die sesde uur”, of middag. Ewe skielik word “die hele land donker . . . , tot die negende uur”, drie uur die middag (Markus 15:33). Hierdie duisternis is nie deur ’n sonsverduistering veroorsaak nie. ’n Sonsverduistering gebeur gewoonlik wanneer dit nuwe maan is, maar dit is nou die Pasgaseisoen, wanneer dit volmaan is. En ’n sonsverduistering hou net vir ’n paar minute aan, maar hierdie duisternis hou baie langer aan. So God het hierdie duisternis veroorsaak!

Dink net aan watter uitwerking dit moet hê op die persone wat Jesus spot. Gedurende hierdie duisternis gaan vier vrouens na die folterpaal. Dit is Jesus se ma, Salome, Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus die Mindere.

Die apostel Johannes is saam met Jesus se ma “by sy folterpaal”. Maria is baie hartseer omdat sy sien dat die seun aan wie sy geboorte gegee het en grootgemaak het, in verskriklike pyn is terwyl hy aan die paal hang. Dit voel asof “’n lang swaard deur [haar] gesteek” word (Johannes 19:25; Lukas 2:35). Alhoewel Jesus in baie pyn is, dink hy aan sy ma. Al is dit vir hom baie moeilik, draai hy sy kop na Johannes se kant en sê hy vir sy ma: “Kyk, u seun!” Dan draai hy sy kop na Maria se kant en sê hy vir Johannes: “Kyk, jou ma!” – Johannes 19:26, 27.

Jesus gee vir die apostel vir wie hy baie lief is, die verantwoordelikheid om na sy ma te kyk, wat nou blykbaar ’n weduwee is. Jesus weet dat sy halfbroers, Maria se ander seuns, nog nie geloof in hom het nie. So hy maak seker dat daar na sy ma se fisiese en geestelike behoeftes gekyk sal word. Wat ’n uitstekende voorbeeld!

Teen die einde van die duisternis, sê Jesus: “Ek is dors.” So laat hy dit wat in die Skrif staan, waar word (Johannes 19:28; Psalm 22:15). Jesus voel dat sy Vader hom nie meer beskerm nie sodat sy Seun se integriteit tot die uiterste getoets kan word. Christus roep uit: “Eli, Eli, lama sabagtani?”, moontlik Aramees in ’n Galilese dialek. Dit beteken: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” Party wat naby staan, verstaan hom verkeerd en sê: “Kyk! Hy roep Elia.” Een van hulle hardloop en vat ’n spons vol suur wyn en sit dit aan die punt van ’n riet en gee dit vir Jesus om te drink. Maar ander sê: “Wag! Kom ons kyk of Elia hom kom afhaal.” – Markus 15:34-36.

Jesus roep uit: “Dit is afgehandel!” (Johannes 19:30). Ja, hy het alles gedoen waarvoor sy Vader hom aarde toe gestuur het om te doen. Uiteindelik sê Jesus: “Vader, in u hande gee ek my gees oor” (Lukas 23:46). Jesus gee sy lewenskrag aan Jehovah met die vertroue dat hy hom weer sal opwek. Met volle vertroue in God, buig Christus sy kop en sterf.

Toe is daar ’n verskriklike aardbewing en die rotse skeur. Dit is so kragtig dat grafte buite Jerusalem oopskeur en lyke daaruit kom. Mense wat verbyloop en die dooie liggame sien, gaan “in die heilige stad in” en vertel vir ander wat hulle gesien het. – Matteus 12:11; 27:51-53.

Wanneer Jesus sterf, skeur die lang, swaar gordyn wat die Heilige van die Allerheiligste skei, van bo tot onder in twee. Die buitengewone gebeurtenis wys dat God baie kwaad is vir die mense wat sy Seun doodgemaak het. En dit wys dat dit nou moontlik is om in die Allerheiligste, die hemel self, in te gaan. – Hebreërs 9:2, 3; 10:19, 20.

Die mense word baie bang. Die militêre offisier wat in beheer is van die teregstelling, sê: “Hierdie man was beslis God se Seun” (Markus 15:39). Hy was dalk daar by Jesus se verhoor voor Pilatus toe die saak bespreek was of hy God se seun is. Nou is hy oortuig dat Jesus regverdig is en dat hy die Seun van God is.

Ander, oorweldig deur hierdie buitengewone gebeure, gaan na hulle huise en slaan “op hulle bors” omdat hulle baie hartseer is en skaam voel oor wat hulle gedoen het (Lukas 23:48). Onder dié wat van ver af kyk, is baie vrouens wat dissipels van Jesus is en wat soms saam met hom gereis het. Hulle is ook diep geraak deur hierdie belangrike gebeure.