Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 120

Dissipels moet vrugte dra en Jesus se vriende wees

Dissipels moet vrugte dra en Jesus se vriende wees

JOHANNES 15:1-27

  • DIE WARE WINGERDSTOK EN DIE TAKKIES

  • HOE OM IN JESUS SE LIEFDE TE BLY

Jesus het sy getroue apostels aangemoedig deur uit die hart met hulle te praat. Dit is laat, miskien ná middernag. Nou vertel Jesus vir hulle ’n illustrasie wat hulle verder aanmoedig:

Hy begin deur te sê: “Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die landbouer” (Johannes 15:1). Sy illustrasie klink soos iets wat honderde jare gelede oor die nasie Israel gesê is. Hulle was Jehovah se wingerdstok genoem (Jeremia 2:21; Hosea 10:1, 2). Maar Jehovah gaan daardie nasie verwerp (Matteus 23:37, 38). So Jesus praat nou oor iets nuuts. Hy het die wingerdstok geword toe sy Vader hom in 29 HJ gesalf het. Maar Jesus wys dat die wingerdstok nie net na hom verwys nie. Hy sê:

“[My Vader] neem elke takkie in my weg wat nie vrugte dra nie, en hy maak elke takkie skoon wat wel vrugte dra, sodat dit nog meer vrugte kan dra. . . . ’n Takkie kan nie vanself vrugte dra as dit nie in die wingerdstok bly nie, en net so kan julle ook nie vrugte dra as julle nie in eenheid met my bly nie. Ek is die wingerdstok, en julle is die takkies.” – Johannes 15:2-5.

Jesus het sy getroue dissipels belowe dat hy ’n helper sou stuur, die heilige gees, nadat hy weggaan. Een-en-vyftig dae later, wanneer die apostels en ander hierdie gees ontvang, word hulle takkies van die wingerdstok. En al die “takkies” sal in eenheid met Jesus moet bly. Hoekom?

Hy verduidelik: “As iemand in eenheid met my bly en ek in eenheid met hom, sal hy baie vrugte dra, want sonder my kan julle niks doen nie.” Hierdie “takkies” – Jesus se getroue volgelinge – sal baie vrugte dra deur sy eienskappe na te volg, ywerig met ander oor God se Koninkryk te praat en meer dissipels te maak. Wat as iemand nie in eenheid met Jesus bly nie en nie vrugte dra nie? Jesus verduidelik: “As iemand nie in eenheid met my bly nie, sal hy soos ’n takkie wees wat uitgegooi en uitgedroog is.” Maar dan sê Jesus: “As julle in eenheid met my bly en my woorde in julle bly, kan julle vra wat julle ook al wil, en dit sal aan julle gegee word.” – Johannes 15:5-7.

Nou praat Jesus weer oor iets wat hy alreeds twee keer genoem het – om sy gebooie te gehoorsaam (Johannes 14:15, 21). Hy beskryf ’n belangrike manier hoe sy dissipels kan wys dat hulle dit doen: “As julle my gebooie gehoorsaam, sal julle in my liefde bly, net soos ek die Vader se gebooie gehoorsaam het en in sy liefde bly.” Maar ons moet meer doen as om net Jehovah God en sy Seun lief te hê. Jesus sê: “Dít is my gebod: Julle moet mekaar liefhê net soos ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as iemand wat sy lewe vir sy vriende gee nie. Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel.” – Johannes 15:10-14.

Oor ’n paar uur sal Jesus sy liefde bewys deur sy lewe te gee vir almal wat geloof in hom het. Sy voorbeeld moet sy volgelinge beweeg om dieselfde selfopofferende liefde vir mekaar te hê. Hierdie liefde sal wys dat hulle Jesus se volgelinge is, soos hy vroeër gesê het: “So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het.” – Johannes 13:35.

Die feit dat Jesus sy apostels “vriende” noem, moet vir hulle belangrik wees. Hy verduidelik hoekom hulle sy vriende is: “Ek noem julle vriende, want ek het julle alles vertel wat ek by my Vader gehoor het.” Wat ’n kosbare verhouding om te hê – om goeie vriende met Jesus te wees en om te weet wat die Vader vir hom gesê het! Maar om Jesus se vriende te wees, moet hulle “[aanhou] om vrugte te dra”. As hulle dit doen, sê Jesus: “Wat julle die Vader ook al in my naam vra, [sal] hy vir julle . . . gee.” – Johannes 15:15, 16.

Die liefde wat hierdie “takkies”, sy dissipels, vir mekaar het, sal hulle help om deur die moeilike tye te kom wat voorlê. Hy waarsku hulle dat die wêreld hulle sal haat, maar hy vertroos hulle met die volgende woorde: “As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voordat dit julle gehaat het. As julle deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. Omdat julle egter geen deel van die wêreld is nie, . . . haat die wêreld julle.” – Johannes 15:18, 19.

Jesus verduidelik verder hoekom die wêreld hulle sal haat deur te sê: “Hulle sal al hierdie dinge aan julle doen as gevolg van my naam, omdat hulle die Een wat my gestuur het, nie ken nie.” Jesus sê dat sy wonderwerke eintlik dié wat hom haat, veroordeel: “Ek het werke onder hulle gedoen wat niemand anders gedoen het nie. As ek dit nie gedoen het nie, sou hulle geen sonde gehad het nie, maar nou het hulle my sowel as my Vader gesien en gehaat.” Hulle haat vervul eintlik Bybelprofesieë. – Johannes 15:21, 24, 25; Psalm 35:19; 69:4.

Jesus belowe weer om die helper, die heilige gees, te stuur. Daardie sterk krag is beskikbaar vir al sy volgelinge en kan hulle help om vrugte te dra, met ander woorde om van Jesus te “getuig”. – Johannes 15:27.