Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 124

Christus word verraai en in hegtenis geneem

Christus word verraai en in hegtenis geneem

MATTEUS 26:47-56 MARKUS 14:43-52 LUKAS 22:47-53 JOHANNES 18:2-12

  • JUDAS VERRAAI JESUS IN DIE TUIN

  • PETRUS KAP ’N MAN SE OOR AF

  • JESUS WORD IN HEGTENIS GENEEM

Dit is ná middernag. Die priesters het ingestem om Judas 30 silwerstukke te betaal om Jesus te verraai. En daarom volg ’n groot groep hoofpriesters en Fariseërs Judas opsoek na Jesus. ’n Groep Romeinse soldate met ’n militêre bevelvoerder is saam met hulle.

Toe Jesus Judas gevra het om die Pasgamaaltyd te verlaat, het Judas direk na die hoofpriesters gegaan (Johannes 13:27). Hulle het hulle eie beamptes bymekaargemaak sowel as ’n groep soldate. Judas het hulle dalk eers na die kamer toe gevat waar Jesus en sy apostels die Pasga gevier het. Maar nou het die skare oor die Kidron-vallei geloop en is hulle op pad na die tuin. Hulle het nie net wapens by hulle nie, maar ook lampe en fakkels en is vasbeslote om Jesus te vind.

Terwyl Judas saam met hulle by die Olyfberg opgaan, is hy seker dat hy weet waar om Jesus te kry. Gedurende die laaste week, terwyl Jesus en die apostels heen en weer tussen Betanië en Jerusalem gereis het, het hulle gereeld in die tuin van Getsemane gestop. Maar nou is dit aand, en Jesus is dalk in die skaduwee van die olyfbome in die tuin. So hoe sal die soldate, wat dalk nog nie vir Jesus gesien het nie, weet dat dit hy is? Om hulle te help, sal Judas vir hulle ’n teken gee. Hy sê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Neem hom in hegtenis en lei hom weg en maak seker dat hy nie wegkom nie.” – Markus 14:44.

Terwyl Judas en die skare in die tuin instap, sien hy vir Jesus saam met sy apostels en loop hy reguit na hom toe. “Goeiedag, Rabbi!” sê Judas en soen vir Jesus. “Vriend, hoekom is jy hier?” vra Jesus (Matteus 26:49, 50). Jesus beantwoord sy eie vraag en sê: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?” (Lukas 22:48). Maar dit is nou genoeg van Judas!

Jesus stap nou vorentoe en staan in die lig van die fakkels en lampe en vra: “Na wie soek julle?” Die skare antwoord hom: “Jesus die Nasarener.” Jesus sê dapper: “Dit is ek” (Johannes 18:4, 5). Hulle weet nie wat om te verwag nie en val op die grond neer.

Jesus gebruik nie hierdie geleentheid om te vlug nie, maar vra eerder weer na wie hulle soek. Wanneer hulle weer sê: “Jesus die Nasarener”, sê hy kalm vir hulle: “Ek het vir julle gesê dat dit ek is. As julle dan na my soek, laat hierdie manne gaan.” Selfs in hierdie oomblik onthou Jesus wat hy vroeër gesê het, dat hy nie een van hulle sal verloor nie (Johannes 6:39; 17:12). Jesus het sy getroue apostels beskerm en hy het nie een van hulle verloor nie, “behalwe die seun van die vernietiging” – Judas (Johannes 18:7-9). En daarom vra hy dat hulle sy getroue volgelinge laat gaan.

Terwyl die soldate nader na Jesus toe kom, besef die apostels wat besig is om te gebeur. “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” vra hulle (Lukas 22:49). Voordat Jesus hulle kan antwoord, swaai Petrus een van die swaarde wat die apostels by hulle het en kap Malgus, ’n slaaf van die hoëpriester, se oor af.

Jesus raak aan Malgus se oor en maak hom gesond. Dan leer hy hulle ’n belangrike les deur vir Petrus te sê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard gebruik, sal met die swaard doodgemaak word.” Jesus is bereid om in hegtenis geneem te word, want hy verduidelik: “Hoe sal die Skrif wat sê dat dit so moet gebeur, dan vervul word?” (Matteus 26:52, 54). Hy sê verder: “Moet ek nie die beker drink wat die Vader aan my gegee het nie?” (Johannes 18:11). Jesus stem saam met God se wil vir hom, al beteken dit dat hy moet sterf.

Jesus vra die skare: “Het julle met swaarde en knuppels gekom om my in hegtenis te neem asof ek ’n rower is? Dag ná dag het ek in die tempel gesit en die mense geleer, en tog het julle my nie in hegtenis geneem nie. Maar al hierdie dinge het gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul sou word.” – Matteus 26:55, 56.

Die soldate, die militêre bevelvoerder en die beamptes van die Jode arresteer Jesus en boei hom. Toe die apostels dit sien, hardloop hulle weg. Maar “’n sekere jong man” – dalk die dissipel Markus – bly tussen die mense sodat hy Jesus kan volg (Markus 14:51). Die skare erken die jong man en probeer hom vang, en daarom los hy sy linnekleed agter terwyl hy probeer weghardloop.