Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 137

Honderde sien hom voor Pinkster

Honderde sien hom voor Pinkster

MATTEUS 28:16-20 LUKAS 24:50-52 HANDELINGE 1:1-12; 2:1-4

  • JESUS VERSKYN AAN BAIE

  • HY GAAN HEMEL TOE

  • JESUS STORT HEILIGE GEES OP 120 DISSIPELS UIT

Ná Jesus se opstanding reël hy dat sy 11 apostels hom by ’n berg in Galilea kry. Daar is ook omtrent 500 ander dissipels by die berg, en party van hulle twyfel nog (Matteus 28:17; 1 Korintiërs 15:6). Maar wat Jesus nou sê, oortuig elkeen van hulle dat hy werklik lewe.

Jesus verduidelik dat God hom alle gesag in die hemel en op die aarde gegee het. Jesus sê vir hulle: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het” (Matteus 28:18-20). Ja, dit is duidelik dat Jesus nie net lewe nie, maar dat dit nog steeds vir hom belangrik is dat die goeie nuus verkondig moet word.

Al Jesus se volgelinge – mans, vrouens en kinders – ontvang dieselfde opdrag om dissipels te maak. Teenstanders probeer hulle dalk keer om te preek en te onderrig, maar Jesus verseker hulle: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee.” Wat beteken dit vir sy volgelinge? Hy sê vir hulle: “Wees verseker: Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel.” Jesus sê nie dat almal wat die goeie nuus verkondig, wonderwerke sal doen nie. Maar hulle sal nog steeds die ondersteuning van die heilige gees hê.

Nadat Jesus opgewek is, verskyn hy aan sy dissipels “oor ’n tydperk van 40 dae”. Hy neem verskillende menslike liggame aan en verskyn “baie kere aan hulle . . . op maniere wat bewys . . . dat hy regtig lewe” en leer hulle “oor die Koninkryk van God”. – Handelinge 1:3; 1 Korintiërs 15:7.

Terwyl die apostels blykbaar nog in Galilea is, sê Jesus vir hulle dat hulle na Jerusalem moet teruggaan. Wanneer hy hulle in die stad ontmoet, sê hy: “Moenie Jerusalem verlaat nie, maar hou aan om te wag vir die dinge wat die Vader belowe het, waarvan julle by my gehoor het, want Johannes het met water gedoop, maar oor net ’n paar dae sal julle met heilige gees gedoop word.” – Handelinge 1:4, 5.

Later is Jesus weer saam met sy apostels. Hy lei hulle “uit die stad [uit] tot by Betanië,” wat aan die oostekant van die Olyfberg is (Lukas 24:50). Ten spyte van alles wat Jesus gesê het oor die feit dat hy weggaan, glo hulle nog steeds dat sy Koninkryk op die een of ander manier op die aarde sal wees. – Lukas 22:16, 18, 30; Johannes 14:2, 3.

Die apostels vra vir Jesus: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Hy antwoord eenvoudig: “Die Vader het tye en tydperke volgens sy wil vasgestel, en dit is nie vir julle om daarvan te weet nie.” Dan beklemtoon hy weer die werk wat hulle moet doen deur te sê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” – Handelinge 1:6-8.

Terwyl die apostels saam met Jesus op die Olyfberg is, begin hy in die lug opvaar. Ná ’n rukkie verdwyn hy agter ’n wolk. Ná Jesus se opstanding, het hy vleeslike liggame aangeneem. Maar nou verander Jesus sy liggaam, en hy vaar as ’n geespersoon op hemel toe (1 Korintiërs 15:44, 50; 1 Petrus 3:18). Terwyl die getroue apostels in die lug opkyk, verskyn “twee mans in wit klere” langs hulle. Dit is engele met vleeslike liggame. Hulle vra: “Manne van Galilea, hoekom staan en kyk julle in die lug in? Hierdie Jesus wat van julle af in die lug opgeneem is, sal op dieselfde manier kom as wat julle hom na die hemel sien gaan het.” – Handelinge 1:10, 11.

Jesus het die aarde verlaat sonder om aandag te trek. Net Jesus se getroue volgelinge het gesien hoe hy hemel toe opvaar. Hy sal op “dieselfde manier” terugkom, wat beteken dat net sy getroue volgelinge sal weet dat hy as Koning van God se Koninkryk regeer.

Die apostels gaan terug na Jerusalem toe. Gedurende die dae daarna kom hulle saam met ander dissipels bymekaar, insluitende “Jesus se ma, Maria, en sy broers” (Handelinge 1:14). Hierdie groep hou aan bid. Een ding waaroor hulle bid, is om ’n dissipel te kies om Judas Iskariot te vervang sodat daar weer 12 apostels kan wees (Matteus 19:28). Hulle soek ’n dissipel wat gesien het wat Jesus gedoen het en wat ’n getuie van sy opstanding was. Vir die laaste keer word daar in die Bybel genoem dat die lot gewerp word om uit te vind wat God se wil is (Psalm 109:8; Spreuke 16:33). Mattias, wat dalk een van die 70 was wat Jesus uitgestuur het, word gekies en “is by die 11 apostels gevoeg”. – Handelinge 1:26.

Tien dae nadat Jesus hemel toe gegaan het, is dit die Joodse Pinksterfees van 33 HJ. Omtrent 120 van die dissipels is saam in ’n bo-kamer in Jerusalem. Skielik is daar ’n geluid wat soos ’n sterk wind klink en wat in die hele huis gehoor kan word. Dan sien hulle iets wat soos klein vuurvlamme lyk, een bo elkeen se kop. Die dissipels begin elkeen in ’n ander taal praat. Dit is die uitstorting van die heilige gees wat Jesus belowe het! – Johannes 14:26.