Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 116

’n Les in nederigheid by die laaste Pasga

’n Les in nederigheid by die laaste Pasga

MATTEUS 26:20 MARKUS 14:17 LUKAS 22:14-18 JOHANNES 13:1-17

  • JESUS GENIET SY LAASTE PASGA SAAM MET DIE APOSTELS

  • HY LEER DIE APOSTELS ’N LES DEUR HULLE VOETE TE WAS

Petrus en Johannes is alreeds in Jerusalem om vir die Pasga voor te berei, soos Jesus vir hulle gesê het om te doen. Later is Jesus en die tien ander apostels ook op pad daarheen. Dit is laat middag en die son is besig om op die westelike horison te sak terwyl Jesus en sy dissipels by die Olyfberg afkom. Dit is die laaste keer dat Jesus van hier af sien hoe die sonlig op die stad Jerusalem skyn tot nadat hy opgewek is.

Kort voor lank kom Jesus en sy dissipels by die stad aan. Hulle is op pad na die huis waar hulle die Pasgamaaltyd gaan geniet. Hulle gaan op met die trappe na die groot bo-kamer. Daar sien hulle dat alles gereed is vir hulle ete. Jesus het uitgesien na hierdie geleentheid, want hy sê: “Ek wou baie graag hierdie Pasga saam met julle eet voordat ek ly.” – Lukas 22:15.

Baie jare vroeër het die gebruik ontstaan om ’n paar bekers wyn tydens die Pasgamaaltyd om te stuur. Nou, nadat een van die apostels vir Jesus ’n beker gegee het, bid hy en dan sê hy: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan, want ek sê vir julle: Van nou af sal ek nie weer wyn drink totdat die Koninkryk van God kom nie” (Lukas 22:17, 18). Dit behoort nou vir hulle duidelik te wees dat hy binnekort gaan sterf.

Die een of ander tyd gedurende die Pasgamaaltyd gebeur daar iets onverwags. Jesus staan op, sit sy bo-klere eenkant en tel ’n handdoek op. Dan gooi hy water in ’n kom wat daar naby is. Gewoonlik sal die gasheer seker maak dat sy gaste se voete gewas word, dalk deur ’n kneg (Lukas 7:44). Maar by hierdie geleentheid is daar nie ’n gasheer nie, en daarom was Jesus hulle voete. Enigeen van die apostels kon gebruik gemaak het van die geleentheid om dit te doen, maar nie een van hulle doen dit nie. Is dit omdat hulle nog steeds stry oor wie van hulle die belangrikste is? Wat ook al die geval is, hulle is skaam omdat Jesus hulle voete was.

Wanneer Jesus by Petrus kom, sê Petrus: “Ek sal beslis nooit toelaat dat u my voete was nie.” Jesus antwoord hom: “Tensy ek jou was, kan jy nie ontvang wat ek gaan ontvang nie.” Onmiddellik sê Petrus: “Here, moenie net my voete was nie, maar was ook my hande en my kop.” Hy is sekerlik baie verbaas oor wat Jesus volgende sê: “Enigiemand wat gebad het, hoef niks meer as sy voete te laat was nie, want hy is heeltemal skoon. En julle is skoon, maar nie julle almal nie.” – Johannes 13:8-10.

Jesus was die voete van al die apostels, insluitende Judas Iskariot. Nadat Jesus sy bo-klere aangetrek het, gaan hy weer aan tafel en vra hy: “Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het? Julle noem my ‘Leermeester’ en ‘Here’, en julle is reg, want dit is wat ek is. As ek, die Here en Leermeester, julle voete gewas het, dan behoort julle ook mekaar se voete te was. Want ek het vir julle die voorbeeld gestel sodat julle ook moet doen wat ek vir julle gedoen het. Ek verseker julle: ’n Slaaf is nie groter as sy meester nie, en iemand wat gestuur is, is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. Noudat julle hierdie dinge weet, sal julle gelukkig wees as julle dit doen.” – Johannes 13:12-17.

Wat ’n pragtige les in nederigheid! Jesus se volgelinge moenie dink dat hulle belangriker as ander is en dat ander hulle moet dien nie. Hulle moet eerder Jesus se voorbeeld volg, nie deur ander se voete te was nie, maar deur bereid te wees om ander nederig en sonder partydigheid te dien.