Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 127

Hulle neem Jesus na Pilatus

Hulle neem Jesus na Pilatus

MATTEUS 27:1-11 MARKUS 15:1 LUKAS 22:66–23:3 JOHANNES 18:28-35

  • VERHOOR IN DIE OGGEND VOOR DIE SANHEDRIN

  • JUDAS ISKARIOT PROBEER HOMSELF HANG

  • JESUS WORD NA PILATUS GESTUUR OM VEROORDEEL TE WORD

Die nag is amper verby wanneer Petrus Jesus vir die derde keer ontken. Die lede van die Sanhedrin is nou klaar met hulle onwettige verhoor en gaan van mekaar af weg. Vrydagoggend kom hulle weer bymekaar, waarskynlik om die onwettige verhoor wat hulle in die nag gehou het, wettig te laat lyk. Jesus word voor hulle gebring.

Die hof sê weer: “As jy die Christus is, sê vir ons.” Jesus antwoord: “Al sê ek dit vir julle, sal julle dit glad nie glo nie. En al sou ek julle ’n vraag vra, sal julle nie antwoord nie.” Maar Jesus wys dapper vir hulle dat hy die een is wat in Daniël 7:13 voorspel is. Hy sê: “Van nou af sal die Seun van die mens aan die magtige regterhand van God sit.” – Lukas 22:67-69; Matteus 26:63.

Hulle hou aan vra: “Is jy dan die Seun van God?” Jesus antwoord: “Julle sê self dat ek is.” Dit lyk of hierdie antwoord die Jode se besluit regverdig om Jesus op grond van godslastering dood te maak. “Hoekom het ons nog getuienis nodig?” vra hulle (Lukas 22:70, 71; Markus 14:64). Hulle boei Jesus en neem hom na die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus.

Judas Iskariot sien dalk hoe hulle Jesus na Pilatus toe neem. Wanneer Judas besef dat Jesus veroordeel is, voel hy spyt. Maar in plaas daarvan om vir God te wys dat hy regtig jammer is, gaan gee hy die 30 silwerstukke terug. Judas sê vir die hoofpriesters: “Ek het gesondig toe ek onskuldige bloed verraai het.” Maar hulle antwoord wys dat hulle nie omgee nie: “Wat het dit met ons te doen? Dit is jou probleem!” – Matteus 27:4.

Judas gooi die 30 silwerstukke in die tempel en maak dinge nog erger deur te probeer om homself dood te maak. Terwyl Judas probeer om homself te hang, breek die tak blykbaar waaraan hy die tou vasmaak. Sy liggaam val op die rotse en bars oop. – Handelinge 1:17, 18.

Dit is nog vroeg in die oggend wanneer Jesus na Pontius Pilatus se paleis geneem word. Die Jode wat hom daarnatoe neem, weier om in te gaan. Hulle dink dat dit hulle onrein sal maak as hulle in kontak kom met nie-Jode. Dit sal beteken dat hulle nie die maaltyd op 15 Nisan mag eet nie, die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brode, wat as deel van die Pasga-tydperk beskou word.

Pilatus kom uit en vra hulle: “Waarvan beskuldig julle hierdie man?” Hulle antwoord: “As hierdie man nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u oorgelewer het nie.” Pilatus voel dalk onder druk, en daarom sê hy: “Vat hom dan en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode wys dat dit hulle plan is om Jesus dood te maak, hulle sê: “Ons het nie die reg om enigiemand dood te maak nie.” – Johannes 18:29-31.

As hulle Jesus gedurende die Pasgafees doodmaak, sal dit die mense sekerlik baie kwaad maak en sal hulle dalk in opstand kom. Maar as hulle die Romeine kan kry om Jesus dood te maak op grond van ’n aanklag teen die Romeinse regering, wat die Romeine die reg het om te doen, sal hierdie Jode nie voor die mense verantwoordelik gehou word nie.

Die godsdiensleiers sê nie vir Pilatus dat hulle Jesus vir godslastering veroordeel het nie. Nou beskuldig hulle hom van ’n klomp ander dinge wat nie waar is nie: “Ons het vasgestel dat hierdie man [1] ons nasie opstandig maak. [2] Hy verbied mense om belasting aan die keiser te betaal en [3] sê dat hy Christus, ’n koning, is.” – Lukas 23:2.

As ’n verteenwoordiger van Rome, het Pilatus rede om bekommerd te wees oor die aanklag dat Jesus sê dat hy ’n koning is. So Pilatus gaan weer by die paleis in, roep Jesus na hom toe en vra: “Is jy die Koning van die Jode?” Met ander woorde: ‘Het jy die wet van die regering verbreek deur te sê dat jy ’n koning is in opstand teen die keiser?’ Dalk om uit te vind wat Pilatus alreeds van hom gehoor het, sê Jesus: “Sê u dit uit uself, of het ander u van my vertel?” – Johannes 18:33, 34.

Pilatus beweer dat hy niks van Jesus weet nie, maar dat hy graag meer wil weet. Hy sê: “Ek is mos nie ’n Jood nie.” Hy sê verder: “Jou eie nasie en die hoofpriesters het jou aan my oorgelewer. Wat het jy gedoen?” – Johannes 18:35.

Jesus probeer nie om die vraag of hy ’n koning is te vermy nie. Hy antwoord op ’n manier wat goewerneur Pilatus sekerlik verbaas.