Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 114

Christus as Koning oordeel die skape en die bokke

Christus as Koning oordeel die skape en die bokke

MATTEUS 25:31-46

  • JESUS GEE DIE ILLUSTRASIE OOR DIE SKAPE EN DIE BOKKE

Op die Olyfberg het Jesus so pas die illustrasies van die tien maagde en die talente vertel. Hoe sluit Jesus sy antwoord af op die vraag wat die apostels hom gevra het oor die teken van sy teenwoordigheid en die einde van die wêreldstelsel? Hy doen dit deur ’n laaste illustrasie te vertel, een oor skape en bokke.

Jesus begin deur die agtergrond te skets. Hy sê vir hulle: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, sal hy op sy glorieryke troon gaan sit” (Matteus 25:31). Jesus maak dit duidelik dat hy die hoofrol in hierdie illustrasie speel. Hy het homself dikwels “die Seun van die mens” genoem. – Matteus 8:20; 9:6; 20:18, 28.

Wanneer sal die dinge gebeur wat Jesus in sy illustrasie noem? Dit sal gebeur wanneer Jesus “in sy heerlikheid kom” met die engele en “op sy glorieryke troon gaan sit”. Hy het alreeds gesê dat “die Seun van die mens met groot krag en heerlikheid in die wolke . . . kom”, saam met sy engele. Wanneer sal dit gebeur? “Onmiddellik ná die verdrukking” (Matteus 24:29-31; Markus 13:26, 27; Lukas 21:27). So hierdie dinge sal in die toekoms gebeur, wanneer Jesus in sy heerlikheid kom. Wat sal hy dan doen?

Jesus verduidelik: “Wanneer die Seun van die mens . . . kom, [sal] al die nasies . . . voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar skei, net soos ’n herder die skape van die bokke skei. En hy sal die skape aan sy regterhand sit, maar die bokke aan sy linkerhand.” – Matteus 25:31-33.

Wat sal met die skape gebeur? Jesus sê: “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterhand sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is, erf die Koninkryk wat van die begin van die mensdom af vir julle voorberei is’” (Matteus 25:34). Hoekom ontvang die skape die Koning se goedkeuring?

Die Koning verduidelik: “Ek het honger geword, en julle het vir my iets gegee om te eet. Ek het dors geword, en julle het vir my iets gegee om te drink. Ek was ’n vreemdeling, en julle het my gasvry ontvang. Ek was kaal, en julle het vir my klere gegee. Ek het siek geword, en julle het my versorg. Ek was in die tronk, en julle het my kom besoek.” Wanneer hierdie skape, “die regverdiges”, vra hoe hulle hierdie goeie dinge gedoen het, antwoord hy: “Alles wat julle vir een van die minste van my broers gedoen het, het julle ook vir my gedoen” (Matteus 25:35, 36, 40, 46). Hulle het nie hierdie goeie dinge in die hemel gedoen nie, want niemand daar is siek en honger nie. Dit moes dinge gewees het wat hulle vir Christus se broers op die aarde gedoen het.

Wat sal met die bokke gebeur? Jesus sê: “Dan sal [die Koning] vir dié aan sy linkerhand sê: ‘Gaan weg van my af, julle wat vervloek is, in die ewige vuur in wat vir die Duiwel en sy engele voorberei is. Want ek het honger geword, maar julle het vir my niks gegee om te eet nie, en ek het dors geword, maar julle het vir my niks gegee om te drink nie. Ek was ’n vreemdeling, maar julle het my nie gasvry ontvang nie. Ek was kaal, maar julle het nie vir my klere gegee nie. Ek was siek en in die tronk, maar julle het my nie versorg nie’” (Matteus 25:41-43). Die bokke verdien hierdie oordeel omdat hulle nie Christus se broers op die aarde goed behandel het soos hulle moes nie.

Die apostels besef dat om as ’n skaap of ’n bok geoordeel te word, ’n mens se lewe vir ewig sal verander. Jesus sê vir hulle: “Dan sal [die Koning sê]: ‘Ek verseker julle: Alles wat julle nie vir een van die minste van my broers gedoen het nie, het julle ook nie vir my gedoen nie.’ Hulle sal vir ewig afgesny word, maar die regverdiges sal die ewige lewe ontvang.” – Matteus 25:45, 46.

Jesus se antwoord op die apostels se vraag gee sy volgelinge baie om oor te dink. Dit help hulle om hulle gesindhede en dade te ondersoek.