Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 135

Jesus verskyn aan baie mense ná sy opstanding

Jesus verskyn aan baie mense ná sy opstanding

LUKAS 24:13-49 JOHANNES 20:19-29

  • JESUS VERSKYN OP DIE PAD NA EMMAUS

  • HY VERDUIDELIK DIE SKRIF AAN SY DISSIPELS

  • TOMAS TWYFEL NIE MEER NIE

Op Sondag 16 Nisan is die dissipels moedeloos. Hulle verstaan nie hoekom die graf leeg is nie (Matteus 28:9, 10; Lukas 24:11). Later in die dag verlaat Kleopas en ’n ander dissipel Jerusalem om na Emmaus te gaan, wat omtrent 11 kilometer weg is.

Terwyl hulle loop, praat hulle oor wat gebeur het. Dan begin ’n vreemdeling saam met hulle loop. Hy vra: “Waaroor loop julle so en praat?” Kleopas antwoord: “Is u ’n vreemdeling wat alleen in Jerusalem woon, en weet u nie van die dinge wat in hierdie dae daar gebeur het nie?” Die vreemdeling vra: “Watter dinge?” – Lukas 24:17-19.

“Die dinge oor Jesus die Nasarener,” sê hulle. “Ons het gehoop dat hierdie man die een was wat Israel sou verlos.” – Lukas 24:19-21.

Kleopas en sy vriend vertel dan wat daardie selfde dag gebeur het. Hulle sê dat party vrouens wat na die graf gegaan het waar Jesus begrawe was, dit leeg gevind het en dat hierdie vrouens ooggetuies van ’n bonatuurlike gebeurtenis was – die verskyning van engele wat gesê het dat Jesus lewe. Hulle sê dat ander ook na die graf gegaan het en “dit gevind [het] net soos die vrouens gesê het”. – Lukas 24:24.

Die twee dissipels het geen idee wat hierdie dinge beteken nie. Die vreemdeling antwoord met gesag om hulle denke, wat veroorsaak dat hulle nie glo dat Jesus opgewek is nie, reg te stel: “O onverstandiges, wat stadig is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge deurmaak om verheerlik te word nie?” (Lukas 24:25, 26). Dan begin hy om baie gedeeltes uit die Skrif aan hulle te verduidelik wat oor die Christus praat.

Uiteindelik kom die drie naby Emmaus aan. Die twee dissipels wil meer hoor, en daarom dring hulle aan: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is amper verby.” Hy besluit om te bly en om saam met hulle te eet. Terwyl die vreemdeling bid, die brood breek en dit vir hulle gee, herken hulle hom, maar dan verdwyn hy (Lukas 24:29-31). Nou weet hulle beslis dat Jesus lewe!

Die twee dissipels is opgewonde en praat oor wat met hulle gebeur het: “Het ons harte nie in ons gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle aan ons verduidelik het nie?” (Lukas 24:32). Hulle gaan haastig terug na Jerusalem toe, waar hulle die apostels en dié wat saam met hulle is, kry. Voordat Kleopas en sy vriend kan vertel wat met hulle gebeur het, hoor hulle hoe ander sê: “Die Here is werklik opgewek en het aan Simon verskyn!” (Lukas 24:34). Dan vertel die twee hoe Jesus aan hulle verskyn het. Ja, hulle is ook ooggetuies.

Ewe skielik verskyn Jesus in die kamer – almal is geskok! Hulle verstaan nie hoe dit moontlik is nie, want hulle het die deure gesluit omdat hulle bang is vir die Jode. Maar hier staan Jesus saam met hulle in die kamer. Hy sê op ’n kalm manier: “Mag julle vrede hê.” Maar hulle is bang. Net soos een keer in die verlede, dink “hulle . . . dat hulle ’n gees sien”. – Lukas 24:36, 37; Matteus 14:25-27.

Om te bewys dat hy nie ’n gees of iets in hulle verbeelding is nie, maar dat hy ’n vleeslike liggaam het, wys Jesus vir hulle sy hande en voete en sê: “Hoekom is julle ontsteld, en hoekom twyfel julle in julle harte? Kyk na my hande en my voete. Dit is regtig ek. Raak aan my en kyk, want ’n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat ek het nie” (Lukas 24:36-39). Hulle is baie bly en verbaas, maar hulle sukkel nog om te glo.

Hy probeer nog iets om hulle te help sien dat hy fisies daar is. Hy vra: “Het julle iets daar om te eet?” Hy aanvaar ’n stuk geroosterde vis en eet dit. Dan sê hy: “Toe ek nog by julle was [voor my dood], het ek vir julle gesê dat alles wat in die Wet van Moses en in die boeke van die profete en die Psalms oor my geskryf is, vervul moet word.” – Lukas 24:41-44.

Jesus het vir Kleopas en sy vriend gehelp om die Skrif te verstaan, en nou doen hy dieselfde vir almal wat daar is: “Daar is geskryf dat die Christus sou ly en op die derde dag uit die dood sou opstaan. En op grond van sy naam sal daar verkondig word dat mense berou moet toon sodat hulle sondes vergewe kan word. Dit sal in Jerusalem begin en aan al die nasies verkondig word. Julle moet getuies van hierdie dinge wees.” – Lukas 24:46-48.

Vir die een of ander rede is die apostel Tomas nie daar nie. In die dae daarna sê ander vol vreugde vir hom: “Ons het die Here gesien!” Tomas antwoord: “Tensy ek die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merk van die spykers steek en my hand in sy sy steek, sal ek dit nooit glo nie.” – Johannes 20:25.

Agt dae later kom die dissipels weer bymekaar en die deure is weer gesluit, maar hierdie keer is Tomas saam met hulle. Jesus verskyn weer tussen hulle in ’n menslike liggaam en groet hulle: “Mag julle vrede hê.” Jesus draai na Tomas en sê: “Sit jou vinger hier, en kyk na my hande, en neem jou hand en steek dit in my sy, en hou op twyfel, maar glo.” Tomas roep uit: “My Here en my God!” (Johannes 20:26-28). So Tomas twyfel nie meer dat Jesus lewe nie. Deur “my God” te sê, bedoel hy dat Jesus “’n god” is, wat die enigste ware God, Jehovah, verteenwoordig.

Jesus sê: “Glo jy omdat jy my gesien het? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” – Johannes 20:29.