HOOFSTUK 125
Jesus word na Annas en dan na Kajafas geneem
MATTEUS 26:57-68 MARKUS 14:53-65 LUKAS 22:54, 63-65 JOHANNES 18:13, 14, 19-24
-
JESUS WORD NA DIE VORIGE HOOFPRIESTER ANNAS GENEEM
-
’N ONWETTIGE VERHOOR BY DIE SANHEDRIN
Noudat Jesus soos ’n gewone misdadiger geboei is, neem hulle hom na Annas, wat die hoëpriester was toe jong Jesus die onderrigters by die tempel verbaas het (Lukas 2:42, 47). Party van Annas se seuns het later as hoëpriesters gedien, en nou is sy skoonseun Kajafas die hoëpriester.
Terwyl Jesus by Annas se huis is, het Kajafas tyd om die Sanhedrin bymekaar te maak. Die hof bestaan uit 71 lede wat die hoëpriester en ander wat voorheen daardie posisie gehad het, insluit.
Annas vra Jesus uit oor “sy dissipels en oor wat hy die mense geleer het”. Jesus sê eenvoudig: “Ek het in die openbaar met die wêreld gepraat. Ek het mense altyd in ’n sinagoge en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaarkom, en ek het niks in die geheim gesê nie. Hoekom ondervra u my? Ondervra die mense wat gehoor het wat ek gesê het.” – Johannes 18:19-21.
’n Beampte wat daar staan klap Jesus in die gesig en sê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?” Maar Jesus, wat weet dat hy niks verkeerds gedoen het nie, sê: “As ek iets verkeerds gesê het, sê dan wat ek gesê het. Maar as wat ek gesê het, reg is, hoekom slaan jy my?” (Johannes 18:22, 23). Dan stuur Annas Jesus na sy skoonseun Kajafas.
Teen hierdie tyd is die hele Sanhedrin al bymekaar – die hoëpriester, die ouermanne van die
mense en die skrifgeleerdes. Hulle kom by Kajafas se huis bymekaar. Dit is onwettig om so ’n verhoor op die aand van die Pasga te hou, maar dit keer hulle nie, hulle hou aan met hulle slegte plan.Hierdie groep het al klaar besluit wat hulle met Jesus wil doen. Nadat Jesus Lasarus opgewek het, het die Sanhedrin besluit dat Jesus doodgemaak moet word (Johannes 11:47-53). En net ’n paar dae gelede het die godsdiensleiers planne gemaak om Jesus te vang en dood te maak (Matteus 26:3, 4). Ja, selfs voordat Jesus se verhoor begin, is hy so goed as dood veroordeel!
Behalwe die feit dat hulle onwettig bymekaarkom, probeer die hoofpriesters en ander van die Sanhedrin om getuies te kry wat valse getuienis sal lewer sodat hulle ’n saak teen Jesus kan maak. Hulle kry baie mense, maar wat hierdie mense sê, stem nie ooreen nie. Uiteindelik is daar twee getuies wat sê: “Ons het hom hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een bou wat nie met hande gemaak is nie’” (Markus 14:58). Maar selfs hulle stem nie heeltemal met mekaar saam nie.
Kajafas vra toe vir Jesus: “Het jy niks om te sê nie? Hoor jy nie waarvan hierdie mans jou beskuldig nie?” (Markus 14:60). Jesus sê niks oor hierdie valse aanklag wat deur getuies gemaak is wat se stories nie eers ooreenstem nie. So nou probeer die hoëpriester Kajafas ’n ander taktiek.
Kajafas weet dat die Jode sensitief is oor enigiemand wat sê dat hy die Seun van God is. Vroeër, toe Jesus gesê het dat God sy Vader is, wou die Jode hom doodmaak omdat hulle gesê het dat hy ‘hom aan God gelykmaak’ (Johannes 5:17, 18; 10:31-39). Kajafas is bewus hiervan daarom sê hy: “Ek beveel jou om voor die lewende God te sweer dat jy die waarheid sal praat en vir ons sal sê of jy die Christus, die Seun van God, is!” (Matteus 26:63). Jesus het natuurlik al erken dat hy die Seun van God is (Johannes 3:18; 5:25; 11:4). As hy dit nie nou erken nie, is dit asof hy sê dat hy nie God se Seun en die Christus is nie. Daarom sê Jesus: “Ek is, en julle sal die Seun van die mens aan die regterhand van die Magtige sien sit en met die wolke van die hemel sien kom.” – Markus 14:62.
Toe Kajafas dit hoor, skeur hy sy bo-klere en sê: “Hy het gelaster! Waarvoor het ons nog getuies nodig? Nou het julle self gehoor hoe hy laster. Wat dink julle?” Die Sanhedrin gee toe die onregverdige oordeel: “Hy verdien om te sterf.” – Matteus 26:65, 66.
Toe begin hulle Jesus spot en met hulle vuiste slaan. Ander klap hom en spoeg in sy gesig. Nadat hulle sy gesig bedek, slaan hulle hom en sê hulle sarkasties: “Profeteer! Wie is dit wat jou geslaan het?” (Lukas 22:64). Hier word die Seun van God mishandel gedurende ’n onwettig verhoor in die nag!