Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 110

Jesus se laaste dag by die tempel

Jesus se laaste dag by die tempel

MATTEUS 23:25–24:2 MARKUS 12:41–13:2 LUKAS 21:1-6

  • JESUS VEROORDEEL DIE GODSDIENSLEIERS VERDER

  • DIE TEMPEL SAL VERNIETIG WORD

  • ’N ARM WEDUWEE GOOI TWEE MUNTSTUKKIES IN

Gedurende Jesus se laaste dag by die tempel hou hy aan om die skrifgeleerdes en die Fariseërs te veroordeel en sê hy reguit dat hulle skynheilig is. Hy gebruik die volgende illustrasie en sê: “Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar aan die binnekant is dit vol gierigheid en selfsug. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat die buitekant ook skoon kan word” (Matteus 23:25, 26). Terwyl die Fariseërs streng is wanneer dit kom by seremoniële reinheid en uiterlike voorkoms, skeep hulle die innerlike persoon af en maak hulle nie hulle figuurlike hart skoon nie.

Hulle skynheiligheid kan ook gesien word in die feit dat hulle gewillig is om grafte vir die profete te bou en te versier. Maar dit is net soos Jesus sê, hulle is “kinders . . . van dié wat die profete vermoor het” (Matteus 23:31). Hulle het dit bewys deur Jesus te probeer doodmaak. – Johannes 5:18; 7:1, 25.

Dan wys Jesus wat met hierdie godsdiensleiers gaan gebeur as hulle nie berou toon nie: “Julle spul giftige slange, hoe sal julle die oordeel van Gehenna vryspring?” (Matteus 23:33). Gehenna beteken “Hinnom-vallei”. Hierdie vallei word gebruik om vullis te verbrand, en dit skilder ’n prentjie van die permanente vernietiging wat op die goddelose skrifgeleerdes en Fariseërs wag.

Jesus se dissipels sal hom as “profete en wyse manne en openbare onderrigters” verteenwoordig. Hoe sal hulle behandel word? Jesus praat met die godsdiensleiers en sê: “Julle sal party van [my dissipels] doodmaak en aan pale hang, en julle sal party van hulle in julle sinagoges met gésels slaan en van stad tot stad vervolg. Daarom sal al die regverdige bloed wat op die aarde uitgestort is, oor julle kom, van die bloed van die regverdige Abel af tot die bloed van Sagaria . . . wat julle . . . vermoor het.” Hy waarsku hulle: “Ek verseker julle: Al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom” (Matteus 23:34-36). Dit is wat in 70 HJ gebeur wanneer die Romeinse leërmag Jerusalem vernietig en duisende Jode doodmaak.

Wanneer Jesus aan hierdie verskriklike situasie dink, word hy baie hartseer. Hy sê: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en die mense wat na haar gestuur is, met klippe doodgooi – hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou my nie toelaat nie. Kyk! Julle huis sal verlate word” (Matteus 23:37, 38). Dié wat hierdie woorde hoor, wonder dalk watter “huis” hy van praat. Praat hy dalk van die pragtige tempel wat in Jerusalem is, wat blykbaar deur God beskerm word?

Dan sê Jesus verder: “Ek sê vir julle: Julle sal my van nou af glad nie sien nie totdat julle sê: ‘Geseënd is die een wat in Jehovah se naam kom!’” (Matteus 23:39). Hy haal die profetiese woorde in Psalm 118:26 aan: “Geseënd is die een wat in die naam van Jehovah kom. Ons seën julle uit die huis van Jehovah.” Dit is duidelik dat niemand in God se naam na hierdie letterlike tempel sal gaan nadat dit vernietig is nie.

Jesus gaan nou na ’n gedeelte in die tempel waar daar skatkiste is wat soos trompette lyk. Mense kan geld ingooi by die smal opening aan die bokant. Jesus sien hoe verskillende Jode geld ingooi, die rykes gooi “baie muntstukke” as geskenke in. Dan sien Jesus hoe ’n arm weduwee “twee muntstukkies van baie min waarde” ingooi (Markus 12:41, 42). Jesus weet hoe gelukkig God met haar geskenk is.

Jesus roep sy dissipels en sê: “Ek verseker julle dat hierdie arm weduwee meer ingegooi het as al die ander mense wat geld in die skatkiste gegooi het.” Hoe is dit moontlik? Hy verduidelik: “Hulle almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar al is sy baie arm, het sy alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Markus 12:43, 44). Haar denke en dade verskil heeltemal van die godsdiensleiers!

Later in die dag, 11 Nisan, verlaat Jesus die tempel vir die laaste keer. Een van sy dissipels sê: “Leermeester, kyk na hierdie pragtige klippe en geboue!” (Markus 13:1). Party van die klippe van die tempelmure is baie groot en dit skep die indruk dat die tempel sterk is en vir altyd sal staan. Daarom klink dit vreemd wanneer Jesus sê: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie ’n klip op ’n klip gelos word wat nie afgebreek sal word nie.” – Markus 13:2.

Nadat hy hierdie dinge gesê het, gaan Jesus en sy apostels oor die Kidron-vallei en gaan hulle na ’n plekkie op die Olyfberg. Op ’n stadium is hy saam met vier van die apostels – Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes. Van hier kan hulle die pragtige tempel sien.