Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL EEN

“Die een wat verlore is, sal ek soek”

“Die een wat verlore is, sal ek soek”

Die skaap is bang. Terwyl hy gewei het, het hy van die ander skape weggedwaal. Nou is die kudde en die herder nêrens te sien nie. Dit begin al donker word. Daar is roofdiere in die vallei en die skaap is heeltemal hulpeloos. Uiteindelik hoor hy ’n bekende stem—dit is die herder! Hy hardloop na die skaap toe, tel hom op, sit hom in die voue van sy kleed en dra hom huis toe.

JEHOVAH vergelyk homself herhaaldelik met so ’n herder. Hy verseker ons in sy Woord: “Ek sal my skape soek en vir hulle sorg.”—Esegiël 34:11, 12.

“Die skape van my weiding”

Wie is Jehovah se skape? Eenvoudig gestel, Jehovah se skape is die mense wat hom liefhet en aanbid. Die Bybel sê: “Laat ons aanbid en ons neerbuig; laat ons kniel voor Jehovah, ons Maker. Want hy is ons God, en ons is die volk van sy weiding en die skape van sy hand” (Psalm 95:6, 7). Soos letterlike skape wat ’n herder volg, is Jehovah se aanbidders gretig om hulle Herder te volg. Is hulle volmaak? Nee. God se knegte was soms soos “skape . . . wat oral versprei is”, “verlore skape” en “skape wat wegdwaal” (Esegiël 34:12; Matteus 15:24; 1 Petrus 2:25). Nogtans skryf Jehovah ’n persoon nie af wanneer hy weggedwaal het nie.

Voel jy dat Jehovah nog steeds jou Herder is? Hoe tree Jehovah vandag as ’n Herder op? Kom ons kyk na drie maniere:

Hy voed ons geestelik. “Op ’n goeie weiveld sal ek hulle laat wei”, sê Jehovah. “Daar sal hulle in ’n goeie woonplek gaan lê, en op ’n vet weiveld sal hulle . . . wei” (Esegiël 34:14). Jehovah het ons nog altyd ’n verkwikkende verskeidenheid tydige geestelike voedsel gegee. Kan jy dink aan ’n artikel, ’n toespraak of ’n video wat ’n antwoord op jou gebed was? Het dit jou nie daarvan oortuig dat Jehovah vir jou persoonlik omgee nie?

Hy beskerm en ondersteun ons. Jehovah belowe: “Die een wat verlore is, . . . sal ek terugbring en die een wat gewond is, sal ek verbind en die sieke sal ek versterk” (Esegiël 34:16). Jehovah versterk dié wat verswak is of oorweldig is deur sorge. Hy verbind die wonde van sy skape en help hulle om weer gesond te word as hulle seergemaak is—dalk selfs deur medegelowiges. En hy bring diegene terug wat verlore is en wat dalk met negatiewe gevoelens worstel.

Hy voel verantwoordelik vir ons. “Ek sal hulle verlos uit al die plekke waarheen hulle . . . verstrooi is”, sê Jehovah. “Die een wat verlore is, sal ek soek” (Esegiël 34:12, 16). Jehovah beskou nie ’n verlore skaap as ’n verlore saak nie. Hy weet wanneer ’n skaap verlore is, hy soek na daardie skaap en hy is bly wanneer hy hom vind (Matteus 18:12-14). Hy noem sy ware aanbidders immers “my skape, die skape van my weiding” (Esegiël 34:31). Jy is een van daardie skape.

Jehovah beskou nie ’n verlore skaap as ’n verlore saak nie. Hy is bly wanneer daardie skaap gevind word

“Bring vir ons nuwe dae soos lank gelede”

Waarom soek Jehovah na jou en nooi hy jou om na hom terug te keer? Want hy wil hê dat jy gelukkig moet wees. Hy belowe aan sy skape: “Stortreëns van seën sal daar wees” (Esegiël 34:26). Dit is nie ’n leë belofte nie. Jy het self al bewyse daarvan gesien.

Dink aan jou ondervindinge toe jy Jehovah leer ken het. Byvoorbeeld, hoe het jy gevoel toe jy begin leer het van die opwindende waarhede oor God se naam en sy voorneme vir die mens? Onthou jy hoe verkwikkend dit was om met mede-Christene by byeenkomste te assosieer? Het jy nie ’n gevoel van geluk en diepe tevredenheid gehad toe jy die goeie nuus kon deel met iemand wat opregte belangstelling getoon het nie?

Jy kan weer so voel. “Bring ons terug tot u, o Jehovah”, het God se eertydse knegte gebid, “en ons sal graag terugkom. Bring vir ons nuwe dae soos lank gelede” (Klaagliedere 5:21). Jehovah het daardie gebed verhoor, en sy volk het met hernieude vreugde na hom teruggekeer (Nehemia 8:17). Jehovah sal dieselfde vir jou doen.

Maar om na Jehovah terug te keer is makliker gesê as gedaan. Kom ons kyk watter uitdagings daar is wanneer iemand wil terugkeer en hoe hy dit kan oorkom.