Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Brief van die Bestuursliggaam

’n Brief van die Bestuursliggaam

Liewe medegelowige

Soos jy weet, is die Bybel hoofsaaklik ’n boek oor mense. Baie van hulle was getroue manne en vroue wat voor dieselfde soort uitdagings as ons te staan gekom het. Hulle was mense “met gevoelens soos ons s’n” (Jakobus 5:17). Party het gebuk gegaan onder probleme en sorge. Ander is diep seergemaak deur gesinslede of medeaanbidders. En ’n aantal het geworstel met skuldgevoelens weens hulle eie foute.

Het hulle Jehovah heeltemal verlaat? Nee. Baie was soos die psalmis wat gebid het: “Ek het soos ’n verlore skaap gedwaal. Soek tog u kneg, want ek het u gebooie nie vergeet nie” (Psalm 119:176). Is dit hoe jy voel?

Jehovah vergeet nooit sy aanbidders wat van die kudde weggedwaal het nie. Inteendeel, hy reik uit na hulle—en hy doen dit dikwels deur middel van hulle medegelowiges. Kyk byvoorbeeld hoe Jehovah sy kneg Job gehelp het, wat heelwat teëspoed ondervind het—insluitende finansiële terugslae, die verlies van geliefdes en ’n ernstige gesondheidsprobleem. Job is ook diep seergemaak deur die ongevoelige woorde van mense wat hom eintlik moes ondersteun. Maar hy het nooit sy rug op Jehovah gekeer nie, al het hy ’n ruk lank die verkeerde beskouing van sake gehad (Job 1:22; 2:10). Hoe het Jehovah Job gehelp om weer sy balans te vind?

Een manier waarop Jehovah Job gehelp het, was deur ’n medegelowige genaamd Elihu. Toe Job sy gevoelens uitgespreek het, het Elihu geluister en toe geantwoord. Wat het hy gesê? Het hy Job gekritiseer of hom probeer motiveer deur hom in die verleentheid te stel of hom skuldig te laat voel? Het Elihu gedink dat hy beter is as Job? Glad nie! Elihu het onder die invloed van God se gees gesê: “Ek is vir die ware God presies soos u; uit die klei is ook ék gevorm.” Toe het hy Job gerusgestel: “Geen verskrikking in my sal u verskrik nie, en geen druk van my sal swaar op u wees nie” (Job 33:6, 7). Elihu het Job nie slegter laat voel nie, maar het hom eerder die liefdevolle raad en aanmoediging gegee wat hy nodig gehad het.

Wees asseblief verseker dat ons hierdie brosjure in ’n soortgelyke gees voorberei het. Eers het ons aandagtig geluister en die omstandighede en gevoelens in ag geneem van ’n aantal wat weggedwaal het (Spreuke 18:13). Toe het ons die Bybel geraadpleeg en biddend na verslae gekyk van hoe Jehovah sy knegte in die verlede gehelp het toe hulle in soortgelyke omstandighede was. Uiteindelik het ons hierdie brosjure saamgestel deur daardie verslae in die Bybel met hedendaagse ondervindinge te kombineer. Ons nooi jou hartlik om hierdie materiaal te ondersoek. Wees asseblief verseker dat ons jou opreg liefhet.

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies