Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL VYF

Keer terug na “die herder en opsiener van julle siele”

Keer terug na “die herder en opsiener van julle siele”

Kon jy jou identifiseer met een of meer van die uitdagings wat in hierdie brosjure bespreek is? Indien wel, is jy in goeie geselskap. Talle getroue knegte van God—in Bybeltye sowel as in ons dag—het voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Net soos Jehovah hulle gehelp het om sulke uitdagings die hoof te bied, kan hy jou ook help.

Jehovah sal daar wees vir jou wanneer jy na hom terugkeer

WEES VERSEKER dat Jehovah daar sal wees vir jou wanneer jy na hom terugkeer. Hy sal jou help om sorge die hoof te bied, om seergemaakte gevoelens te verwerk en om die gemoedsrus te vind wat ’n skoon gewete jou sal gee. Dan sal jy dalk weer voel dat jy Jehovah saam met medeaanbidders wil dien. Jou situasie sal soortgelyk wees aan dié van party eerste-eeuse Christene, aan wie die apostel Petrus geskryf het: “Julle was soos skape wat wegdwaal; maar nou het julle teruggekeer tot die herder en opsiener van julle siele.”—1 Petrus 2:25.

Om na Jehovah terug te keer is die heel beste ding wat jy kan doen. Waarom? Jy sal Jehovah se hart bly maak (Spreuke 27:11). Soos jy weet, het Jehovah gevoelens. Wat ons doen, het ’n uitwerking op hom. Jehovah dwing ons natuurlik nie om hom lief te hê en hom te dien nie (Deuteronomium 30:19, 20). Een Bybelgeleerde het dit so gestel: “Daar is geen handvatsel aan die buitekant van die deur tot die mens se hart nie. Dit moet van binne af oopgemaak word.” As ons Jehovah met ’n hart vol liefde aanbid, kan ons besluit om daardie deur oop te maak. Wanneer ons dit doen, gee ons hom ’n kosbare geskenk—ons onkreukbaarheid—en maak ons sy hart baie, baie bly. Daar is niks wat kan vergelyk met die geluk wat ons ervaar wanneer ons Jehovah die aanbidding gee wat hy verdien nie.—Handelinge 20:35; Openbaring 4:11.

En wanneer jy jou roetine van Christelike aanbidding hervat, sal jou geestelike behoefte bevredig word (Matteus 5:3). Hoe so? Mense regoor die aarde wonder: ‘Waarom is ons hier?’ Hulle smag na antwoorde op vrae oor die doel van die lewe. Mense het hierdie behoefte omdat Jehovah hulle so geskep het. Hy het ons gemaak om bevrediging te vind wanneer ons hom dien. Niks maak ons gelukkiger as om te weet dat ons Jehovah uit liefde aanbid nie.—Psalm 63:1-5.

Wees asseblief verseker dat Jehovah wil hê dat jy na hom moet terugkeer. Waarom sê ons so? Dink hieraan: Hierdie brosjure is biddend en met groot sorg voorberei. Dalk het ’n Christen- ouer man of ’n ander medegelowige dit vir jou gegee of jou daarvan vertel. Toe is jy beweeg om dit te lees en op die boodskap hierin ag te slaan. Dit alles bewys dat Jehovah jou nie vergeet het nie. Trouens, hy trek jou liefdevol terug na hom toe.—Johannes 6:44.

Dit is vertroostend om te weet dat Jehovah nooit vergeet van sy knegte wat weggedwaal het nie. Dit is wat ’n suster genaamd Donna besef het. Sy het gesê: “Ek het geleidelik van die waarheid weggedryf, maar ek het dikwels oor Psalm 139:23, 24 nagedink, wat sê: ‘Deurvors my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes, en kyk of daar in my enigsins ’n pynlike weg is, en lei my op die weg van onbepaalde tyd.’ Ek het geweet dat ek nie in die wêreld hoort nie—ek het nooit werklik ingepas nie. Ek het geweet dat ek eerder in Jehovah se organisasie moet wees. Ek het besef dat Jehovah my nooit verlaat het nie; ek moes net na hom terugkeer. En ek is so bly dat ek dit gedoen het!”

“Ek het besef dat Jehovah my nooit verlaat het nie; ek moes net na hom terugkeer”

Dit is ons opregte gebed dat jy ook weer “die vreugde van Jehovah” sal ervaar (Nehemia 8:10). Jy sal nooit spyt wees dat jy na Jehovah teruggekeer het nie.