Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL DRIE

Seergemaakte gevoelens—Wanneer ons “rede tot klagte” het

Seergemaakte gevoelens—Wanneer ons “rede tot klagte” het

“’n Suster in ons gemeente het my verkeerdelik daarvan beskuldig dat ek geld by haar gesteel het. Ander in die gemeente het daarvan te hore gekom en begin kant kies. Uiteindelik het die suster vir my gesê dat sy uitgevind het dat ek onskuldig is. Al het sy om verskoning gevra, het ek in my hart gevoel dat ek haar nooit sou kon vergewe vir wat ek deurgemaak het nie.”—Linda.

IS JY al, soos Linda, diep seergemaak deur iets wat ’n medegelowige gedoen het? Ongelukkig is party so ontstel deur die gedrag van ander dat dit hulle geestelike roetine geaffekteer het. Dalk het dit met jou gebeur.

Kan enigiemand ons “skei van God se liefde”?

Dit is dalk vir ons baie moeilik om ’n medegelowige te vergewe wat ons seergemaak het. Christene is mos veronderstel om mekaar lief te hê (Johannes 13:34, 35). As ’n medegelowige ons die een of ander onreg aangedoen het, kan die teleurstelling en pyn verpletterend wees.—Psalm 55:12.

Die Bybel erken dat daar wel tye is wanneer Christene mekaar “rede tot klagte” gee (Kolossense 3:13). Maar wanneer dit met óns gebeur, kan dit vir ons nogal moeilik wees om so ’n situasie te hanteer. Is daar enigiets wat ons kan help? Kom ons kyk na drie skriftuurlike beginsels:

Ons hemelse Vader is van alles bewus. Jehovah sien alles wat gebeur, insluitende enige onreg wat ons verduur en die lyding wat dit veroorsaak (Hebreërs 4:13). Jehovah het ook medelye met ons wanneer ons ly (Jesaja 63:9). God sal nooit toelaat dat “verdrukking of benoudheid” of enigiets anders—nie eers een van sy knegte—‘ons skei van sy liefde’ nie (Romeine 8:35, 38, 39). Word ons nie beweeg om Jehovah se voorbeeld te volg deur te sorg dat niks of niemand tussen ons en hom kom nie?

Wanneer ons vergewe, keur ons nie die onreg goed nie. Wanneer ons diegene vergewe wat ons ’n onreg aangedoen het, beteken dit nie dat ons hulle dade verklein, regverdig, verskoon of goedkeur nie. Onthou, Jehovah keur sonde nooit goed nie, maar hy vergewe dit wel as daar ’n grondige rede daarvoor is (Psalm 103:12, 13; Habakuk 1:13). Wanneer Jehovah ons aanmoedig om ander te vergewe, vra hy ons om hom na te volg. Hy bly nie “vir altyd gegrief” nie.—Psalm 103:9, NW; Matteus 6:14.

Om gegriefdheid te laat vaar is goed vir ons. Waarom sê ons so? Stel jou die volgende situasie voor. Jy tel ’n klip op wat dalk net ’n kilogram of twee weeg en hou dit ’n armlengte van jou af weg. Jy sal dit waarskynlik nie moeilik vind om dit vir ’n rukkie daar te hou nie. Maar sê nou jy probeer dit lank daar hou. Hoe lank sal jy dit kan doen—’n paar minute? ’n uur? of langer? Jou arm sal ongetwyfeld baie moeg word! Die klip word natuurlik nie swaarder nie. Maar hoe langer jy dit so hou, hoe swaarder voel dit. Dieselfde kan van gegriefdheid gesê word. Hoe langer ons ’n wrok koester—selfs oor iets kleins—hoe slegter is dit vir ons. Geen wonder Jehovah moedig ons aan om gegriefdheid te laat vaar nie. Ja, om dit te doen is vir ons eie beswil.—Spreuke 11:17.

Om gegriefdheid te laat vaar is goed vir ons

“Dit het gevoel of Jehovah self met my praat”

Wat het Linda gehelp om nie gegrief te bly oor die manier waarop sy deur ’n medegelowige behandel is nie? Sy het onder andere nagedink oor skriftuurlike redes om te vergewe (Psalm 130:3, 4). Linda was diep getref deur die feit dat Jehovah ons sal vergewe as ons ander vergewe (Efesiërs 4:32–5:2). Sy vertel hoe daardie gedagte haar geraak het: “Dit het gevoel of Jehovah self met my praat.”

Met verloop van tyd kon Linda haar gegriefdheid laat vaar. Sy het die suster vryelik vergewe, en nou is hulle goeie vriende. Linda het vooruitgegaan in haar diens aan Jehovah. Wees verseker dat Jehovah jou wil help om dieselfde te doen.