Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL TWEE

Sorge—“In elke opsig onder groot druk”

Sorge—“In elke opsig onder groot druk”

“Ná 25 jaar is ek en my man geskei. My kinders het die waarheid verlaat. Ek het ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel. Toe het ek aan depressie begin ly. Dit het gevoel of my hele wêreld in duie gestort het en dat alles vir my te veel geword het. Ek het opgehou om vergaderinge by te woon, en ek het onbedrywig geword.”—June.

NIEMAND is immuun teen sorge nie—nie eers God se knegte nie. “Sorge het my oorweldig”, het die psalmis geskryf (Psalm 94:19, NW). En Jesus het gesê dat die “sorge van die lewe” gedurende die tyd van die einde dit vir ’n persoon baie moeilik kan maak om Jehovah te dien (Lukas 21:34). Wat van jou? Voel jy oorweldig deur probleme met jou finansies, jou gesin of jou gesondheid? Hoe kan Jehovah jou help?

“Krag wat bo die normale is”

Ons kan nie sorge op ons eie die hoof bied nie. “Ons is in elke opsig onder groot druk”, het die apostel Paulus geskryf. “Ons is raadop . . . ; ons is neergewerp.” Maar hy het ook gesê ons is “nie só vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie”, “nie heeltemal sonder uitweg nie” en “nie vernietig nie”. Wat help ons om te volhard? “Krag wat bo die normale is”—krag wat van ons almagtige God, Jehovah, kom.—2 Korintiërs 4:7-9NW.

Dink aan hoe jy in die verlede “krag wat bo die normale is”, ontvang het. Onthou jy hoe ’n aanmoedigende toespraak jou groter waardering vir Jehovah se lojale liefde gegee het? Het jou geloof in Jehovah se beloftes sterker geword toe jy ander oor die hoop van die Paradys geleer het? Wanneer ons Christelike vergaderinge bywoon en ander van ons geloof vertel, gee dit ons krag om die sorge van die lewe te verduur en gemoedsrus sodat ons Jehovah met vreugde kan dien.

“Smaak en sien dat Jehovah goed is”

Realisties gesproke voel jy dalk dat daar te veel eise op jou tyd en energie is. Byvoorbeeld, Jehovah verwag dat ons eers die Koninkryk moet soek en ’n geestelike roetine moet hê (Matteus 6:33; Lukas 13:24). Maar sê nou jy voel fisies uitgemergel weens teenstand, swak gesondheid of gesinsprobleme? Of sê nou jou sekulêre werk neem die tyd en energie in beslag wat jy andersins saam met die gemeente sou deurbring? Omdat daar soveel eise aan jou gestel word—en daar te min tyd en energie is om by alles uit te kom—voel jy dalk oorweldig. Miskien het jy al selfs gewonder of Jehovah te veel van jou verwag.

Jehovah verstaan jou situasie. Hy verwag nooit meer van ons as wat ons kan gee nie. En hy weet dat ons tyd nodig het om van fisiese en emosionele stres te herstel.—Psalm 103:13, 14.

Kyk byvoorbeeld hoe Jehovah vir die profeet Elia omgegee het. Het Jehovah Elia tereggewys en hom na sy toewysing teruggestuur toe die profeet so mismoedig en bang geword het dat hy na die wildernis gevlug het? Nee. Jehovah het twee keer ’n engel gestuur om Elia saggies wakker te maak en vir hom iets te gee om te eet. Tog was Elia 40 dae later nog steeds angstig en bang. Wat anders het Jehovah gedoen om hom te help? Eerstens het Jehovah getoon dat hy hom kan beskerm. Tweedens het Jehovah Elia met “’n kalm, sagte stem” gerusgestel. Laastens het Jehovah aan hom geopenbaar dat daar duisende ander is wat God nog getrou aanbid. Dit was nie lank voor Elia weer as ’n ywerige profeet gedien het nie (1 Konings 19:1-19). Watter les leer ons hieruit? Toe Elia deur angs oorweldig was, was Jehovah geduldig en simpatiek teenoor hom. Jehovah het nie verander nie. Hy gee ook vir ons om.

Wees realisties wanneer jy dink oor wat jy vir Jehovah kan gee. Moenie wat jy vandag kan doen, vergelyk met wat jy in die verlede gedoen het nie. Ons kan dit soos volg illustreer: ’n Hardloper wat maande of jare laas geoefen het, kan nie sy vorige roetine sommer net weer voortsit nie. Nee, hy begin deur klein doelwitte te stel wat sy krag en uithouvermoë geleidelik opbou. Christene is soos hardlopers. Hulle oefen met ’n duidelike doelwit voor oë (1 Korintiërs 9:24-27). Kan jy dalk een geestelike doelwit nastreef wat jy op hierdie stadium moontlik sal kan bereik? Kan jy byvoorbeeld die doelwit stel om ’n gemeentelike vergadering by te woon? Vra Jehovah om jou te help om jou doelwit te bereik. Namate jy jou geestelike krag herwin, sal jy “smaak en sien dat Jehovah goed is” (Psalm 34:8). Onthou dat enigiets wat jy doen om jou liefde vir Jehovah te toon, vir hom kosbaar is—al lyk dit ook hoe klein.—Lukas 21:1-4.

Jehovah verwag nooit meer van ons as wat ons kan gee nie

“Die hupstoot waarvoor ek gewag het”

Hoe het Jehovah June die krag gegee om na hom terug te keer? Sy vertel: “Ek het aanhou bid tot Jehovah en hom gevra om my te help. Toe het my skoondogter my vertel van ’n byeenkoms in ons dorp. Ek het toe besluit om een dag van die byeenkoms by te woon. Dit het wonderlik gevoel om weer saam met Jehovah se volk te wees! Daardie byeenkoms was die hupstoot waarvoor ek gewag het. Nou dien ek Jehovah weer met vreugde. Die lewe het soveel meer betekenis vir my. Ek besef nou meer as ooit tevore dat ek my nie moet afsonder en op my eie krag moet staatmaak nie. Ek is dankbaar dat daar nog tyd was vir my om terug te kom.”