Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 31

‘Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom’

‘Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom’

1-3. (a) Wat kan ons van die menslike natuur leer deur die wisselwerking tussen ouers en hulle baba waar te neem? (b) Watter natuurlike proses vind plaas wanneer iemand liefde aan ons betoon, en watter belangrike vraag kan ons ons afvra?

DIT verskaf ouers groot vreugde om hulle pasgebore baba te sien glimlag. Hulle sit dikwels hulle gesig naby dié van die baba terwyl hulle liefkosend met hom gesels en vir hom glimlag. Hulle wil graag ’n reaksie sien. En kort voor lank kom dit—kuiltjies vorm in die baba se wange, sy lippe krul en ’n pragtige glimlag verskyn. Daardie glimlag is ’n unieke bewys van liefde, die ontluikende liefde van die baba in reaksie op die liefde van die ouers.

2 Die baba se glimlag laat ons aan iets belangriks in die menslike natuur dink. Ons natuurlike reaksie op liefde is liefde. Dit is nou maar eenmaal hoe ons gemaak is (Psalm 22:9). Namate ons groei, ontwikkel ons vermoë om op liefde te reageer. Miskien onthou jy hoe jou ouers, familielede of vriende liefde aan jou betoon het toe jy nog klein was. ’n Warm gevoel het in jou hart ontstaan, dit het gegroei en het tot dade gelei. Jy het hulle liefde beantwoord. Vind ’n soortgelyke proses in jou verhouding met Jehovah God plaas?

3 Die Bybel sê: “Wat ons betref, ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). In Deel 1 tot 3 van hierdie boek is jy daaraan herinner dat Jehovah God sy krag, sy geregtigheid en sy wysheid op liefdevolle maniere in jou belang uitgeoefen het. En in Deel 4 het jy gesien dat hy sy liefde vir die mensdom—en vir jou persoonlik—op merkwaardige maniere regstreeks betoon het. Nou ontstaan ’n vraag. In sekere sin is dit die belangrikste vraag wat jy jou kan afvra: ‘Hoe sal ek op Jehovah se liefde reageer?’

Wat dit beteken om God lief te hê

4. Waarom kan daar gesê word dat mense verward is oor wat dit beteken om God lief te hê?

4 Jehovah, die Bron van liefde, weet goed watter groot krag liefde het om die beste in ander te voorskyn te bring. Ondanks die volgehoue opstandigheid van ontroue mense het hy dus bly vertrou dat party mense op sy liefde sou reageer. En miljoene het dan ook. Maar ongelukkig het die godsdienste van hierdie verdorwe wêreld verwarring onder mense veroorsaak oor wat dit beteken om God lief te hê. Tallose mense sê dat hulle God liefhet, maar hulle dink blykbaar dat sulke liefde bloot ’n gevoel is wat in woorde uitgedruk moet word. Liefde vir God begin miskien so, net soos ’n baba se liefde vir sy ouers aanvanklik deur ’n glimlag getoon word. Maar by volwassenes behels liefde meer.

5. Hoe beskryf die Bybel liefde vir God, en waarom behoort hierdie definisie tot ons hart te spreek?

5 Jehovah beskryf wat dit beteken om hom lief te hê. Sy Woord sê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar.” Liefde vir God moet dus deur dade bewys word. Baie mense vind weliswaar nie die gedagte aan gehoorsaamheid baie aantreklik nie. Maar dieselfde vers voeg gerusstellend by: “En tog is [God se] gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Jehovah se wette en beginsels is bedoel om ons tot voordeel te strek, nie om ons te onderdruk nie (Jesaja 48:17, 18). God se Woord is vol beginsels wat ons help om nader aan hom te kom. Hoe so? Kom ons kyk na drie aspekte van ons verhouding met God. Dit behels kommunikasie, aanbidding en navolging.

Kommunikasie met Jehovah

6-8. (a) Hoe kan ons na Jehovah luister? (b) Hoe kan ons die Skrif laat lewe wanneer ons dit lees?

6 Hoofstuk 1 het begin met die vraag: “Kan jy jou voorstel dat jy ’n gesprek met God voer?” Ons het gesien dat dit nie ’n vergesogte idee is nie. Moses het in werklikheid so ’n gesprek gevoer. Wat van ons? Dit is nie nou Jehovah se tyd om sy engele te stuur om met mense te praat nie. Maar Jehovah het ’n uitstekende manier om vandag met ons te kommunikeer. Hoe kan ons na Jehovah luister?

7 Omdat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer [is]”, luister ons na Jehovah wanneer ons sy Woord, die Bybel, lees (2 Timoteus 3:16). Die psalmis het knegte van Jehovah dus aangespoor om dit “dag en nag” te doen (Psalm 1:1, 2). Dit verg groot inspanning van ons om dit te doen. Maar alle pogings in dié verband is die moeite werd. Soos ons in Hoofstuk 18 gesien het, is die Bybel soos ’n kosbare brief van ons hemelse Vader aan ons. Om dit te lees, moet dus nie ’n onaangename taak wees nie. Ons moet die Skrif laat lewe wanneer ons dit lees. Hoe kan ons dit doen?

8 Visualiseer Bybelverslae terwyl jy lees. Probeer om die Bybelkarakters as werklike mense te sien. Probeer om hulle agtergrond, omstandighede en beweegredes te verstaan. Dink dan diep na oor wat jy lees en vra jou vrae af soos: ‘Wat leer hierdie verslag my van Jehovah? Watter van sy eienskappe sien ek? Watter beginsel wil Jehovah hê moet ek leer, en hoe kan ek dit in my lewe toepas?’ Lees, peins en pas toe—as jy dit doen, sal God se Woord vir jou lewe.—Psalm 77:12; Jakobus 1:23-25.

9. Wie is “die getroue en verstandige slaaf”, en waarom is dit belangrik dat ons aandagtig na hierdie “slaaf” luister?

9 Jehovah praat ook met ons deur middel van “die getroue en verstandige slaaf”. Soos Jesus voorspel het, is ’n klein groepie gesalfde Christenmans aangestel om gedurende hierdie moeilike laaste dae geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien (Matteus 24:45-47). Wanneer ons lektuur lees wat saamgestel is om ons te help om juiste kennis van die Bybel te verkry en wanneer ons Christelike vergaderinge en byeenkomste bywoon, word ons geestelik gevoed deur hierdie slaaf. Omdat dit Christus se slaaf is, pas ons Jesus se woorde wyslik toe: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister” (Lukas 8:18). Ons luister aandagtig, want ons erken die getroue slaaf as een van Jehovah se middele om met ons te kommunikeer.

10-12. (a) Waarom is gebed ’n wonderlike gawe van Jehovah? (b) Hoe kan ons so bid dat dit Jehovah behaag, en waarom kan ons die vertroue hê dat hy ons gebede waardeer?

10 Maar wat van kommunikasie met God? Kan ons met Jehovah praat? Dit is ’n ontsagwekkende gedagte. Gestel jy probeer die magtigste heerser in jou land nader om oor iets te praat wat jou kwel. Hoe waarskynlik is dit dat jy dit sal regkry? In party gevalle kan dit gevaarlik wees om dit selfs net te probeer doen! In die dae van Ester en Mordegai kon ’n persoon tereggestel word as hy die Persiese koning sonder ’n koninklike uitnodiging genader het (Ester 4:10, 11). Stel jou nou voor dat jy voor die Soewereine Heer van die heelal verskyn, in vergelyking met wie selfs die magtigste mense “soos sprinkane is” (Jesaja 40:22). Moet ons te bang wees om hom te nader? Glad nie!

11 Jehovah het ’n eenvoudige manier voorsien om hom vryelik te nader—gebed. Selfs ’n baie jong kind kan in Jesus se naam in geloof tot Jehovah bid (Johannes 14:6; Hebreërs 11:6). Tog stel gebed ons ook in staat om ons ingewikkeldste, intiemste gedagtes en gevoelens uit te spreek—selfs dié wat pynlik is en wat ons sukkel om in woorde uit te druk (Romeine 8:26). Dit help niks om Jehovah met hoogdrawende, deftige taal of met lang, omslagtige gebede te probeer beïndruk nie (Matteus 6:7, 8). Daarenteen stel Jehovah geen perke aan hoe lank of hoe dikwels ons met hom mag praat nie. Sy Woord nooi ons selfs om ‘onophoudelik te bid’.—1 Tessalonisense 5:17.

12 Onthou dat Jehovah alleen die “Hoorder van die gebed” genoem word, en hy luister met opregte empatie (Psalm 65:2). Duld hy bloot die gebede van sy getroue knegte? Nee, hy skep behae daarin. Sy Woord vergelyk sulke gebede met reukwerk, wat ’n soet, rustige geur laat opstyg wanneer dit gebrand word (Psalm 141:2; Openbaring 5:8; 8:4). Is dit nie bemoedigend om te dink dat ons opregte gebede eweneens na die Soewereine Heer opstyg en hom behaag nie? As jy dan nader aan Jehovah wil kom, moet jy dikwels, elke dag, nederig tot hom bid. Stort jou hart voor hom uit; moet niks verswyg nie (Psalm 62:8). Maak jou bekommernisse, jou vreugdes, jou dank en jou lof aan jou hemelse Vader bekend. Die band tussen jou en hom sal dan steeds al hoe sterker word.

Aanbidding van Jehovah

13, 14. Wat beteken dit om Jehovah te aanbid, en waarom is dit gepas dat ons dit doen?

13 Wanneer ons met Jehovah God kommunikeer, luister en praat ons nie bloot soos ons met ’n vriend of familielid sou doen nie. Kommunikasie met Jehovah is in werklikheid ’n daad van aanbidding, waardeur ons hom op eerbiedige wyse die eer gee wat hy volkome verdien. Ware aanbidding is ons hele lewe. Dit is hoe ons ons heelhartige liefde en toegewydheid aan Jehovah betoon, en dit verenig al Jehovah se getroue skepsele, hetsy in die hemel of op aarde. Die apostel Johannes het in ’n visioen ’n engel hierdie gebod hoor uitroep: “Aanbid . . . die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het.”—Openbaring 14:7.

14 Waarom moet ons Jehovah aanbid? Dink aan die eienskappe wat ons bespreek het, soos heiligheid, krag, selfbeheersing, geregtigheid, moed, barmhartigheid, wysheid, nederigheid, liefde, medelye, lojaliteit en goedheid. Ons het gesien dat Jehovah die mees verhewe standaard van elke kosbare eienskap verteenwoordig. Wanneer ons die geheel van sy eienskappe probeer verstaan, besef ons dat hy baie meer as ’n groot, bewonderenswaardige Persoon is. Hy is uiters glorieryk, oneindig hoër as ons (Jesaja 55:9). Jehovah is sonder twyfel ons regmatige Soewerein, en hy verdien beslis ons aanbidding. Maar hoe moet ons Jehovah aanbid?

15. Hoe kan ons Jehovah “met gees en waarheid” aanbid, en watter geleentheid bied Christelike vergaderinge ons?

15 Jesus het gesê: “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:​24). Om God “met gees” te aanbid, moet ons sy gees hê en daardeur gelei word. Ons aanbidding moet ook in ooreenstemming met die waarheid, die juiste kennis in God se Woord, wees. Ons het ’n kosbare geleentheid om Jehovah “met gees en waarheid” te aanbid wanneer ons saam met mede­aanbidders vergader (Hebreërs 10:​24, 25). ­Wanneer ons lofliedere aan Jehovah sing, saam tot hom bid en na besprekings uit sy Woord luister en daaraan deelneem, toon ons liefde vir hom in rein aanbidding.

Christelike vergaderinge is genotvolle geleenthede om Jehovah te aanbid

16. Wat is een van die grootste gebooie wat ware Christene opgelê is, en waarom voel ons verplig om dit te gehoorsaam?

16 Ons aanbid Jehovah ook wanneer ons met ander oor hom praat en hom in die openbaar loof (Hebreërs 13:15). Ja, die verkondiging van die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk is een van die grootste gebooie wat ware Christene opgelê is (Matteus 24:14). Ons gehoorsaam dit gretig, want ons het Jehovah lief. Wanneer ons dink hoe “die god van hierdie stelsel van dinge”, Satan die Duiwel, “die verstande van die ongelowiges verblind het” en kwaadwillige leuens oor Jehovah versprei het, is dit dan nie ons innige begeerte om Getuies vir ons God te wees en hierdie laster reg te stel nie? (2 Korintiërs 4:4;Jesaja 43:10-12). En voel ons nie ’n begeerte in ons opwel om vir ander van Jehovah te vertel wanneer ons oor sy wonderlike eienskappe nadink nie? Daar kan inderdaad geen groter voorreg wees as om ander te help om ons hemelse Vader te leer ken en lief te kry soos ons hom ken en liefhet nie.

17. Wat behels ons aanbidding van Jehovah, en waarom moet ons met onkreukbaarheid aanbid?

17 Ons aanbidding van Jehovah behels nog meer. Dit raak elke aspek van ons lewe (Kolossense 3:23). As ons Jehovah werklik as ons Soewereine Heer aanvaar, dan sal ons sy wil in alles probeer doen—in ons gesinslewe, ons sekulêre werk, ons handelinge met ander, ons vrye tyd. Ons sal Jehovah “met ’n volkome hart”, met onkreukbaarheid, probeer dien (1 Kronieke 28:9). Sulke aanbidding laat geen ruimte vir ’n verdeelde hart of ’n dubbele lewe nie—dit wil sê om op skynheilige wyse voor te gee dat ’n mens Jehovah aanbid terwyl jy in die geheim ernstige sondes pleeg. Onkreukbaarheid maak sulke skynheiligheid onmoontlik; liefde maak dit afstootlik. Godvrugtige vrees sal ook help. Die Bybel verbind sulke ontsag met ons volgehoue intimiteit met Jehovah.—Psalm 25:14.

Navolging van Jehovah

18, 19. Waarom is dit realisties om te dink dat onvolmaakte mense Jehovah God kan navolg?

18 Elke deel van hierdie boek het afgesluit met ’n hoofstuk oor hoe ons “navolgers van God, as geliefde kinders,” kan word (Efesiërs 5:1). Dit is noodsaaklik om te onthou dat ons, hoewel ons onvolmaak is, waarlik die volmaakte manier kan navolg waarop Jehovah krag gebruik, geregtigheid uitoefen, in wysheid optree en liefde betoon. Hoe weet ons dat dit werklik moontlik is om die Almagtige na te volg? Onthou dat die betekenis van Jehovah se naam ons leer dat hy homself laat word wat hy ook al wil om sy voornemens te vervul. Hierdie vermoë vervul ons tereg met ontsag, maar is dit heeltemal buite ons bereik? Nee.

19 Ons is na God se beeld gemaak (Genesis 1:26). Mense is dus anders as enige ander skepsel op aarde. Ons word nie bloot deur instink, gene of faktore in ons omgewing gedryf nie. Jehovah het ons ’n kosbare gawe gegee—wilsvryheid. Ondanks ons beperkings en onvolmaakthede is ons vry om te kies wat ons wil word. Wil jy ’n liefdevolle, wyse, regverdige persoon wees wat mag reg gebruik? Danksy die hulp van Jehovah se gees is dit presies wat jy kan word! Dink net aan al die goeie dinge wat jy daardeur kan bereik.

20. Watter goeie dinge kan ons bereik wanneer ons Jehovah navolg?

20 Jy sal jou hemelse Vader behaag en sy hart bly maak (Spreuke 27:11). Jy kan Jehovah selfs ‘ten volle behaag’, want hy verstaan jou beperkings (Kolossense 1:9, 10). En terwyl jy aanhou om goeie eienskappe in navolging van jou geliefde Vader aan te kweek, sal jy met ’n groter voorreg geseën word. Jy sal ’n ligdraer wees in ’n donker wêreld wat van God vervreemd is (Matteus 5:1, 2, 14). Jy sal ’n aandeel daaraan hê om Jehovah se glorieryke persoonlikheid in die wêreld te weerspieël. Wat ’n eer is dit tog!

‘Kom nader aan God, en hy sal nader aan jou kom’

Mag jy altyd nader aan Jehovah kom

21, 22. Watter eindelose reis lê voor vir almal wat Jehovah liefhet?

21 Die eenvoudige aansporing wat in Jakobus 4:8 opgeteken is, is nie net ’n doelwit nie. Dit is ’n reis. Solank ons getrou bly, sal dié reis nooit eindig nie. Ons sal nooit ophou om steeds nader aan Jehovah te kom nie. Daar sal immers altyd meer wees om van hom te leer. Ons moenie dink dat hierdie boek ons alles van Jehovah geleer het nie. Ons het skaars begin om te bespreek wat die Bybel alles oor ons God sê! En selfs die Bybel vertel ons nie alles van Jehovah nie. Die apostel Johannes het veronderstel dat, as alles wat Jesus gedurende sy aardse bediening gedoen het, neergeskryf sou word, “die wêreld self [nie] die boekrolle wat geskryf is, [sou] kon bevat nie” (Johannes 21:25). As so iets van die Seun gesê kon word, hoeveel te meer dan van die Vader!

22 Al lewe ons vir ewig, sal ons nooit alles van Jehovah leer nie (Prediker 3:11). Dink dan aan die vooruitsig wat ons het. Nadat ons honderde, duisende, miljoene, ja, selfs duisendmiljoene jare gelewe het, sal ons baie meer van Jehovah God weet as nou. Maar ons sal nog steeds voel dat daar ’n mag der menigte wonderlike dinge is om te leer. Ons sal gretig wees om meer te leer, want ons sal altyd rede hê om soos die psalmis te voel, wat gesing het: “Dit is vir my goed om nader aan God te kom” (Psalm 73:28). Die ewige lewe sal onbeskryflik sinvol en interessant wees—en om nader aan Jehovah te kom, sal altyd die lonendste aspek daarvan wees.

23. Wat word jy aangemoedig om te doen?

23 Mag jy nou op Jehovah se liefde reageer deur hom met jou hele hart, siel en verstand en met al jou krag lief te hê (Markus 12:29, 30). Mag jou liefde lojaal en onwankelbaar wees. Mag die besluite wat jy elke dag maak, van die kleinste tot die grootste, almal toon dat hulle deur dieselfde beginsel gerig word—naamlik dat jy altyd die weg sal kies wat jou tot ’n hegter verhouding met jou hemelse Vader sal lei. Mag jy bowenal steeds nader aan Jehovah kom, en mag hy steeds nader aan jou kom—tot in alle ewigheid!