Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 10

‘Word ’n navolger van God’ in jou gebruik van mag

‘Word ’n navolger van God’ in jou gebruik van mag

1. In watter subtiele strik word onvolmaakte mense maklik gevang?

“WAAR mag is, is daar altyd die skadu van ’n verborge strik.” Hierdie woorde van ’n 19de-eeuse digter vestig die aandag op ’n subtiele gevaar: die misbruik van mag. Ongelukkig word onvolmaakte mense alte maklik in hierdie strik gevang. Ja, deur die hele geskiedenis heen ‘het die mens oor die mens geheers tot sy nadeel’ (Prediker 8:9). Mag wat sonder liefde uitgeoefen is, het eindelose menselyding veroorsaak.

2, 3. (a) Wat is merkwaardig omtrent Jehovah se gebruik van krag? (b) Wat kan ons mag insluit, en hoe moet ons hierdie mag gebruik?

2 Maar is dit nie merkwaardig dat Jehovah God, wat onbeperkte mag en krag het, dit nooit misbruik nie? Soos ons in die vorige hoofstukke gesien het, gebruik hy altyd sy krag—of dit nou skeppingskrag, vernietigingskrag, beskermingskrag of herstellingskrag is—in ooreenstemming met sy liefdevolle voornemens. Wanneer ons nadink oor hoe hy sy krag uitoefen, beweeg dit ons om nader aan hom te kom. En dit kan ons weer beweeg om “navolgers van God” te word in die manier waarop ons ons mag gebruik (Efesiërs 5:1). Maar watter mag het ons as nietige mense?

3 Onthou dat die mens “na God se beeld” en gelykenis geskep is (Genesis 1:26, 27). Gevolglik het ons ook mag—ten minste ’n mate daarvan. Ons mag kan insluit: die vermoë om dinge te doen, om te werk; die beheer of gesag wat ons oor ander het; die vermoë om ander te beïnvloed, veral persone wat vir ons lief is; liggaamlike krag of materiële middele. Die psalmis het van Jehovah gesê: “By u is die bron van die lewe” (Psalm 36:9). God is dus, regstreeks of onregstreeks, die bron van enige regmatige mag wat ons besit. Daarom wil ons dit gebruik op maniere wat hom behaag. Hoe kan ons dit doen?

Liefde is die sleutel

4, 5. (a) Wat is die sleutel om mag reg te gebruik, en hoe bewys God se voorbeeld dit? (b) Hoe sal liefde ons help om ons mag reg te gebruik?

4 Die sleutel om mag reg te gebruik, is liefde. Bewys God se voorbeeld dit nie? Dink aan die bespreking van God se vier hoofeienskappe—krag, geregtigheid, wysheid en liefde—in Hoofstuk 1. Watter een van die vier eienskappe is die vernaamste? Liefde. “God is liefde”, sê 1 Johannes 4:8. Ja, Jehovah is in wese liefde; dit beïnvloed alles wat hy doen. Elke vertoning van sy krag spruit dus voort uit liefde en is uiteindelik vir die beswil van diegene wat hom liefhet.

5 Liefde sal ons ook help om ons mag reg te gebruik. Die Bybel sê immers vir ons dat liefde “goedhartig” is en “nie sy eie belang [soek] nie” (1 Korintiërs 13:4, 5). Liefde sal ons dus nie hardvogtig of wreed laat optree teenoor mense oor wie ons ’n mate van gesag het nie. Ons sal ander eerder met waardigheid behandel en hulle behoeftes en gevoelens bo ons eie stel.—Filippense 2:3, 4.

6, 7. (a) Wat is godvrugtige vrees, en waarom sal hierdie eienskap ons help om mag nie te misbruik nie? (b) Lig die verband toe tussen vrees om God te mishaag en liefde vir God.

6 Liefde hou verband met ’n ander eienskap wat ons kan help om die misbruik van mag te vermy: godvrugtige vrees. Watter nut het hierdie eienskap? “In die vrees van Jehovah wyk ’n mens af van die kwaad”, sê Spreuke 16:6. Die misbruik van mag is beslis een van die slegte weë waarvan ons moet afwyk. Vrees vir God sal verhoed dat ons mense oor wie ons mag het, sleg behandel. Waarom? Om maar een ding te noem, ons weet dat ons voor God aanspreeklik is vir die manier waarop ons sulke mense behandel (Nehemia 5:1-7, 15). Maar godvrugtige vrees behels meer as dit. Die woorde wat in die oorspronklike tale vir “vrees” gebruik is, verwys dikwels na ’n diepe eerbied en ontsag vir God. Die Bybel verbind vrees dus met liefde vir God (Deuteronomium 10:12, 13). Hierdie eerbiedige ontsag sluit ’n gesonde vrees in om God te mishaag—nie net omdat ons die gevolge vrees nie, maar omdat ons hom waarlik liefhet.

7 Ter toeligting: Dink aan die gesonde verhouding tussen ’n seuntjie en sy vader. Die seun is bewus van sy vader se innige, liefdevolle belangstelling in hom. Maar die seun weet ook wat sy vader van hom verwag, en hy besef dat sy vader hom sal dissiplineer as hy hom sleg gedra. Die seun lewe nie in morbiede vrees vir sy vader nie. Inteendeel, hy het sy vader innig lief. Dit is vir die kind ’n vreugde om dinge te doen wat sy vader sal goedkeur. Dieselfde geld vir godvrugtige vrees. Omdat ons Jehovah, ons hemelse Vader, liefhet, vrees ons om enigiets te doen wat hom ‘gekrenk in sy hart’ sal laat voel (Genesis 6:6). Ons wil baie graag eerder sy hart bly maak (Spreuke 27:11). Daarom wil ons ons mag reg gebruik. Kom ons ondersoek hoe ons dit kan doen.

In die gesin

8. (a) Watter gesag het ’n man in die gesin, en hoe moet dit uitgeoefen word? (b) Hoe kan ’n man toon dat hy sy vrou eer?

8 Kom ons kyk eers na die gesinskring. “’n Man is die hoof van sy vrou”, sê Efesiërs 5:23. Hoe moet ’n man hierdie godgegewe gesag uitoefen? Die Bybel sê vir mans om “ooreenkomstig kennis met [hulle vrouens] saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat” (1 Petrus 3:7). Die Griekse selfstandige naamwoord wat met “eer” vertaal word, beteken “prys, waarde, . . . respek”. Vorme van hierdie woord word met “geskenke” en “kosbaar” vertaal (Handelinge 28:10; 1 Petrus 2:7). ’n Man wat sy vrou eer, sal haar nooit aanrand nie; hy sal haar ook nie verneder of verkleineer en haar niks werd laat voel nie. Hy erken eerder haar waarde en behandel haar met respek. Hy toon deur sy woorde en dade—wanneer hulle alleen is en in die openbaar—dat sy vir hom kosbaar is (Spreuke 31:28). So ’n man wen nie net sy vrou se liefde en respek nie, maar, nog belangriker, God se goedkeuring.

Mans en vrouens gebruik hulle mag reg as hulle mekaar met liefde en respek behandel

9. (a) Watter mag het ’n vrou in die gesin? (b) Wat kan ’n vrou help om haar vermoëns te gebruik om haar man te ondersteun, en met watter gevolg?

9 ’n Vrou het ook ’n mate van mag in die gesin. Die Bybel vertel van godvrugtige vroue wat, binne die raamwerk van gepaste hoofskap, die inisiatief geneem het om hulle mans positief te beïnvloed of hulle te help om oordeelsfoute te vermy (Genesis 21:9-12; 27:46–28:2). ’n Vrou is dalk skerpsinniger as haar man, of sy het miskien ander vermoëns wat hy nie het nie. Sy moet nietemin “diep respek” vir haar man hê en “onderdanig wees” aan hom “soos aan die Here” (Efesiërs 5:22, 33). As ’n vrou die begeerte het om God te behaag, kan dit haar help om haar vermoëns te gebruik om haar man te ondersteun eerder as om hom te verkleineer of te probeer oorheers. So ’n “vrou wat waarlik wys is”, werk ten nouste met haar man saam om die gesin op te bou. Sodoende behou sy vrede met God.—Spreuke 14:1.

10. (a) Watter gesag het God aan ouers gegee? (b) Wat beteken die woord “dissipline”, en hoe moet dit toegedien word? (Sien ook voetnoot.)

10 Ouers het ook gesag wat God aan hulle gegee het. Die Bybel maan: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Die woord “dissipline” kan in die Bybel “opvoeding, opleiding, onderrigting” beteken. Kinders het dissipline nodig; hulle floreer as hulle duidelike riglyne, grense en perke het. Die Bybel verbind sulke dissipline, of onderrigting, met liefde (Spreuke 13:24). Die gebruik van “die roede van dissipline” moet dus nooit in mishandeling—hetsy emosioneel of fisies— ontaard nie (Spreuke 22:15; 29:15). * Onbuigsame of oordrewe streng dissipline sonder enige liefde is ’n misbruik van ouerlike gesag en kan ’n kind se gees knak (Kolossense 3:21). Daarenteen dra gebalanseerde dissipline wat behoorlik toegedien word, die boodskap aan kinders oor dat hulle ouers hulle liefhet en omgee watter soort persoon hulle word.

11. Hoe kan kinders hulle krag reg gebruik?

11 Wat van kinders? Hoe kan hulle hulle krag reg gebruik? “Die sieraad van jong manne is hulle krag”, sê Spreuke 20:29. Daar is vir jongmense beslis nie ’n beter manier om hulle krag en energie te gebruik as om ons “Grootse Skepper” te dien nie (Prediker 12:1). Dit is goed as jongmense in gedagte hou dat hulle dade ’n uitwerking op hulle ouers se gevoelens kan hê (Spreuke 23:24, 25). Wanneer kinders hulle godvresende ouers gehoorsaam en die regte weg bewandel, maak hulle hulle ouers se harte bly (Efesiërs 6:1). Sulke gedrag “is welbehaaglik in die Here”.—Kolossense 3:20.

In die gemeente

12, 13. (a) Watter beskouing moet ouer manne van hulle gesag in die gemeente hê? (b) Lig toe waarom ouer manne die kudde met teerheid moet behandel.

12 Jehovah het opsieners voorsien om die leiding in die Christengemeente te neem (Hebreërs 13:17). Hierdie bekwame manne moet hulle godgegewe gesag gebruik om die nodige hulp te voorsien en die welsyn van die kudde te bevorder. Gee ouer manne se posisie hulle die reg om oor hulle medegelowiges baas te speel? Glad nie! Ouer manne moet ’n gebalanseerde, nederige beskouing van hulle rol in die gemeente hê (1 Petrus 5:2, 3). Die Bybel sê vir opsieners: “[Hou] as herders toesig . . . oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het” (Handelinge 20:28). Dit bied ’n kragtige rede om elke lid van die kudde met teerheid te behandel.

13 Ons kan dit soos volg toelig. ’n Intieme vriend vra jou om ’n waardevolle besitting op te pas. Jy weet dat jou vriend baie vir die artikel betaal het. Sal jy dit nie baie versigtig, met groot sorg hanteer nie? God het eweneens aan ouer manne die verantwoordelikheid toevertrou om ’n baie waardevolle besitting op te pas: die gemeente, waarvan die lede met skape vergelyk word (Johannes 21:16, 17). Jehovah het sy skape lief—ja, so lief dat hy hulle met die kosbare bloed van sy enigverwekte Seun, Jesus Christus, gekoop het. Jehovah kon nie ’n hoër prys vir sy skape betaal het nie. Nederige ouer manne hou dit in gedagte en behandel Jehovah se skape dienooreenkomstig.

“Die mag van die tong”

14. Watter mag het die tong?

14 “Dood en lewe is in die mag van die tong”, sê die Bybel (Spreuke 18:21). Die tong kan inderdaad groot skade aanrig. Wie van ons het nog nooit die skerp pyn van ’n onnadenkende of selfs neerhalende aanmerking ervaar nie? Maar die tong het ook die mag om te genees. “Die tong van die wyses is genesing”, sê Spreuke 12:18. Ja, positiewe, opbouende woorde kan vir die hart soos die aanwending van strelende, genesende salf wees. Beskou ’n paar voorbeelde.

15, 16. Op watter maniere kan ons die tong gebruik om ander aan te moedig?

15 “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele”, maan 1 Tessalonisense 5:14. Ja, selfs getroue knegte van Jehovah sukkel soms met depressie. Hoe kan ons hulle help? Prys hulle opreg vir spesifieke dinge om hulle te help besef hoe waardevol hulle in Jehovah se oë is. Lees saam met hulle die kragtige woorde van Bybeltekste wat toon dat Jehovah waarlik omgee vir “die gebrokenes van hart” en “die verbryseldes van gees” en hulle werklik liefhet (Psalm 34:18). As ons die mag van ons tong gebruik om ander te vertroos, toon ons dat ons ons medelydende God navolg, “wat die terneergedruktes vertroos”.—2 Korintiërs 7:6.

16 Ons kan ook die mag van ons tong gebruik om broodnodige aanmoediging aan ander te gee. Het ’n medegelowige ’n geliefde deur die dood verloor? Simpatieke woorde wat ons besorgdheid en belangstelling toon, kan ’n bedroefde hart vertroos. Voel ’n bejaarde broer of suster nutteloos? ’n Bedagsame tong kan bejaardes verseker dat hulle waardeer word. Ly iemand aan ’n chroniese kwaal? Vriendelike woorde oor die telefoon of in persoon kan ’n sieke baie opbeur. Hoe moet dit tog nie ons Skepper behaag wanneer ons ons spraakvermoë gebruik om woorde te spreek wat “goed is vir opbouing” nie!—Efesiërs 4:29.

Die verkondiging van die goeie nuus—’n uitstekende manier om ons krag te gebruik

17. Op watter belangrike manier kan ons ons tong gebruik om ander tot voordeel te strek, en waarom moet ons dit doen?

17 Die belangrikste manier waarop die mag van die tong gebruik kan word, is om die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander bekend te maak. “Moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie”, sê Spreuke 3:27. Ons is dit aan ander verskuldig om die lewensreddende goeie nuus aan hulle bekend te maak. Dit sou nie reg wees om die dringende boodskap wat Jehovah so ruimhartig aan ons gegee het, vir onsself te hou nie (1 Korintiërs 9:16, 22). Maar in watter mate verwag Jehovah dat ons aan hierdie werk moet deelneem?

Ons moet Jehovah met ‘al ons krag’ dien

18. Wat verwag Jehovah van ons?

18 Ons liefde vir Jehovah beweeg ons om ’n volle aandeel aan die Christelike bediening te hê. Wat verwag Jehovah van ons in hierdie opsig? Iets wat ons almal kan gee, ongeag wat ons situasie in die lewe is: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie” (Kolossense 3:23). Toe Jesus die grootste gebod genoem het, het hy gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Markus 12:30). Ja, Jehovah verwag dat elkeen van ons hom met ons hele siel moet liefhê en dien.

19, 20. (a) Waarom word die hart, die verstand en die krag in Markus 12:30 gemeld as die siel al hierdie dinge insluit? (b) Wat beteken dit om Jehovah met ons hele siel te dien?

19 Wat beteken dit om God met jou hele siel te dien? Die siel verwys na die hele persoon, met al sy fisiese en verstandelike vermoëns. Waarom word die hart, die verstand en die krag dan in Markus 12:30 gemeld as die siel al hierdie dinge insluit? Dink aan ’n illustrasie. In Bybeltye kon iemand homself (sy siel) as slaaf verkoop. Maar die slaaf het sy heer dalk nie heelhartig gedien nie; hy het moontlik nie al sy krag of al sy verstandelike vermoëns gebruik om sy heer se belange te bevorder nie (Kolossense 3:22). Jesus het dus klaarblyklik hierdie ander dinge gemeld om te beklemtoon dat ons niks in ons diens aan God moet terughou nie. Om God met ons hele siel te dien, beteken dat ons van onsself gee deur soveel van ons krag en energie as moontlik in sy diens te gebruik.

20 Beteken heelhartige diens dat ons almal ewe veel tyd en energie aan die bediening moet bestee? Dit is nouliks moontlik, want almal het verskillende omstandighede en vermoëns. Byvoorbeeld, ’n jong persoon met goeie gesondheid en stamina kan moontlik meer tyd aan die predikingswerk bestee as iemand wie se kragte weens die ouderdom afneem. ’n Ongetroude persoon wat geen gesinsverpligtinge het nie, kan moontlik meer doen as iemand wat vir ’n gesin moet sorg. Hoe dankbaar moet ons tog wees as ons krag en omstandighede ons in staat stel om baie in die bediening te doen! Ons moet natuurlik nooit krities wees en onsself in hierdie opsig met ander vergelyk nie (Romeine 14:10-12). Ons wil eerder ons krag gebruik om ander aan te moedig.

21. Wat is die beste en belangrikste manier waarop ons ons krag kan gebruik?

21 Jehovah het die volmaakte voorbeeld gestel deur sy krag reg te gebruik. Ons wil hom so goed navolg as wat ons dit as onvolmaakte mense kan doen. Ons kan ons mag reg gebruik deur mense oor wie ons ’n mate van gesag het, met waardigheid te behandel. Daarbenewens wil ons die lewensreddende predikingswerk wat Jehovah ons gegee het om te doen, heelhartig uitvoer (Romeine 10:13, 14). Onthou dat dit Jehovah behaag as jy die beste gee wat jy—jou siel—kan gee. Beweeg jou hart jou nie om so ’n simpatieke en liefdevolle God na die beste van jou vermoë te dien nie? Daar is nie ’n beter of belangriker manier waarop jy jou krag kan gebruik nie.

^ par. 10 In Bybeltye het die Hebreeuse woord “roede” ’n stok of ’n staf beteken, soos die een wat ’n herder gebruik het om sy skape te lei (Psalm 23:4). Net so dui “die roede” van ouerlike gesag op liefdevolle leiding, nie hardvogtige of wrede straf nie.