Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 17

“O die diepte van God se . . . wysheid!”

“O die diepte van God se . . . wysheid!”

1, 2. Wat was Jehovah se voorneme vir die sewende dag, en hoe is Goddelike wysheid aan die begin van hierdie dag getoets?

VERDORWE! Die mensdom, die skitterende bekroning van die sesde skeppingsdag, het skielik van ’n uiters verhewe tot ’n baie lae toestand geval. Jehovah het gesê dat ‘alles wat hy gemaak het’, met inbegrip van die mens, ‘baie goed was’ (Genesis 1:31). Maar aan die begin van die sewende dag het Adam en Eva besluit om Satan se opstandige voorbeeld te volg. Dit het hulle in sonde, onvolmaaktheid en die dood gedompel.

2 Dit het dalk gelyk of Jehovah se voorneme vir die sewende dag heeltemal verydel is. Daardie dag, soos die ses wat dit voorafgegaan het, sou duisende jare lank wees. Jehovah het dit heilig verklaar, en die hele aarde sou uiteindelik gedurende dié dag ’n paradys word wat gevul sou wees met volmaakte mense (Genesis 1:28; 2:3). Maar hoe sou so iets ooit ná die rampspoedige opstand kon gebeur? Wat sou God doen? Dit was ’n dramatiese toets van Jehovah se wysheid—moontlik die grootste toets.

3, 4. (a) Waarom is Jehovah se reaksie op die opstand in Eden ’n ontsagwekkende voorbeeld van sy wysheid? (b) Watter waarheid moet nederigheid ons in gedagte laat hou terwyl ons Jehovah se wysheid bestudeer?

3 Jehovah het onmiddellik opgetree. Hy het ’n vonnis oor die opstandelinge in Eden uitgespreek, en terselfdertyd het hy ’n voorskou van iets wonderliks gegee: sy voorneme om die euwels reg te stel wat hulle so pas ingebring het (Genesis 3:15). Jehovah se versiende voorneme strek van Eden af deur al die duisende jare van die mensegeskiedenis en verder, tot ver in die toekoms. Dit is besonder eenvoudig en tog so omvattend dat ’n Bybelleser ’n lonende leeftyd daaraan kan bestee om dit te bestudeer en daaroor te peins. Daarbenewens sal Jehovah se voorneme beslis verwesenlik word. Dit sal ’n einde maak aan alle goddeloosheid, sonde en die dood. Dit sal die getroue mensdom tot volmaaktheid bring. Dit alles sal gebeur voordat die sewende dag eindig, sodat Jehovah, ondanks alles, sy voorneme met die aarde en die mensdom op tyd sal verwesenlik!

4 Sulke wysheid vervul ’n mens met ontsag, nie waar nie? Die apostel Paulus is beweeg om te skryf: “O die diepte van God se . . . wysheid!” (Romeine 11:33). Terwyl ons die verskillende aspekte van hierdie Goddelike eienskap bestudeer, moet nederigheid ons ’n lewensbelangrike waarheid in gedagte laat hou—dat ons hoogstens ’n fraksie van Jehovah se ontsaglike wysheid kan verstaan (Job 26:14). Laat ons eerstens hierdie ontsagwekkende eienskap omskryf.

Wat is Goddelike wysheid?

5, 6. Watter verband is daar tussen kennis en wysheid, en hoe omvangryk is Jehovah se kennis?

5 Wysheid is nie dieselfde as kennis nie. ’n Geweldige hoeveelheid kennis kan in ’n rekenaar bewaar word, maar ’n mens kan jou nie voorstel dat enigiemand so ’n masjien wys sal noem nie. Daar is nietemin ’n verband tussen kennis en wysheid (Spreuke 10:14). Sou jy byvoorbeeld iemand met min of geen kennis van geneeskunde raadpleeg as jy wyse raad nodig het oor hoe om ’n ernstige gesondheidsprobleem te behandel? Beslis nie! Juiste kennis is dus noodsaaklik vir ware wysheid.

6 Jehovah het ’n onuitputlike skat van kennis. As die “Koning van die ewigheid” is hy die enigste een wat al vir ewig bestaan (Openbaring 15:3). En gedurende daardie tallose eeue was hy bewus van alles. Die Bybel sê: “Daar is nie ’n skepping wat nie vir sy oë sigbaar is nie, maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Hebreërs 4:13; Spreuke 15:3). As die Skepper verstaan Jehovah alles wat hy gemaak het ten volle, en hy het alle menslike bedrywighede van die begin af waargeneem. Hy ondersoek elke mensehart en sien alles raak (1 Kronieke 28:9). Aangesien hy ons met wilsvryheid geskep het, is hy bly wanneer hy sien dat ons wyse keuses in die lewe maak. As die “Hoorder van die gebed” luister hy tegelykertyd na tallose gebede! (Psalm 65:2). En dit is onnodig om te sê dat Jehovah ’n volmaakte geheue het.

7, 8. Hoe openbaar Jehovah begrip, onderskeidingsvermoë en wysheid?

7 Jehovah besit nie net kennis nie. Hy sien ook hoe feite met mekaar verband hou en kan die geheelbeeld sien wat deur ’n menigte besonderhede gevorm word. Hy beoordeel sake en kom tot ’n beslissing, terwyl hy onderskei tussen goed en kwaad, belangrik en onbelangrik. Daarbenewens kyk hy verder as die oppervlak en ondersoek hy die hart (1 Samuel 16:7). Jehovah het dus begrip en onderskeidingsvermoë, eienskappe wat kennis oortref. Maar wysheid is nog uitnemender.

8 Wysheid bring kennis, onderskeidingsvermoë en begrip bymekaar en pas dit toe. Trouens, party van die oorspronklike Bybelwoorde wat met “wysheid” vertaal word, beteken letterlik “doeltreffende werke” of “praktiese wysheid”. Jehovah se wysheid is dus nie bloot teoreties nie. Dit is prakties en dit werk. As gevolg van sy ontsaglike kennis en sy omvattende begrip maak Jehovah altyd die beste besluite moontlik en voer hy hulle op die beste manier denkbaar uit. Dit is ware wysheid! Jehovah bewys hoe waar Jesus se woorde is: “Die wysheid word deur sy werke geregverdig” (Matteus 11:19). Jehovah se werke deur die ganse heelal lewer kragtige bewys van sy wysheid.

Bewyse van Goddelike wysheid

9, 10. (a) Watter soort wysheid besit Jehovah, en hoe het hy dit geopenbaar? (b) Hoe lewer die sel bewys van Jehovah se wysheid?

9 Het jy jou al ooit verwonder oor die vernuf van ’n vakman wat mooi dinge maak wat goed werk? Dit is ’n indrukwekkende soort wysheid (Eksodus 31:1-3). Jehovah is die bron en die grootste besitter van sulke wysheid. Koning Dawid het van Jehovah gesê: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet” (Psalm 139:14). Ja, hoe meer ons van die menseliggaam leer, hoe groter word ons ontsag vir Jehovah se wysheid.

10 Ter toeligting: Jy het as een sel begin—’n eiersel van jou moeder wat deur ’n saadsel van jou vader bevrug is. Daardie sel het gou begin verdeel. Jy, die eindproduk, bestaan uit sowat 100 biljoen selle. Hulle is baie klein. Omtrent 10 000 selle van gemiddelde grootte sal op ’n speldekop pas. Tog is elkeen van hulle verstommend kompleks. Die sel is baie ingewikkelder as enige mensgemaakte masjien of fabriek. Wetenskaplikes sê dat ’n sel soos ’n ommuurde stad is—een met beheerde ingange en uitgange, ’n vervoerstelsel, ’n kommunikasienetwerk, kragsentrales, fabrieke, afvalverwerkings- en herwinningsaanlegte, verdedigingsmeganismes en selfs ’n soort sentrale regering in die selkern. Daarbenewens kan die sel in net ’n paar uur ’n presiese replika van homself maak!

11, 12. (a) Wat laat die selle in ’n ontwikkelende embrio van mekaar verskil, en hoe strook dit met Psalm 139:16? (b) In watter opsigte toon die mensebrein dat ons “wonderbaar gemaak is”?

11 Nie alle selle is natuurlik dieselfde nie. Namate die selle van ’n embrio aanhou verdeel, neem hulle heel uiteenlopende funksies aan. Party sal senuselle wees; ander been-, spier-, bloed- of oogselle. Al hierdie verskille is in die sel se “biblioteek” van genetiese bloudrukke, die DNS, geprogrammeer. Dit is interessant dat Dawid geïnspireer is om vir Jehovah te sê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe.”—Psalm 139:16.

12 Party liggaamsdele is buitengewoon kompleks. Kyk byvoorbeeld na die mensebrein. Party het dit al die mees komplekse voorwerp genoem wat nog in die heelal ontdek is. Dit bevat sowat 100 miljard senuselle—omtrent soveel as die getal sterre in ons sterrestelsel. Elkeen van hierdie selle vertak en vorm duisende verbindings met ander selle. Wetenskaplikes sê dat ’n mensebrein al die inligting in al die wêreld se biblioteke kan bevat en dat sy geheuevermoë moontlik onmeetlik is. Al word hierdie orgaan wat so “wonderbaar gemaak is”, reeds dekades lank bestudeer, erken wetenskaplikes dat hulle dalk nooit ten volle sal kan verstaan hoe dit werk nie.

13, 14. (a) Hoe toon miere en ander diere dat hulle “instinktief wys” is, en wat leer dit ons van hulle Skepper? (b) Waarom kan ons sê dat skeppingswerke soos die spinnerak “in wysheid” gemaak is?

13 Die mens is egter net een voorbeeld van Jehovah se skeppingswysheid.Psalm 104:24 sê: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het.” Jehovah se wysheid kan gesien word in al die skeppingswerke om ons. Die mier is byvoorbeeld “instinktief wys” (Spreuke 30:24). Ja, mierkolonies is wonderlik georganiseerd. Party mierkolonies versorg, beskerm en verkry voedsel van insekte wat plantluise genoem word, asof hulle vee is. Ander miere tree op as boere wat swamme as “gewasse” kweek. Baie ander diere is geprogrammeer om merkwaardige dinge deur instink te doen. ’n Huisvlieg voer akrobatiese toertjies uit wat die mens se gevorderdste vliegtuig nie kan nadoen nie. Trekvoëls bepaal hulle koers volgens die sterre, volgens die oriëntasie van die aarde se magnetiese veld of volgens die een of ander soort innerlike kaart. Bioloë bestee jare daaraan om die ingewikkelde gedragspatrone te bestudeer wat in hierdie diere geprogrammeer is. Hoe wys moet die Goddelike Programmeerder dan tog wees!

14 Wetenskaplikes het baie uit Jehovah se skeppingswysheid geleer. Daar is selfs ’n ingenieursveld wat biomimetika genoem word, wat ontwerpe in die natuur probeer naboots. Byvoorbeeld, jy het dalk al met verwondering na die prag van ’n spinnerak gekyk. Maar ’n ingenieur beskou dit as ’n wonderlike ontwerp. Party draadjies wat so dun lyk, is na verhouding sterker as staal, sterker as die vesels van ’n koeëlvaste baadjie. Presies hoe sterk is dit? Stel jou ’n spinnerak voor wat vergroot word totdat dit so groot is soos ’n net wat op ’n vissersboot gebruik word. So ’n web kan ’n passasiersvliegtuig in volle vaart stop! Ja, Jehovah het al hierdie dinge “in wysheid” gemaak.

Wie het die aarde se diere geprogrammeer om “instinktief wys” te wees?

Wysheid in die hemelruim

15, 16. (a) Watter bewys lewer die sterre van Jehovah se wysheid? (b) Hoe getuig Jehovah se posisie as Opperbevelvoerder oor groot getalle engele van die wysheid van hierdie Administrateur?

15 Jehovah se wysheid kan in sy werke in die ganse heelal gesien word. Die sterre, wat ons in Hoofstuk 5 redelik breedvoerig bespreek het, is nie sommer na willekeur in die buitenste ruimte verstrooi nie. Danksy die wysheid van Jehovah se “wette van die hemel” is die hemele pragtig georganiseer in sterrestelsels, wat dan weer in swerms gegroepeer is, wat op hulle beurt kombineer om superswerms te vorm (Job 38:33, Die Bybel, 1953). Geen wonder dat Jehovah van die hemelliggame as ’n “leër” praat nie! (Jesaja 40:26). Maar daar is ’n ander leër wat Jehovah se wysheid selfs nog duideliker openbaar.

16 Soos ons in Hoofstuk 4 gesien het, het God die titel “Jehovah van die leërs” as gevolg van sy posisie as Opperbevelvoerder van ’n ontsaglike leër van honderdmiljoene geesskepsele. Dit is ’n bewys van Jehovah se krag. Maar wat het dit met sy wysheid te doen? Dink hieraan: Jehovah en Jesus is nooit ledig nie (Johannes 5:17). Dit spreek dan vanself dat die engelebedienaars van die Allerhoogste ook altyd besig is. En onthou, hulle is hoër as die mens, superintelligent en buitengewoon kragtig (Hebreërs 1:7; 2:7). Tog het Jehovah al hierdie engele duisendmiljoene jare lank vreugdevol besig gehou met sinvolle werk—om ‘sy woord uit te voer’ en ‘sy wil te doen’ (Psalm 103:20, 21). Hoe ontsagwekkend moet die wysheid van hierdie Administrateur tog wees!

Jehovah is “alleen wys”

17, 18. Waarom sê die Bybel dat Jehovah “alleen wys” is, en waarom moet sy wysheid ons met ontsag vervul?

17 Is dit dan ’n wonder, in die lig van sulke getuienis, dat die Bybel toon dat Jehovah se wysheid hoog verhewe is? Dit sê byvoorbeeld dat Jehovah “alleen wys” is (Romeine 16:27). Jehovah alleen besit wysheid in die absolute sin. Hy is die bron van alle ware wysheid (Spreuke 2:6). Daarom het Jesus, hoewel hy die wysste van Jehovah se skepsele is, nie op sy eie wysheid staatgemaak nie, maar gespreek wat sy Vader hom beveel het om te spreek.—Johannes 12:48-50.

18 Let op hoe die apostel Paulus die uniekheid van Jehovah se wysheid beskryf het: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:33). Deur die vers met die uitroep “O” te begin, het Paulus sterk emosie geopenbaar—in hierdie geval, diepe ontsag. Die Griekse woord wat hy vir “diepte” gekies het, is nou verwant aan die woord vir “afgrond”. Sy woorde skep dus ’n duidelike geestesbeeld. Wanneer ons oor Jehovah se wysheid nadink, is dit asof ons in ’n grenslose, bodemlose afgrond afkyk, ’n ryk wat so diep, so ontsaglik is dat ons nooit eens die omvang daarvan sal kan begryp nie, wat nog te sê die besonderhede daarvan verstaan (Psalm 92:5). Laat dit ’n mens nie baie nederig voel nie?

19, 20. (a) Waarom is die arend ’n gepaste simbool van Goddelike wysheid? (b) Hoe het Jehovah getoon dat hy die vermoë het om in die toekoms te sien?

19 Jehovah is in nog ’n sin “alleen wys”: Hy alleen kan in die toekoms sien. Onthou dat Jehovah die versiende arend as ’n simbool van Goddelike wysheid gebruik. ’n Goudarend weeg miskien net vyf kilogram, maar sy oë is groter as dié van ’n volwasse man. Die arend se sig is verbasend skerp en stel die voël in staat om sy prooi, al is dit baie klein, vanuit ’n hoogte van honderde meters, en moontlik selfs kilometers ver, te sien! Jehovah het self eenkeer van die arend gesê: “Sy oë bly in die verte kyk” (Job 39:29). Jehovah kan eweneens tot “in die verte” van tyd sien—in die toekoms!

20 Die Bybel is vol bewyse dat dit waar is. Dit bevat honderde profesieë, of geskiedenis wat vooruit geskryf is. Die uitslag van oorloë, die opkoms en ondergang van wêreldmoondhede en selfs die spesifieke strategieë van militêre bevelvoerders is alles in die Bybel voorspel—in sommige gevalle honderde jare vooruit.—Jesaja 44:25–45:4; Daniël 8:2-8, 20-22.

21, 22. (a) Waarom is daar geen grondslag vir die gevolgtrekking dat Jehovah al die keuses wat jy in die lewe gaan maak, vooruitgesien het nie? Lig toe. (b) Hoe weet ons dat Jehovah se wysheid nie koud of gevoelloos is nie?

21 Beteken dit egter dat God reeds vooruitgesien het watter keuses jy in die lewe gaan maak? Party wat die voorbeskikkingsleer verkondig, glo vas dat die antwoord ja is. Maar dié idee doen in werklikheid afbreuk aan Jehovah se wysheid, want dit gee te kenne dat hy nie sy vermoë om in die toekoms te sien, kan beheer nie. Ter toeligting: Gestel jy het die allermooiste sangstem. Sou jy dan geen ander keuse hê as om die hele tyd te sing nie? Dit is ’n belaglike idee! Net so het Jehovah die vermoë om te weet wat die toekoms inhou, maar hy gebruik dit nie die hele tyd nie. As hy dit sou doen, kan dit inbreuk maak op ons wilsvryheid, ’n kosbare gawe wat Jehovah nooit sal wegneem nie.—Deuteronomium 30:19, 20.

22 Nog erger, die hele idee van voorbeskikking gee te kenne dat Jehovah se wysheid koud, harteloos, gevoelloos of sonder medelye is. Maar niks kan verder van die waarheid wees nie! Die Bybel leer dat Jehovah “wys van hart” is (Job 9:4). Nie dat hy ’n letterlike hart het nie, maar die Bybel gebruik dikwels hierdie uitdrukking in verband met ’n persoon se diepste wese, wat beweegredes en gevoelens insluit, soos liefde. Jehovah se wysheid word dus, soos sy ander eienskappe, deur liefde gerig.—1 Johannes 4:8.

23. Wat moet die verhewenheid van Jehovah se wysheid ons beweeg om te doen?

23 Jehovah se wysheid is natuurlik heeltemal betroubaar. Dit is so ver bo ons wysheid verhewe dat God se Woord ons liefdevol aanspoor: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spreuke 3:5, 6). Kom ons delf nou dieper in Jehovah se wysheid sodat ons nader aan ons alwyse God kan kom.