Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 13

Die mense wat Jesus se dissipels geword het

Die mense wat Jesus se dissipels geword het

Wie is hierdie man, en hoe word hy ’n dissipel van Jesus?

WIE is die beste kneg van God wat nog ooit gelewe het?— Dit is reg, Jesus Christus. Dink jy ons kan soos hy wees?— Wel, die Bybel sê hy het die voorbeeld gestel wat ons moet volg. En hy nooi ons om sy dissipels te wees.

Weet jy wat dit beteken om ’n dissipel van Jesus te wees?— Dit beteken ’n hele paar dinge. Eerstens moet ons by hom leer. Maar dit is nie al nie. Ons moet ook regtig glo wat hy sê. Dan sal ons doen wat hy vir ons sê.

Baie mense sê dat hulle in Jesus glo. Dink jy hulle is almal regtig sy dissipels?— Nee, die meeste van hulle is nie. Hulle gaan dalk kerk toe. Maar baie van hulle het nog nooit tyd gemaak om uit te vind wat Jesus vir mense geleer het nie. Eintlik is net die mense wat Jesus se voorbeeld volg, sy dissipels.

Kom ons praat oor party van die mense wat Jesus se dissipels was toe hy ’n mens op die aarde was. Een van die eerste mense wat ’n dissipel geword het, was Filippus. Filippus het sy vriend Natanael (wie se naam ook Bartolomeus was) gaan soek, wat jy hier onder ’n boom sien sit. Toe Natanael na Jesus toe gekom het, het Jesus gesê: ‘Kyk, hier is ’n eerlike man, ’n regte Israeliet.’ Natanael was verbaas en het gevra: ‘Hoe ken u my?’

Wie roep Jesus om sy dissipels te wees?

“Voordat Filippus jou geroep het, terwyl jy onder die vyeboom was, het ek jou gesien”, het Jesus gesê. Natanael was baie verbaas dat Jesus presies geweet het waar hy was, en daarom het Natanael gesê: “U is die Seun van God, u is Koning van Israel.”—Johannes 1:49.

Judas Iskariot, Judas (ook Taddeus genoem), Simon

Die dag voordat Filippus en Natanael dissipels geword het, het ander mense dissipels van Jesus geword. Hulle was Andreas en sy broer Petrus sowel as Johannes en miskien ook Johannes se broer Jakobus (Johannes 1:35-51). Maar ná ’n rukkie het hierdie vier manne teruggegaan na hulle werk as vissermanne. Toe het Jesus eendag, terwyl hy langs die See van Galilea geloop het, vir Petrus en Andreas gesien terwyl hulle ’n visnet in die see laat sak het. Jesus het na hulle geroep: “Kom agter my aan.”

Jakobus (seun van Alfeus), Tomas, Matteus

’n Entjie verder het Jesus vir Jakobus en Johannes gesien. Hulle was saam met hulle pa in ’n boot, besig om hulle visnette heel te maak. Jesus het hulle ook geroep om hom te volg. Wat sou jy gedoen het as Jesus jou geroep het? Sou jy dadelik saam met hom gegaan het?— Hierdie manne het geweet wie Jesus is. Hulle het geweet dat hy deur God gestuur is. Daarom het hulle dadelik hulle werk as vissermanne gelos en Jesus gevolg.—Matteus 4:18-22.

Natanael, Filippus, Johannes

Het dit beteken dat hierdie manne altyd gedoen het wat reg is nadat hulle Jesus se volgelinge geword het?— Nee. Jy onthou dalk dat hierdie manne selfs onder mekaar gestry het oor wie van hulle die belangrikste was. Maar hulle het na Jesus geluister, en hulle was bereid om te verander. As ons bereid is om te verander, kan ons ook Jesus se dissipels wees.

Jakobus (broer van Johannes), Andreas, Petrus

Jesus het alle soorte mense genooi om sy dissipels te wees. Eenkeer het ’n ryk jong heerser na Jesus toe gekom en gevra hoe hy die ewige lewe kan kry. Toe die ryk heerser sê dat hy God se gebooie van kleins af gehoorsaam het, het Jesus hom genooi: “Kom word my volgeling.” Weet jy wat het gebeur?—

Wel, toe die man hoor dat dit vir ’n mens belangriker moet wees om Jesus se dissipel te wees as om ryk te wees, was hy baie ongelukkig. Hy het nie Jesus se dissipel geword nie, want hy was liewer vir sy geld as vir God.—Lukas 18:18-25.

Nadat Jesus byna ’n jaar en ’n half lank gepreek het, het hy 12 van sy dissipels gekies om apostels te wees. Die apostels was manne wat hy uitgestuur het om ’n spesiale werk te doen. Weet jy wat hulle name was?— Kom ons kyk of ons dit kan leer. Kyk na hulle prente hier en kyk of jy hulle name kan sê. Probeer dan om hulle name uit jou kop op te sê.

Wie was hierdie vroue wat Jesus gehelp het wanneer hy gaan preek het?

Uiteindelik het een van die 12 apostels sleg geword. Dit was Judas Iskariot. Daarna is ’n ander dissipel gekies om ’n apostel te word. Weet jy wat sy naam was?— Dit was Mattias. Later het Paulus en Barnabas ook apostels geword, maar hulle was nie deel van die 12 nie.—Handelinge 1:23-26; 14:14.

Soos ons in Hoofstuk 1 van hierdie boek geleer het, het Jesus gewys dat hy in jong kinders belangstel. Hoekom het hy dit gedoen?— Omdat hy geweet het dat hulle ook sy dissipels kan word. Om die waarheid te sê, kinders kan dinge baiekeer op so ’n manier sê dat selfs grootmense daarna luister en meer van die Groot Onderwyser wil leer.

Baie vroue het ook dissipels van Jesus geword. Party het saam met hom gereis wanneer hy na ander stede gegaan het om te preek. Maria Magdalena, Johanna en Susanna het dit gedoen. Hulle het dalk ook gehelp om vir hom kos te maak en sy klere te was.—Lukas 8:1-3.

Wil jy ’n dissipel van Jesus wees?— Onthou, om net te sê dat ons een van sy dissipels is, maak ons nie ’n dissipel nie. Ons moet ons oral waar ons is soos een van sy dissipels gedra, nie net wanneer ons na Christelike vergaderinge toe gaan nie. Kan jy aan ’n paar plekke dink waar dit vir ons belangrik is om ons soos ’n dissipel van Jesus te gedra?—

Ja, ons moet dit by die huis doen. Maar nog ’n plek is by die skool. Wat ek en jy nooit moet vergeet nie, is dat ons ons die hele dag, elke dag, oral waar ons is, soos Jesus moet gedra as ons ’n ware dissipel van hom wil wees.

Waar moet ons ons soos ’n dissipel van Jesus gedra?

Lees nou saam wat die Bybel oor Jesus se dissipels sê, in Matteus 28:19, 20; Lukas 6:13-16; Johannes 8:31, 32 en 1 Petrus 2:21.