Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 37

Dink aan Jehovah en sy Seun

Dink aan Jehovah en sy Seun

SÊ NOU iemand gee vir jou ’n wonderlike geskenk. Hoe sal jy daaroor voel?— Sal jy net dankie sê en dan heeltemal vergeet van die een wat dit vir jou gegee het? Of sal jy aan hom dink en aan wat hy vir jou gedoen het?—

Jehovah God het vir ons ’n wonderlike geskenk gegee. Hy het sy Seun aarde toe gestuur om vir ons te sterf. Weet jy hoekom Jesus vir ons moes sterf?— Dit is iets baie belangriks wat ons moet verstaan.

Soos ons in Hoofstuk 23 geleer het, het Adam gesondig toe hy God se volmaakte wet verbreek het. En ons het sonde geërf van Adam, ons almal se vader. Wat dink jy het ons dan nodig?— Ons het as ’t ware ’n nuwe vader nodig, een wat ’n volmaakte lewe op die aarde gelei het. Wie dink jy kan daardie vader vir ons wees?— Jesus kan.

Jehovah het Jesus aarde toe gestuur sodat hy vir ons ’n vader kon word in die plek van Adam. Die Bybel sê: “‘Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.’ Die laaste Adam het ’n lewegewende gees geword.” Wie was die eerste Adam?— Ja, die een wat God uit die stof van die aarde geskep het. Wie is die tweede Adam?— Jesus. Die Bybel wys dit wanneer dit sê: “Die eerste mens [Adam] is uit die aarde en is van stof gemaak; die tweede mens [Jesus] is uit die hemel.”1 Korintiërs 15:45, 47; Genesis 2:7.

Omdat God Jesus se lewe uit die hemel geneem en dit binne-in die vrou Maria gesit het, het Jesus geen sonde van Adam geërf nie. Dit is hoekom Jesus ’n volmaakte mens was (Lukas 1:30-35). Dit is ook hoekom ’n engel vir die herders gesê het toe Jesus gebore is: “Daar is vandag vir julle . . . ’n Redder gebore” (Lukas 2:11). Maar wat moes die baba Jesus eers doen voordat hy ons Redder kon wees?— Hy moes grootword en ’n volwasse man word, net soos Adam. Toe kon Jesus ‘die tweede Adam’ word.

Jesus, ons Redder, sal ook ons “Ewige Vader” word. Hy word in die Bybel so genoem (Jesaja 9:6, 7). Ja, die volmaakte Jesus kan ons vader word in die plek van Adam, wat onvolmaak geword het toe hy gesondig het. So kan ons kies om ‘die tweede Adam’ as ons vader te hê. Jesus self is natuurlik ’n seun van Jehovah God.

Hoe was Adam en Jesus eenders, en hoekom was dit so belangrik dat hulle eenders moes wees?

As ons van Jesus leer, kan ons hom as ons Redder aanneem. Kan jy onthou waarvan ons gered moet word?— Ja, van die sonde en die dood wat ons van Adam geërf het. Die volmaakte lewe wat Jesus as ’n volwasse man vir ons opgeoffer het, word die losprys genoem. Jehovah het die losprys gegee sodat ons sondes weggeneem kan word.—Matteus 20:28; Romeine 5:8; 6:23.

Ons wil tog sekerlik nie vergeet wat God en sy Seun vir ons gedoen het nie, nè?— Jesus het vir sy volgelinge ’n spesiale manier gewys wat ons kan help om te onthou wat hy gedoen het. Kom ons praat ’n bietjie daaroor.

Stel jou voor jy is in die bokamer van ’n huis in Jerusalem. Dit is aand. Jesus en sy apostels is by ’n tafel. Op die tafel is daar gebraaide lamsvleis, plat brode en rooi wyn. Hulle is besig met ’n spesiale maaltyd, of ete. Weet jy hoekom?—

Dié maaltyd is om hulle te herinner aan wat Jehovah honderde jare tevore gedoen het toe sy volk, die Israeliete, slawe in Egipte was. In daardie tyd het Jehovah vir sy volk gesê: ‘Slag ’n lam vir elke huisgesin en smeer sy bloed aan die deurposte van julle huise.’ Toe het hy gesê: ‘Gaan in julle huise in en eet die lam.’

Hoe het die lam se bloed die volk Israel beskerm?

Die Israeliete het dit gedoen. En daardie selfde nag het God se engel deur Egipteland getrek. In die meeste huise het die engel die eersgebore kind doodgemaak. Maar wanneer die engel die lam se bloed aan die deurposte gesien het, het hy daardie huis oorgeslaan. In daardie huise het geen kinders doodgegaan nie. Wat Jehovah se engel gedoen het, het Farao, die koning van Egipte, bang gemaak. Daarom het Farao vir die Israeliete gesê: ‘Julle is vry om te gaan. Gee pad uit Egipte!’ Toe het hulle hulle kamele en esels gepak en vertrek.

Jehovah wou nie hê dat sy volk moet vergeet hoe hy hulle bevry het nie. Daarom het hy gesê: ‘Een keer per jaar moet julle ’n maaltyd eet soos die maaltyd wat julle vanaand geëet het.’ Hulle het hierdie spesiale maaltyd die Pasga genoem. Daardie nag het God se engel die huise wat met bloed gemerk was, ‘oorgeslaan’.—Eksodus 12:1-13, 24-27, 31.

Jesus en sy apostels het hieraan gedink toe hulle die Pasgamaaltyd geëet het. Daarna het Jesus iets gedoen wat baie belangrik was. Maar voordat hy dit gedoen het, is die ontroue apostel, Judas, uitgestuur. Toe het Jesus een van die brode wat oor was, gevat, daaroor gebid, dit gebreek en vir sy dissipels gegee. “Neem, eet”, het hy gesê. Toe het hy vir hulle gesê: ‘Hierdie brood beteken my liggaam wat ek sal gee wanneer ek vir julle sterf.’

Daarna het Jesus ’n beker rooi wyn gevat. Ná nog ’n dankgebed het hy dit omgestuur en gesê: “Drink almal daaruit.” En hy het vir hulle gesê: ‘Hierdie wyn beteken my bloed. Binnekort gaan ek my bloed uitstort om julle van julle sondes te bevry. Hou aan om dit te doen sodat julle aan my sal dink.’—Matteus 26:26-28; 1 Korintiërs 11:23-26.

Wat kan Jesus se bloed, wat Jesus met wyn vergelyk het, vir ons doen?

Het jy gesien dat Jesus gesê het sy dissipels moet dit aanhou doen sodat hulle aan hom sal dink?— Hulle sou nie meer die Pasgamaaltyd hê nie. In plaas daarvan sou hulle een keer per jaar hierdie spesiale maaltyd hê om aan Jesus en sy dood te dink. Hierdie maaltyd word die Here se Aandmaal genoem. Ons noem dit vandag baiekeer die Gedenkmaal. Hoekom?— Omdat dit ons laat dink aan wat Jesus en sy Vader, Jehovah God, vir ons gedoen het.

Die brood moet ons aan Jesus se liggaam laat dink. Hy was gewillig om daardie liggaam op te offer sodat ons die ewige lewe kan hê. En wat van die rooi wyn?— Dit moet ons herinner aan die waarde van Jesus se bloed. Dit is kosbaarder as die bloed van die Pasgalam in Egipte. Weet jy hoekom?— Die Bybel sê Jesus se bloed kan vir ons vergifnis van sondes bring. En wanneer al ons sondes weggeneem is, sal ons nie meer siek word, oud word en doodgaan nie. Ons moet hieraan dink wanneer ons by die Gedenkmaal is.

Moet almal by die Gedenkmaal van die brood eet en van die wyn drink?— Wel, Jesus het vir dié wat wel daarvan eet en drink, gesê: ‘Julle sal in my koninkryk deel en saam met my op trone in die hemel sit’ (Lukas 22:19, 20, 30). Dit het beteken dat hulle hemel toe sou gaan om saam met Jesus konings te wees. Daarom moet net dié wat die hoop het om saam met Jesus in die hemel te regeer, van die brood en wyn eet en drink.

Maar selfs die mense wat nie van die brood eet of van die wyn drink nie, moet na die Gedenkmaal toe gaan. Weet jy hoekom?— Omdat Jesus sy lewe ook vir ons gegee het. Wanneer ons na die Gedenkmaal toe gaan, wys ons dat ons nie vergeet het nie. Ons onthou God se wonderlike geskenk.

Tekste wat toon hoe belangrik Jesus se losprys is, sluit in 1 Korintiërs 5:7; Efesiërs 1:7; 1 Timoteus 2:5, 6 en 1 Petrus 1:18, 19.