Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 48

God se vreedsame nuwe wêreld—Jy kan daarin lewe

God se vreedsame nuwe wêreld—Jy kan daarin lewe

GOD het Adam en Eva in die tuin van Eden gesit. Al het hulle ongehoorsaam geword en doodgegaan, het God dit moontlik gemaak dat hulle kinders, ook ons vandag, vir ewig in die Paradys kan lewe. Die Bybel belowe: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.

Die Bybel praat van ’n “nuwe hemele” en “’n nuwe aarde” (Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13). Die teenswoordige “hemele” bestaan uit die menseregerings van vandag, maar Jesus Christus en diegene wat saam met hom in die hemel regeer, sal die “nuwe hemele” wees. Hoe wonderlik sal dit tog wees wanneer hierdie nuwe hemele, wat God se regverdige regering van vrede is, oor die hele aarde heers!

Wat is die “nuwe aarde” dan?— Die nuwe aarde sal die goeie mense wees wat vir Jehovah lief is. Jy sien, wanneer die Bybel van “die aarde” praat, bedoel dit partykeer die mense wat op die aarde lewe, nie die land self nie (Genesis 11:1; Psalm 66:4; 96:1). Met ander woorde, die mense wat die nuwe aarde sal wees, sal hier op die aarde lewe.

Die teenswoordige wêreld van slegte mense sal weg wees. Onthou, die Vloed van Noag se dag het ’n goddelose wêreld van mense vernietig. En soos ons geleer het, sal hierdie teenswoordige goddelose wêreld by Armageddon vernietig word. Kom ons kyk nou hoe dit sal wees om in God se nuwe wêreld ná Armageddon te lewe.

Wil jy vir ewig in die Paradys in God se vreedsame nuwe wêreld lewe?— Geen dokter kan ons vir ewig laat lewe nie. Daar is geen pil wat kan keer dat ons doodgaan nie. Die enigste manier waarop ons vir ewig kan lewe, is deur nader aan God te kom. En die Groot Onderwyser sê vir ons hoe ons dit kan doen.

Kom ons kry ons Bybels en maak dit oop by Johannes hoofstuk 17, vers 3. Hier sien ons hierdie woorde van die Groot Onderwyser: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”

Wat het Jesus dan gesê moet ons doen om vir ewig te lewe?— Eerstens moet ons kennis inneem van ons hemelse Vader, Jehovah, en ook van sy Seun, wat sy lewe vir ons gegee het. Dit beteken dat ons die Bybel moet bestudeer. Hierdie boek, Leer by die Groot Onderwyser, help ons om dit te doen.

Maar hoe sal dit ons help om vir ewig te lewe as ons van Jehovah leer?— Wel, net soos ons elke dag kos nodig het, moet ons elke dag van Jehovah leer. Die Bybel sê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.”—Matteus 4:4.

Ons moet ook kennis inneem van Jesus Christus omdat God sy Seun gestuur het om ons sonde weg te neem. Die Bybel sê: “Daar [is] geen redding in enigiemand anders nie.” En die Bybel sê ook: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe” (Handelinge 4:12; Johannes 3:36). Wat beteken dit dan om ‘geloof in Jesus te beoefen’?— Dit beteken dat ons regtig in Jesus glo en weet dat ons nie sonder hom vir ewig kan lewe nie. Glo ons dit?— As ons dit glo, sal ons aanhou om elke dag by die Groot Onderwyser te leer, en ons sal doen wat hy sê.

Een goeie manier om by die Groot Onderwyser te leer, is om hierdie boek oor en oor te lees en om na al die prente te kyk en daaroor te dink. Kyk of jy die vrae by hierdie prente kan beantwoord. Lees ook die boek saam met jou ma of pa. As jou ouers nie by jou is nie, kan jy dit saam met ander grootmense en saam met ander kinders lees. Sal dit nie wonderlik wees as jy ander kan help om by die Groot Onderwyser te leer wat hulle moet doen om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe nie?—

Die Bybel sê vir ons: “Die wêreld gaan verby.” Maar dan verduidelik die Bybel hoe ons vir ewig in God se nuwe wêreld kan lewe. Dit sê: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Hoe kan ons dan vir ewig in God se nuwe wêreld lewe?— Ja, deur kennis van Jehovah en sy geliefde Seun, Jesus, in te neem. Maar ons moet ook doen, of toepas, wat ons leer. Mag jou studie van hierdie boek jou help om hierdie dinge te doen.