Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 30

Hulp om ons vrese te bowe te kom

Hulp om ons vrese te bowe te kom

IS DIT vir jou maklik om Jehovah te dien?— Die Groot Onderwyser het nie gesê dat dit maklik sou wees nie. Die aand voordat Jesus doodgemaak is, het hy vir sy apostels gesê: “As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voor dit julle gehaat het.”—Johannes 15:18.

Petrus het gespog dat hy Jesus nooit sou verlaat nie, maar Jesus het gesê dat Petrus daardie selfde nag drie keer sou sê dat hy Hom nie ken nie. En dit is presies wat Petrus gedoen het! (Matteus 26:31-35, 69-75). Hoe kon so iets gebeur?— Dit het gebeur omdat Petrus bang geword het, en die ander apostels het ook.

Weet jy hoekom die apostels bang geword het?— Daar was iets baie belangriks wat hulle nie gedoen het nie. As ons hiervan leer, kan dit ons help om Jehovah te dien, ongeag wat enigiemand vir ons sê of aan ons doen. Maar om te begin, moet ons hersien wat gebeur het die laaste aand wat Jesus saam met sy apostels deurgebring het.

Eers het hulle die Pasga saam gevier. Dit was ’n spesiale maaltyd wat elke jaar gehou is om God se volk daaraan te herinner dat hulle uit slawerny in Egipte verlos is. Toe het Jesus ’n ander spesiale maaltyd met hulle ingestel. Ons sal in ’n latere hoofstuk daaroor praat en verduidelik hoe daardie maaltyd ons help om Jesus te onthou. Ná daardie maaltyd en nadat Jesus sy apostels aangemoedig het, het hy hulle na die tuin van Getsemane geneem. Dit was ’n gunstelingplek waarheen hulle baiekeer gegaan het.

In die tuin het Jesus ’n entjie van die ander af weggegaan om te bid. Hy het ook vir Petrus, Jakobus en Johannes gesê om te bid. Maar hulle het aan die slaap geraak. Jesus het drie keer ’n entjie van hulle af weggegaan om te bid, en hy het drie keer teruggekom en gesien dat Petrus en die ander slaap! (Matteus 26:36-47). Weet jy hoekom hulle moes wakker bly om te bid?— Kom ons praat ’n bietjie hieroor.

Hoekom moes Petrus, Jakobus en Johannes wakker gebly het?

Judas Iskariot was vroeër daardie aand by die Pasga saam met Jesus en die ander apostels. Jy sal dalk onthou dat Judas ’n dief geword het. Nou het hy ’n verraaier geword. Hy het geweet van die plek in die tuin van Getsemane waar Jesus baiekeer saam met sy apostels bymekaargekom het. Judas het nou soldate soontoe gebring om Jesus in hegtenis te neem. Toe hulle daar aankom, het Jesus vir hulle gevra: “Wie soek julle?”

Die soldate het geantwoord: “Jesus.” Jesus was nie bang nie en het hulle geantwoord: “Dit is ek.” Die soldate was so verbaas oor Jesus se moed dat hulle agteruitgetree en op die grond geval het. Toe het Jesus gesê: ‘As dit na my is wat julle soek, laat my apostels gaan.’—Johannes 18:1-9.

Toe die soldate Jesus gryp en hom boei, het die apostels bang geword en weggehardloop. Maar Petrus en Johannes wou uitvind wat gebeur, en daarom het hulle op ’n afstand gevolg. Uiteindelik is Jesus na die huis van Kajafas, die hoëpriester, gebring. Omdat die hoëpriester vir Johannes geken het, het die poortwagter vir hom en Petrus in die binnehof laat ingaan.

Die priesters het alreeds by Kajafas se huis bymekaargekom om ’n hofsaak te hou. Hulle wou Jesus laat doodmaak. Daarom het hulle getuies gebring wat leuens oor hom vertel het. Die mense het Jesus met hulle vuiste geslaan en hom geklap. Terwyl dit alles gebeur het, was Petrus daar naby.

’n Diensmeisie, die poortwagter wat Petrus en Johannes laat ingaan het, het Petrus gesien. “Jy was ook saam met Jesus!” het sy gesê. Maar Petrus het gesê dat hy Jesus nie eens ken nie. Ná ’n rukkie het ’n ander meisie Petrus herken en vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man was saam met Jesus.” Petrus het weer gesê dat hy hom nie ken nie. ’n Rukkie later het ’n groep mense Petrus gesien en vir hom gesê: “Jy is beslis ook een van hulle.” Vir die derde keer het Petrus dit ontken en gesê: “Ek ken die man nie!” Petrus het selfs gesweer dat hy die waarheid praat, en toe het Jesus omgedraai en na hom gekyk.—Matteus 26:57-75; Lukas 22:54-62; Johannes 18:15-27.

Hoekom was Petrus só bang dat hy ’n leuen vertel het en gesê het dat hy Jesus nie ken nie?

Weet jy hoekom Petrus ’n leuen vertel het?— Ja, omdat hy bang was. Maar hoekom was hy bang? Wat moes hy gedoen het om meer moed te hê? Dink ’n bietjie daaraan. Wat het Jesus gedoen om moed te kry?— Hy het tot God gebid, en God het hom gehelp om moed te hê. En onthou, Jesus het drie keer vir Petrus gesê om te bid en wakker te bly en aan te hou waak. Maar wat het gebeur?—

Petrus het elke keer aan die slaap geraak. Hy het nie gebid nie, en hy het nie aangehou waak nie. Daarom was hy verbaas toe Jesus in hegtenis geneem is. Later, gedurende die hofsaak, toe hulle Jesus geslaan het en planne gemaak het om hom dood te maak, het Petrus bang geword. Maar wat het Jesus net ’n paar uur vroeër vir sy apostels gesê om te verwag?— Jesus het vir hulle gesê dat die wêreld hulle ook sou haat net soos dit hom gehaat het.

Hoe kan dieselfde ding met jou gebeur as wat met Petrus gebeur het?

Kom ons dink nou aan iets wat met ons kan gebeur wat dieselfde is as wat met Petrus gebeur het. Sê nou jy is in ’n klaskamer wanneer ander slegte dinge begin sê van mense wat nie die vlag salueer of Kersfees vier nie. Sê nou iemand vra dan vir jou: “Is dit waar dat jy nie die vlag salueer nie?” Of as ander sê: “Ons hoor jy vier nie eens Kersfees nie!” Sal jy bang wees om die waarheid te vertel?— Sal jy in die versoeking kom om ’n leuen te vertel, soos Petrus gedoen het?—

Petrus was agterna baie jammer dat hy gesê het dat hy Jesus nie ken nie. Toe hy besef wat hy gedoen het, het hy buitentoe gegaan en gehuil. Ja, hy het na Jesus teruggekeer (Lukas 22:32). Dink nou ’n bietjie daaraan. Wat kan ons help om nie so bang te word dat ons iets soos Petrus sê nie?— Onthou, Petrus het nie gebid en aangehou waak nie. Wat sal jy dan sê moet ons doen om ’n volgeling van die Groot Onderwyser te wees?—

Ons moet beslis tot Jehovah bid en hom vra om ons te help. Weet jy wat God vir Jesus gedoen het toe hy gebid het?— Hy het ’n engel gestuur om hom te versterk (Lukas 22:43). Kan God se engele ons help?— Die Bybel sê: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle” (Psalm 34:7). Maar as ons wil hê dat God ons moet help, moet ons meer doen as om net te bid. Weet jy wat anders ons moet doen?— Jesus het vir sy volgelinge gesê hulle moet wakker bly en aanhou waak. Hoe sou jy sê kan ons dit doen?—

Ons moet goed luister na wat by ons Christelike vergaderinge gesê word en aandag skenk aan wat ons in die Bybel lees. Maar ons moet ook gereeld tot Jehovah bid en hom vra om ons te help om hom te dien. As ons dit doen, sal ons gehelp word om ons vrese te bowe te kom. Dan sal ons bly wees wanneer ons ’n kans kry om ander van die Groot Onderwyser en sy Vader te vertel.

Hierdie tekste kan ons help om nooit toe te laat dat vrees vir ander mense ons keer om te doen wat reg is nie: Spreuke 29:25; Jeremia 26:12-15, 20-24 en Johannes 12:42, 43.